
Cyril Ramaphosa (Foto: Youtube)
Jan Smuts het reeds lank gelede gesê in Suid-Afrika gebeur die “beste” en die “slegste” nooit nie.
Ek neem aan hy het bedoel ons beweeg altyd in die middel van die pad tussen die “beste” en die “slegste” – die “goeie” sal nooit die “beste” word nie, en die “slegte” sal nooit die “slegste” word nie.
Wel, die “slegste” Nkosazana Dlamini-Zuma het goddank nie ANC-president geword nie. So ook het Cyril Ramaphosa as kapitalis nie die “beste” ANC-president geword nie. Ramaphosa is egter gelukkig die “beste” onder die “slegstes” wat as kandidate vir die ANC-presidentskap gestaan het.
Gevolglik het ekonome en die mark baie goed op die verkiesing van Ramaphosa gereageer. Sy verkiesing kan in die algemeen as ’n “blaaskans” vir die ekonomie gesien word, omdat die rand na die aankondiging met ’n paar sent versterk het tot net onder R12,60 teenoor die dollar. Die rand was byna 11% sterker teenoor die dollar vergeleke met die ooreenstemmende tyd ’n jaar tevore.
Die ANC se Mangaung-resolusies oor “organisatoriese vernuwing” in 2012 is ’n bewys dat dié organisasie bekommerd is oor sy morele verval en vrot beeld. Daar is ’n diepe besef dat die ANC hom van binne moet vernuwe. In die openbare domein is die algemene siening dat die ANC sedert sy Polokwane-kongres in 2007 van die kop af na onder verrot.
Juis daarom is dit logies dat vernuwing van bo moet begin. Ook is Suid-Afrikaners diep bekommerd omdat baie ANC-kaders wat sleutelposisies in die staat en breë samelewing beklee se eties-morele beginsels vloeibaar geword het, wat die ANC en veral die land se geloofwaardigheid onder verdenking plaas.
Zuma, wat deur skandes en skades agtervolg word, is ongetwyfeld die groot sondaar wat eerste moet val as vernuwing van bo moet begin. Nou is hy uit as ANC-president. Die logiese stap sou wees dat hy binne die volgende drie maande as staatshoof uitgeskop moet word. Dit moet gedoen word voordat hy meer skade aan die ekonomie aanrig.
Alle oë is nou op die eerste vergadering van die nuutgekose nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC wat op 10 Januarie in Oos-Londen gehou word.
Die konstitusionele hof se onlangse bevinding dat die parlement versuim het om Zuma aanspreeklik te hou vir die Nkandla-kwessie en ook om behoorlike reëls daar te stel om die verwydering van die president ingevolge art 89 van die Grondwet te reguleer gaan hoog op die agenda wees. Dié kwessie kan as basis dien vir ’n moontlike NUK-besluit om Zuma as staatshoof te herroep.
Dié NUK-vergadering word opgevolg deur die tradisionele 8 Januarie-toespraak wat op 13 Januarie ook in Oos-Londen gelewer word. Ramaphosa sal duidelikheid oor gratis tersiêre onderrig en die onteiening van grond sonder vergoeding moet gee. Waar gaan die land die ekstra R21 miljard vir gratis tersiêre onderrig vir die 2018 akademiese jaar kry? Dit terwyl ons R50 miljard minder belasting in 2017 ingesamel het. Dié situasie gaan oor die volgende paar jaar vererger, wat beteken ons is in groot gevaar. Dit beteken ons begrotingstekort gaan vanjaar tot R51 miljard styg en die moontlikheid bestaan dat ons gaan sukkel om die begrotingstekort onder 60% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) te hou.
Ook moet “gratis” in fyner besonderhede verduidelik word – veral hoe “gratis” gaan werk.
Ramaphosa was as kapitalis nog nooit ’n voorstander van onteiening van grond sonder vergoeding nie, maar hy sit nou met die dilemma omdat die NDZ-faksie dié resolusie as deel van radikale ekonomiese transformasie op hom afgedwing het. Hoe hy dié turksvy gaan verduidelik en bestuur sal interessant wees.
Ramaphosa is nou ANC-leier en ons verwag eties-morele leierskap van hom wat die groei van die ekonomie en werkskepping vooropstel.
Die “slegste” en die “beste” ontwyk ons vir eers.

