
...
Die Britte het gedoen waarvoor hulle as meesters bekend is: seremonies en militêre parades met oudkoloniale presisie uitgevoer om die Trump-egpaar te beïndruk.
...
Teen die agtergrond van woelinge op die tuisfront in die VSA, nimmereindigende bewerings oor sy vriendskap met die veroordeelde sekspes Jeffrey Epstein, die sluipmoord op Charlie Kirk, Rusland se knaende aanvalle op Oekraïne, en Israel se aggressie in Gaza, het Donald Trump twee dae in die VK as staatsgas van koning Charles III en koningin Camilla deurgebring. Die Britte het gedoen waarvoor hulle as meesters bekend is: seremonies en militêre parades met oudkoloniale presisie uitgevoer om die Trump-egpaar te beïndruk. Uit die optrede en lyftaal van president Trump was dit duidelik dat hierdie staatsbesoek, sy tweede aan Brittanje, vir hom ’n hoogtepunt was en die erkenning was waarna hy so hartstogtelik gesmag het. Donald Trump is behoorlik deur die Britte op die hande gedra.
Die gesegde lui dat daar geen gratis etes is nie, en met hierdie staatsbesoek was dit ook die geval. Die eerste slagoffer was die Britse ambassadeur in Washington, DC, Peter Mandelson, wat in die week voor Trump se besoek summier deur premier Keir Starmer afgedank is vanweë sy beweerde betrokkenheid by Jeffrey Epstein. Mendelson kry allerweë krediet vir die idee om Donald Trump op ’n tweede staatsbesoek te nooi omdat dit aan Brittanje die geleentheid sou gee om Trump in te bind in van die grootste uitdagings in die internasionale politiek. Betrokkenheid by Jeffrey Epstein se bedrywighede het ook ’n einde gebring aan prins Andrew se rol as werkende lid van die koninklike familie. Met goeie beplanning en tipiese Britse dissipline is die Epstein-kwessie buite beeld van Trump gehou gedurende die twee dae in Brittanje.
Dag een, 17 September 2025, het aan koning Charles behoort. President Trump en sy vrou, Melania, is met Britse prag en praal bederf. Na verskeie parades en besoeke is die presidentspaar by ’n staatsbanket by die Windsor-kasteel onthaal. Trump was maar die vierde Amerikaanse president wat die voorreg kon geniet om die kasteel te besoek, maar die eerste wat met ’n koninklike staatsbanket daar onthaal is. Koning Charles se kort toespraak was klassiek Brits in die mate waarin belangrike vraagstukke met onderbeklemtoning hanteer is. Hy het aan Trump al die erkenning gegee vir sy rol in wêreldgebeure, maar dit was duidelik dat die Koning twee kwessies met groot erns bejeën het, naamlik die voortslepende konflik in Oekraïne en die uitdagings wat klimaatsverandering vir die wêreld inhou.
In sy toespraak het Trump voortgebou op die spesiale verhouding tussen die VK en die VSA en daarop gewys dat die eerste ooreenkoms in terme van sy tariefbenadering met Brittanje geskied het. Trump kon hom egter nie verhelp om die historiese belang van sy tweede staatsbesoek te beklemtoon nie, veral omdat dit die eerste staatsbanket van ’n Amerikaanse president aan Windsor-kasteel was. Hy was uitgesproke ingenome met die ontvangs wat hy geniet en het klem op die buitengewone verhouding met Brittanje gelê.
Dag twee het aan premier Keir Starmer behoort en het plaasgevind in die landelike premierswoning Chequers, geleë in die Chiltern-heuwels van Buckinghamshire in Engeland. Intense samesprekings het die hele dag plaasgevind en is afgesluit met ’n lang perskonferensie waar Starmer sy bes probeer het om beheer oor die konferensie te behou, wetende dat Trump baie maklik sulke geleenthede oorheers met sy natuurlike aanvoeling vir die media. ’n Paar noemenswaardige sake is op die perskonferensie hanteer, maar ’n gedissiplineerde kontingent joernaliste het vrae oor ambassadeur Mendelson of Jeffrey Epstein vermy, terwyl Charlie Kirk wel ter sprake gekom het.
- In ’n verandering van sy normale houding het Trump vir Wladimir Poetin die skuld gegee vir die oorlog in Oekraïne en weer eens sy voorganger, Joe Biden, gekritiseer omdat die oorlog in sy termyn as president begin het. Dit wil voorkom asof geen strenger maatreëls teen Rusland ingestel gaan word nie, maar eerder ’n fokus op sekondêre sanksies teen Indië en China wat Russiese olie koop.
- Starmer en Trump was beide versigtig oor Israel en Gaza, maar dit is duidelik dat daar verskille bestaan oor hoe die saak hanteer moet word. Waaroor die twee wel saamgestem het, was dat Hamas nie meer die tweestaatoplossing ondersteun nie en dat daar na ander oplossings gesoek moet word.
- Amerikaanse tegnologiemaatskappye gaan groot beleggings in Brittanje maak, maar Starmer wou nie kopgee oor sy Online Safety Act nie, omdat dit deel van Brittanje se verbintenis tot vryheid van spraak is.
- Trump het die Britte geloof vir hulle verhoogde verdedigingsbesteding om 5% van bruto nasionale produk aan verdediging en Navo te spandeer.
- Dit is duidelik dat min vordering gemaak is wat tariewe betref, veral bestraffende Amerikaanse tariewe op Britse staalprodukte.
- In ’n verrassende skuif het Trump aangekondig dat die VSA sy massiewe lughawekompleks by Bagram in Afganistan wil terugneem. Hy het op die perskonferensie erken dat dit moeilik gaan wees, maar dat Afganistan sekere hulp uit die VSA benodig en dat die VSA die lughawekompleks wil benut omdat dit ’n militêr strategiese voordeel met betrekking tot China inhou.
Hierdie tweede staatsbesoek van Donald Trump aan Brittanje kan as ’n sukses beskou word, en die erkenning wat die Britte aan Trump gegee het, het dit moontlik gemaak vir Trump om sy houding teenoor Wladimir Poetin te verander. Dit is duidelik dat Poetin vir Trump aan ’n diplomatieke lyntjie hou en voortgaan met sy deurlopende aanvalle op ’n reeks teikens in Oekraïne, en self Pole bestook het, in die week voor die Trump-besoek.
Terug in die VSA sal die komende week of twee nuwe uitdagings aan Trump stel, veral met die VN se Algemene Vergadering se jaarlikse sitting en die verwagting dat beide Groot-Brittanje en Frankryk ’n Palestynse staat sal erken.

