Die Pretoriaanse sanger en musikant Tuin is vinnig ’n magdom aanhangers aan die wen met haar passievolle aanslag en vertonings. Sy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Tuin. Hoe's dinge?
Hi, dinge is soos wat dinge sal wees, behalwe as mens dit met ’n knippie sout of ’n shot Jägermeister afsluk.
Geluk met jou heerlike gig by Oppikoppi se Skellum-verhoog! Sover ek verstaan was dit jou eerste optrede by dié fees (jy is immers relatief nuut op die toneel). Hoe was die ervaring vir jou – die fees, die gehoor, die reaksie? Hoe belangrik is feeste soos 'Koppi en als wat daar gebeur vir Suid-Afrikaanse musiek en hoe mense daaroor dink?
Baie dankie. Ja, dit was my eerste optrede en die eerste keer in my lewe wat ek Oppikoppi toe gegaan het ... Maar nou gaan ek dit nooit weer mis nie. Dis freakin’ amazing! Die fees het my laat voel of ek vir vier dae in die perfekte wêreld ingestap het. Almal smile, groet mekaar en kuier oor en weer. Daar is geen labels nie, almal is welkom en niemand word snaaks aangekyk omdat hulle ’n bietjie anders lyk nie. Die fees is baie goed georganiseer, van die kosstalletjies tot die band line-up, hoe die backstage gerun word ... ek kan aangaan.
My set was ongelooflik lekker vir my! Toe ons sound check, toe is daar omtrent niemand nie, toe dog ek: Okay cool, dit is my eerste 'Koppi, so ek kan seker nie ’n groot crowd verwag nie ... hehehehe. Toe ons opstap om die show te begin, toe is daar moer baie mense. Die crowd was so-o-o cool, hulle het saamgesing (selfs met my eie liedjies). Vir ’n nuwe kunstenaar soos ek is dit ’n baie cool oomblik om te beleef van die stage af. Van die mense het na die tyd na my toe gekom en gesê ek het hulle laat huil en lag op dieselfde tyd en een dude het my gevra om met hom te trou, hehehehe... So dis altyd fun.
Feeste soos Oppikoppi is uiters belangrik vir Suid-Afrikaanse musiek. Kunstenaars wat by 'Koppi optree is mense wat nog self hulle songs skryf, wat nog sing sonder dat daar ’n 50% vocal track saam met jou sing sodat jy beter klink op stage. Egte musiek. 'Koppi skep ’n geleentheid en ’n platform vir jong kunstenaars en help hulle in hulle journey. Ek is baie dankbaar vir 'Koppi en ek hoop hulle besef ook watse amazing werk hulle vir die land (jonk en oud) doen.
Jy het ’n geweldig indrukwekkende, meesleurende stem aan jou. Hoe het jy dié talent tot dusver ontwikkel en laat groei? Wanneer het jy besef jy wil jou stem op hierdie manier inspan – met die sielvolle rock ’n roll tunes wat jy pleeg? Watter groepe of sangers beskou jy as sterk invloede in hierdie verband, en hoe sal jy daai talent nog wil laat groei of verander in die toekoms?
Hehe, ek moes nou eers gaan opsoek wat beteken “meesleurend”! Maar dankie vir die kompliment, man, ek bloos sommer. Ek droom al my hele lewe daarvan om ’n musikant te word. Toe ek in graad 1 gevra is wat ek wil word as ek eendag groot is, was my antwoord: "Ek wil ’n Roxette word." Ek was wel verskriklik skaam om voor mense te sing toe ek jonger was. Ek het byvoorbeeld songs geskryf in my kamer toe ek nog op skool was, maar dan het ek handdoeke onder by my deur gepak sodat iemand my tog net nie hoor nie. Een van my baie goeie vriendinne, Lizani Smith, was ’n groot invloed en rede hoekom ek voor mense begin sing het. Sy het my baie gehelp met die mental oorlog wat mens met jouself het voor jy op ’n stage klim en het my toe uiteindelik oorreed om ’n show saam haar te doen by Karoo Kafee. Ek was so gespanne met die show dat ek na die tyd in die badkamer gaan huil het. Ek het daarna gaan sit en vir myself gevra of gaan ek toelaat dat my vrees my passie oorwin en ek is vandag baie bly dat ek daai besluit gemaak het om vrees onder sy gat te skop! Mens lewe net een keer, nè.
Groot invloede vir my is vir seker Karen Zoid – ek droom om nog daarvan om eendag ’n verhoog met haar te deel, dit sal vir seker ’n bucket list-oomblik vir my wees – what a woman! Anouk is ook ’n sterk invloed. En dan iemand wat ek onlangs ontdek het en ongelooflik baie respek en tyd voor het (as kunstenaar en as ’n vriend), is Kobus van die Black Cat Bones.
