Tropenmuseum word bedreig (Aflewering 2)

  • 0


Straatbeeld van die Tropenmuseum aan die Mauritskade van Amsterdam

Die afgelope tyd het dit behoorlik gegons op Nederlandse kultuurgebied. Staatsekretaris Ben Knapen het op 12 Oktober die Koninklijk Instituut voor de Tropen (KIT) in kennis gestel dat hulle jaarlikse subsidie van 20 miljoen euro vanaf Januarie 2013 gestop sal word. Al vyf bene van die KIT word daardeur geraak: die Tropenmuseum, Tropentheater, Bibliotheek, Medische Laboratorium en Advieswerk voor Beleidsvorming: Ontwikkelingshulp. Vir Jan Donner, voorsitter van die Raad van Bestuur, het hierdie aankondiging soos ’n bliksemslag uit die bloue herfshemel gekom.

Vir Afrikaanse skrywers, digters en verhoogkunstenaars is dit belangrik wat met die Tropentheater in Amsterdam gebeur. Dit is hiér, aan die Mauritskade, waar die eerste Afrikaanse fees ongeveer vier maande gelede plaasgevind het. Dit was so lekker dat almal wou hê dat hierdie fees herhaal moet word.

Aanvanklik sou die Nederlandse regering se subsidiekraantjie die einde van hierdie jaar toegedraai word, maar dit is uitgestel. Knapen (die minister vir ontwikkelingsamewerking) het gevrees dat dit tot probleme sou lei. En tereg. Deur die datum vanaf einde 2011 na begin 2013 te verskuif, hoop die kabinet waarskynlik om aan artikel 4:51 van die Algemene Wet Bestuursreg te voldoen. Daarvolgens moet daar ’n redelike termyn sit tussen ’n aankondiging en ’n inwerkingstelling van subsidiebeëindiging. Direk na die aankondiging het Donner al te kenne gegee dat hy regstappe teen die regering se voorgenome besparingsmaatreëls oorweeg. Die vertrouensverhouding van 102 jaar tussen die KIT en die regering is ernstig aangetas.

Maar behalwe wetgewing vrees politici deesdae ook hulle kiesers. Knapen sê byvoorbeeld in NRC Handelsblad van 13 Oktober: “[A]ls veel mensen waarde hechten aan het bestaan van het Tropenmuseum, dan lijkt me het voortbestaan gegarandeerd” (bl 5). Dit is iets wat hy nie kan doen nie: waarborge gee. Nederlandse én Europese politici moet spaar; die euro red; toesig hou; en hulle veral nie laat verlei deur kuns en kultuur nie.

Dit is reeds algemene kennis dat die huidige politieke klimaat weinig ruimte laat vir kultuur. In die geval van die KIT is dit die museum, die teater en die biblioteek wat hulle subsidies gaan verloor. Met nugter Nederlandse pragmatisme kondig Knapen aan dat daar tog ses miljoen uit die subsidie van 20 miljoen beskikbaar sal wees: vir navorsing oor tropiese siektes en vir die KIT se beleidsadvies vir ontwikkelingshulp. Beleid oor ontwikkelingshulp het net so ’n taai tameletjie vir hierdie regering geword soos kuns en kultuur. Eintlik wil hulle nie hulle vingers daaraan brand nie.

Die majestuese portaal van die Tropentheater met pilare, vloer en trappe in verskillende kleure marmer 

Met die slagspreuk “Benin gaat voor Amsterdam” het Knapen hom tot die publiek gerig. Natuurlik klink dit goed en reg: hulp aan ’n arm Afrikaland bó ondersteuning aan die Tropenmuseum. Maar die slagspreuk is vals, want elkeen weet dat hulp sonder toesig en kontrole aan enige ontwikkelingsland is soos om geld in ’n bodemlose put af te gooi. Daar kom nie eers ’n eggo uit nie. Daarteenoor wys Donner in ’n onderhoud met Mieke Olde Engberink in Vakblad over Ontwikkelingsamenwerking op die Tropenmuseum se bydrae aan ’n reisende voorligtingstentoonstelling oor MIV/Vigs in talle Afrikalande, ook in Benin.

Subsidie vir die KIT is in die verlede heen en weer geskuif tussen die Ministerie van Onderwijs, Cultuur en Wetenschap en die Ministerie van Ontwikkelingsamenwerking. Dit kan seker weer gebeur. Elke ministerie het sy eie potjie met subsidiegeld wat hy kan uitdeel. Tussen wie wat wanneer van wie af kan kry, wie gepaai en wie geboelie kan word, voer die Nederlandse kabinet toenemend ’n ongeloofwaardige eierdans vir hulle kiesers uit.

Die Tropenmuseum word gesien as ’n hibriede museum. Dáár kon Nederlanders die eerste Afrikaanse Fees in Amsterdam die afgelope somer geniet. Dáár kan Nederlanders herinner word aan hulle koloniale geskiedenis. (Maar miskien is dit iets wat hulle liewers wil vergeet?) Dáár kan Nederlanders in die afgelope jare kontemporêre kuns uit ontwikkelingslande leer waardeer. Dáár kan Nederlanders saam verder bou aan ’n kennisinfrastruktuur, waarop hulle reeds baie trots is. Dieselfde kenniskultuur is miskien die belangrikste aanknopingspunt vir gesprekke tussen Donner en die kabinet oor subsidies in die toekoms.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top