Tuin van Digters 2013: Theo Kemp gesels oor die program

  • 0

Die Breytenbach Sentrum op Wellington bied op 14 September die Tuin van Digters aan. Naomi Bruwer het by Theo Kemp uitgevind wat alles by die fees aangebied word.

Die Tuin van Digters bied ’n uitgebreide dagprogram met skrywers, kuns en musiek. Wat is die doel van hierdie skrywersfees by die Breytenbach Sentrum?

Die doel van die fees is om die kollig op digters en die digkuns te laat val. Die idee het ontstaan uit ons digterstuin wat ons so twee jaar terug begin het. In hierdie tuin word gedigte op allerlei maniere uitgebeeld om poësie weer onder die aandag van die “gewone” mens te bring. Ons wil ’n oase vir die digkuns skep, waar mense kan kom asem skep. Die opening van die digterstuin verlede jaar was ’n spontane oorbeweeg na ’n digtersfees in die kleine. Die Breytenbach Sentrum – die grootwordhuis van een van die grootste Afrikaanse digters van ons tyd – is ’n heel gepaste plek om so ’n fees aan te bied.

Verlede jaar is digters gevra om ’n klipgedig te skryf vir die Breytenbach Sentrum se digterstuin. Vanjaar is digters gevra om reaksie te lewer op Marlene van Niekerk se gedig “Mud School”, wat vroeër vanjaar in die Mail & Guardian gepubliseer is. Hoekom het julle op hierdie tema besluit?

Van Niekerk se gedig was so ’n sterk bewys van en herinnering aan die krag van protesgedigte dat ons graag hierdie gesprek wou verder oopkrap en ander digters ook wou uitnooi om saam te protesteer, om miskien daarteen te dig. Die reaksie is oorweldigend, nie net van gevestigde digters nie, maar veral van opkomende digters. Hierdie projek betrek dus soveel meer mense, en “skool” bly ’n onderwerp wat mense – tereg – warm onder die kraag bly maak. Vanjaar is daar dus protes in die tuin van die digters! Maar ons gaan ook ’n boom plant – Hennie Nortje kom spesiaal vanjaar ’n swartbas in ons tuin plant.

Groot nuus by vanjaar se Tuin van Digters is dat Adam Small ingewillig het om op te tree en voor te lees uit sy jongste digbundel. Hoe het dit gebeur dat hy na soveel jare van kluisenaarskap die verhoog betree?

Dit is ’n ongelooflike eer dat Adam Small ingestem het om nie net by die Breytenbach Sentrum voor te lees nie, maar juis in sy grootworddorp. Die deur het verlede jaar al op ’n skrefie oopgemaak vir so ’n deelname, met die bekendstelling van Vir Adam – ’n huldigingsbundel aan Adam Small. Toe het Small se vrou, Rosalie, die ontroerende sessie bygewoon. Ek wou baie graag dat Adam Small vanjaar self kom optree toe ek hoor van sy nuwe bundel, Klawerjas, en Riana Barnard, Small se uitgewer by Tafelberg, het dadelik ingestem om die moontlikhede te ondersoek, en sy het baie moeite gedoen om die sessie te reël.

Die program spog met heelwat sterk programme rondom digters. Watter digbundels word spesifiek bespreek op die program?

Een van die hoogtepunte op die program is die bekendstelling van Wilma Stockenström se nuutste bundel, Hierdie mens. Dit is eweneens ’n voorreg om Stockenström by die Sentrum te kan verwelkom, asook Joan Hambidge wat oor die bundel sal gesels. Verder kom gesels Hennie Nortje oor sy bundel in die skadu van soveel bome, waarmee hy die Eugène Marais-prys gewen het; Clinton du Plessis vertel aan Erns Grundling meer oor sy bundel Rangeer; en Tom Gouws en Willem Pretorius gesels oor die verband tussen woorde en beelde, met die bekendstelling van Gouws se bundel Heuningland. ’n Klompie van die digters wat in Nuwe Stemme 5 opgeneem is, kom gesels ook oor hul gedigte.

Taalportret – Van die Kaap tot die Karoo word deur die Breytenbach Sentrum se dramastudente opgevoer. Wat is die agtergrond van die Breytenbach Sentrum se dramastudente en wat bring hulle met hierdie produksie na die gehoor?

Die Breytenbach Sentrum bied al vir ’n klompie jare drama-opleiding vir veral individue uit kwesbare gemeenskappe – beide kinders en volwassenes. Die aktrise Sophia Passerini bied hierdie kursus met groot vrug aan. Die ontwikkeling van ons groep ywerige studente is merkwaardig – nie net wat betref hul vaardighede as akteurs nie, maar ook in hul menswees. Met hierdie produksie bied ons studente hul eie vars blik op die Afrikaanse digkuns.

Leliebloem se digters beloof ’n interessante program, met vroulike digters van verskeie jeugsentrums op die Kaapse Vlakte. Hoe het hierdie digters bymekaargekom en wat kan van hierdie produksie verwag word?

Die projek om mense te help om deur die digkuns uiting te gee aan hul emosies en omstandighede – juis vir diegene wat die digkuns as ’n onwaarskynlike uitlaatklep sou sien – kom al ’n paar jaar aan. Die narratiewe terapeut Therese Hulme doen uitstekende werk om jongmense se potensiaal te ontsluit en om hul op ongewone maniere te laat kyk na die gewone gegewens van hul (soms gebrekkige) omstandighede. Wat hier uitbroei, is ’n aangrypende mengsel van kreatiwiteit, talent, ontvlugting en die eerlikste gedigte en lirieke.

Gert Vlok Nel en Hemelbesem het programme saam met digters. Wat kan die gehoor verwag van hierdie kombinasie van musiek en digkuns?

Ons kombineer die lekker aweregse rymklets-klanke van Hemelbesem met die voorlesing van ons skryfskool se deelnemers. Laasgenoemde groep kom uit benadeelde gemeenskappe en word gelei deur die baie bekwame Diana Ferrus. Dit sal hul eerste voorlesing wees voor ’n gehoor. Ons sluit die digtersprogram op ’n musikale hoogtepunt af met die klanke van Gert Vlok Nel en fokus veral op sy nuutste album, Onherroeplik. Saam met hom op die verhoog is Laurinda Hofmeyr, Nicole Holm, Schalk Joubert, Vernon Swart en Albert Frost. Digters soos Loftus Marais, Carina Stander, Diana Ferrus, Clinton du Plessis, Marius Crous en Martina Klopper sal ook van hul gedigte voorlees.

Wat is op die program vir die “visuele kuns”-liefhebber?

Die kurator van die Breytenbach-galery, ook onder ons dak, het verskeie groot kunstenaars, soos Willie Bester, Hanneke Benade, Ingrid Winterbach en Hardy Botha, gevra om spesiaal vir die Tuin van Digters werke te skep wat hul gunsteling-gedigte uitbeeld. Die beloof om ’n absolute lus vir die oog te wees. Die werke is te koop.

Klik hier vir die volledige program
Bespreek by 021-8732786, info@breytenbachsentrum.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top