Dit was opmerklik dat, hoewel jou oorspronklike songs baie goed afgegaan het by die 'Koppi-skare, jy heelwat covers ingespan het tydens die gig. Was dit ’n geval van die repertoire wat nog opgebou word, of wou jy bloot vir die mense iets uitkenbaars gee om mee te begin? Is die kwessie van selfvertroue in jou eie musiek, as ’n jong kunstenaar wat vinnig opgang maak, iets wat oorkom moet word? Hoe verander dit soos jy aangaan en meer gig en ook meer skryf?
Ek sal baie graag ’n show wil doen waar ek net my eie songs doen, maar omdat ek nog baie nuut op die scene is, dink ek dis goed om covers en originals te meng. Die crowd love dit om songs te hoor wat hulle al goed ken. Mense kan dalk met my verskil, maar ek het al baie shows gekyk waar bands net hulle originals doen wat die crowd nog nie so goed ken nie en dan hier in die middel verloor hulle die mense. Ek sê altyd: ek maak musiek vir die mense, nie vir myself nie! Maar kom ons hou duim vas daar kom ’n dag waar ek ’n show kan doen met net originals en almal kan saamsing en deel hê in my hart.
Gepraat van die liedskryf: daar is nog slegs een snit van jou aanlyn beskikbaar, genaamd "November" – ’n baie imponerende ballade. Hoe werk die liedjieskryfproses by jou, vandat die eerste woord en akkoord neergeskryf is totdat jy gereed is om dit op ’n verhoog te gooi? Ek onthou jy't by 'Koppi iets genoem van "chick songs" en "ek is ’n chick, so ek skryf chick songs". Wat presies bedoel jy hiermee, en wat dink jy is die geleenthede – en ook beperkings – wat so ’n benadering meebring?
Daar is nog net een song op, want ek het nog nie die kans gehad om behoorlik my liedjies op te neem nie. Daar is nou wel ’n paar opsies in die pyplyn, maar ek sal julle update met die verwikkelinge.
Ek het nie regtig ’n proses nie, dit gebeur altyd anders. "November" het ek verlede jaar November geskryf. Ek het deur ’n baie bad break-up gegaan en kon glad nie met dit deal nie, het toe myself stukkend gedrink vir twee weke aaneen, die een oggend wakker geword, die halwe glas vodka langs my bed gedown, my kitaar gekry en toe "November" geskryf in 20 minute. Elke keer wat ek hom sing by ’n show, genees my hart ’n bietjie meer. Ek is seker baie bevoorreg dat my musiek my gesond maak.
Ek skryf ook nooit my songs neer nie – om een of ander rede onthou ek hulle net altyd. Nie al my songs is chick songs nie, maar die een waarvan ek gepraat het by 'Koppi was "You're hot" (wat uit ’n chick se perspektief uit geskryf was), maar nee, ek dink mens moet oor alles kan skryf en nie jouself limit nie.
Dit lyk ook of jy dit baie geniet om met ander kunstenaars saam te werk. By 'Koppi was jou backing band heerlik en natuurlik was die collabs met Kobus van Black Cat Bones besonders. Ook lyk dit as mens deur Tuin se Facebook-blad gaan of jy met heelwat ander musikante wat verskeie instrumente bespeel saamwerk. Hoe belangrik is hierdie samewerkings vir jou in terme van wat ’n mens leer by mekaar en hoe dit ook jou eie musiek beïnvloed op die ou end? Is daar ander kunstenaars saam met wie jy binnekort graag sal wil werk, of spesifieke instrumente wat jy in jou agterkop hoor wanneer jy ’n liedjie skep of uitvoer?
Nee, kyk, ek is stout vir ’n collab! Ek voel ons almal hoor iets anders en dit is vir my verskriklik lekker om in ander kunstenaars se koppe in te klim en te hoor wat hulle hoor en te ervaar wat hulle ervaar. Ek leer ook geweldig baie by almal saam met wie ek werk. Ek dink jy praat van Alouise (sy het vir my bass gespeel by ‘Koppi) ... as jy praat van die verskeie instrumente, hierdie girl is net ’n mal goeie musikant, sy kan omtrent enige instrument speel en is so nederig soos wat jy nog nooit gesien het nie. Ek geniet dit verskriklik baie om saam met haar te speel. Sy join my op stage by die White Mountain Festival in September, so kom check haar uit, hehehe. En dan, soos ek gesê het, ek sal saam met tannie Karen wil werk, maar sjo, daar is baie ... Hier's ’n paar: Johnathan Peyper, Jesse Clegg, Pedro Barbosa, Bittereinder, Ann Jangle, Hoot n Anny, Francois van Coke, Dan Platansky, Mauritz Lotz ... ek kan nog aan en aan en aan gaan.
Die Afrikaanse – en Suid-Afrikaanse – musiektoneel is ’n ander soort dier, en moeilik vir enige jong kunstenaar om te betree. Wat is jou ervaring van die toneel en die bedryf hierso tot dusver? Wat werk daarvan, en wat werk glad nie? Hoe beskou jy jou rol in hierdie prentjie, wat betref ooglopend niekommersieel of ooglopend kommersieel? Die grense van hierdie “kategorieë” is genadiglik aan die vervaag ... of is dit?
Hy is ’n ander soort dier, maar ek ook! Nee, grappie – hy is ’n tawwe koekie. Dit het my vier jaar gevat om te kom tot waar ek nou is en glo my, ek wou ’n hele paar keer net opgee en ’n juffrou word of iets. (Ek is nou baie bly ek het nie.) Kyk, ek is seker ander mense hou van kommersiële musiek, en hulle mag, want smaak verskil. Ek is net nie een van daai mense nie. Ek glo nog in rock ’n roll! Jy as musikant gaan net vir jouself mooi moet uitklaar voor jy begin met jou loopbaan: Maak jy musiek om famous en ryk te raak? Of maak jy musiek omdat jy lief is vir musiek? Nou, ek sê nie jy kan nie geld maak en famous raak as jy nie kommersiële musiek maak nie, die paadjie is dalk net ’n bietjie anders. Die industrie is nie perfek nie en ek wens ek kon baie goed verander (en verban, hehehe), maar soos wat ek nou hier sit, voel dit of al wat ek nou kan doen is om goeie musiek te maak. (Dis bietjie van ’n hippie antwoord, sorry Henry.)
Tuin is wel relatief vars op die toneel, maar jy't al ’n hele paar optredes – nogal divers in die aard daarvan – agter die rug. Watter soort gigs is vir jou die lekkerste om te doen op die oomblik? Enige spesifieke hoogtepunte tot dusver, of enige vreemde agter-die-skerms gebeure wat jou laat wonder het of dit regtig gebeur het? Enige vrot ervarings wat jy eintlik wil vergeet?
Ja, hulle verskil nogals baie, maar ek verkies hulle so. Elke crowd is anders, maw elke optrede van my kant af is anders, want ek trek my energie by wie ook al voor my sit of staan of omval. Maar ek moet sê, die feeste is vir seker die lekkerste. Strab was ’n hoogtepunt vir my, en dan natuurlik 'Koppi ook. Ek huil nogals maklik, so met sulke crowds moet ek altyd die trane terughou. Dis net iets anders om te sien hoe mense inkoop in jou passie en jou so praise vir dit. Ek wens alle beroepe kon so bevoorreg soos ons s’n wees – ek meen, niemand gaan vir ’n goeie dokter vra of hulle asseblief sy handtekening en ’n foto saam met hom kan kry en dan skree en uitfreak soos wat hulle by sy spreekkamer uithardloop nie.
Een van die snaaksste goed wat al gebeur het, is dat ek al geburp het terwyl ek gesing het, ek het toe net snaaks vir die sound guy gekyk (tipies musikant, always blame it on the sound guy) en toe gehoop die mense dink daar was iets fout met die klank. Giegiegie.
Een van die slegste goed was by Strab – ek het mangelontsteking gehad, maar erg, jou meer senior tipe een. Die dag voor ons set het ek nog glad nie ’n stem gehad nie, but the show must go on, so toe tel ek maar my handsak op en toe ons met ons eerste song begin en ek slat so een groot noot, toe voel dit letterlik of my keel skeur. Ek kon toe nie enige iets vir die crowd wys nie, want ek wou gehad het hulle moet mos nou die show geniet. So ja, ek het deurgedruk en klaar gemaak en ek is baie bly, want dit was toe een van die coolste shows van my lewe. O, en dan ook natuurlik nog ’n hoogtepunt was om met Kobus (Black Cat Bones) ’n verhoog te kon deel.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Tuin, in so ver jy dit kan beheer?
In die nabye toekoms wil ek klaar swot (ek swot musiek) en sien uit vir nog baie feeste, en hopelik volgende jaar ’n behoorlike album uitbring. Vir die verre toekoms, wie weet – al wat ek weet, is ek is bang vir niks en geniet elke tree.
Wat is die sin van die lewe?
Die sin van de lewe is om ’n pakkie Rolo’s te koop en die laaste een te gee vir die persoon vir wie jy die liefste is.




