
Foto’s van naaimasjien en outydse klere: Pexels.com
My eerstejaarkamermaat was Trinnie. Dit was nommerpas; ons was albei koddig. Sy het van ’n plaas naby Standerton gekom en die wydsheid van die vlaktes, heuwels en plato’s was in haar rustige katoë. Sy het uitgestaan – sy was mollig, met aknee en ’n perm en sy het tuisgemaakte klere gedra. Ek het agtergekom hoe raar sy is toe sy ná ’n week van ontgroening vir my sê sy is nogal bekommerd, want sy het ’n kilogram gewig verloor.
Later het sy ’n boek aangeskaf met die titel Kul die kalorieë in Suidelike Afrika en net van slaai geleef. Sy het uiteindelik in ’n modieuse swaan verander, maar dit was ’n paar jaar later. Toe het sy Trinni geword en ’n bietjie soos Nastassja Kinski gelyk.
Haar familie behoort aan ’n rare sekte wat net in daardie deel van die wêreld voorkom, het mense wat saam met haar op skool was my vertel. Verwant aan Blourokke, Amish-agtig.
Ja, daar was ’n anderwêreldsheid omtrent haar. Sy was konstitusioneel onkapabel om te jok en het altyd ’n ding by die naam genoem, in mooi idiomatiese Afrikaans sonder vloekwoorde. Toe ek haar voorstel aan my nuwe vriendin Thea die kampus-ster, en ’n persoon wat almal wou ken, en dié merk op, soos mense beleefdheidshalwe maak, dat Trinni eendag by haar moet kom tee drink, antwoord Trinni met haar wye oë en rustige, nadruklike stem: "Ek kan niks belowe nie."
Ek het op varsity dik geword en vir myself begin dink, dus het ek en my ma konstant koppe gestamp. Wanneer ek by my ouerhuis aankom, het sy my onmiddellik op ’n streng dieet gesit en aanhou uitvra oor kêrels. En gewaarsku teen vroue. Dus het ek nie juis meer "huis" toe gegaan nie. Vakansies is ek plase toe.
Trinni-hulle se plaas was ’n wonderwêreld, soos iets uit ’n meer optimistiese era, iets uit ’n ou Reader’s Digest wat behoue gebly het: goudkleurig, heilsaam en stralend. Idealisties en saggroen soos Anne of Green Gables of Alie van Rivierplaas se kinderdae. Miskien, het ek gedink, is dit nooit te laat om gelukkige kinderjare te hê nie.
Hul kliphuis het in ’n parkagtige tuin op ’n platorand gestaan en ver oor die afgrond en vlakte uitgekyk. Soms het ’n miskombers die hele uitsig bedek. Skuins links van die opstal was die skuur, wat ewe skilderagtig was. Dit was bibberend koud in die winter en die vuur het heeldag geknetter. By die kaggel of om die eetkamertafel het ons stories vertel.
Haar pa is in die geloof gebore. Dit het beteken dat hy nie mog skoolgaan nie – ’n goewernante het hom en sy suster tuis onderrig. Maar hy was vlymskerp en hy wou rugby speel. Hy het dus aanhou neul tot hy toegelaat is om skool toe te gaan. Daar het hy in alle opsigte uitgeblink.
Ná skool wou hy gaan swot, maar dit was buite die kwessie – aan die wêreld gaan hulle hom nie afstaan nie; hy het nou genoeg geleerdheid en moet kom boer. Daarom was hy die Desember ná sy matriekjaar so neerslagtig dat hy glad nie uit die bed opgestaan het nie, tot sy ma uiteindelik sug: "Orgie moet maar gaan leer." Hy het. En ’n vrou buite die geloof ontmoet en met haar getrou. Sy het hom lewenslank bekoor en geamuseer.
Trinni se ma was blond met ligblou oë, regop, streng en deugsaam, maar lekker eksentriek. Sy was eintlik ’n kunstenaar met haar kop in die wolke. Sy was nuuskierig oor alles onder die son en lief vir stories, wat haar geluidloos en skuddend laat lag het, met ’n gepynigde uitdrukking op haar gesig.
Op daardie plaas, het dit vir my gevoel, word ’n mens aanvaar nes jy is, en waardeer. Soos Graceland. Trinni het gesê haar kinderjare was so gelukkig dat dit haar geensins voorberei het op die lewe nie. ’n Brokstuk van daardie dae het in my neerslag gevind; iets outyds, heilsaam en dromerig.
Hulle was eens welgesteld, maar ná jare se droogte en Volkskas se onversetlikheid het hulle byna alles verloor. Excelsior is nou ’n gasteplaas, bedryf deur Trinni se broer, en die lieflike skuur is ’n venue vir troues en funksies.
Wat het van Trinni geword? Sy het grade ingeryg. Eers BA met kommunikasiekunde, toe modeontwerp en later skone kunste. Sy het geskilder en uitgestal. Klere gemaak. Sy was bestuurder/ontwerper in ’n klerefabriek. Maar die lewe maak haar dikwels moeg. Sy het eenkeer gesê sy dink sy het reeds in die baarmoeder ’n hele leeftyd se energie opgebruik net om vas te klou, sy het eenvoudig nie krag vir die lewe nie. Sy was afwisselend kluisenaaragtig en hunkerend na geselskap.
Tussen werke het sy vir tye op die plaas gaan bly en pottebakkery gedoen. Sy het eenkeer ’n opdrag gekry om vir ’n bruilof honderd kruikies te maak met die woord "MAMPOER" daarop. Toe ons hulle uit die pottebakkersoond haal, het die strepie van die "R" nie uitgekom nie, en staan daar op honderd kruikies: "MAMPOEP".
Toe ek nog getroud was en in Alberton gewoon het, het sy soms kom kuier en ongeveer ’n maand gebly, op my aandrang en tot my eksman se frustrasie. Dan gesels ek en sy nagte lank om die kombuistafel terwyl hy kla oor ons luide gelag, immer bekommerd dat ons eintlik oor hom lag. Ná die egskeiding het hy vir my gesê: "Ag, eintlik was ek maar met Trinni ook getroud."
Sy het ’n unieke manier om ’n ding te sê. Nadat ek van hom weg is, het sy gesê: "Moenie dat iemand jou enigiets anders wysmaak nie – jy is onskuldig. Dit was geensins jou skuld nie. Moeder Teresa sou hom met ’n mes doodgesteek het."
Sy het ’n droë humorsin. Toe ons jonk was, het ooreenkomste tussen sekere mense en diere haar altyd opgeval, soos dit ’n plaaskind betaam. "Meerkat," sou sy uit die hoek van haar mond mompel oor een van ons klasmaats.
Ons het uitmekaargedryf toe sy (redelik laat) getroud is. Haar man is ouer, ’n baie godsdienstige, familie- en vriendevaste Griek en hulle word naweke deur sy uitgebreide kring besig gehou. Daar is altyd iemand wat verjaar of ’n naamdag of doop of iets vier.
Boonop het ek uit die kas gekom. So iets sou Trinni, met ’n kop wyd soos die Heer se genade, nooit ’n bloue duit skeel nie. Maar die spyker in die doodskis van die vriendskap was toe ons ná ’n lang afwesigheid gaan koffie drink en ek vra of sy en haar man by my en my partner sal kom eet. Haar antwoord: "Ek spaar hom maar dié dinge. Hy kan nie so iets hanteer nie."
Maar Trinni het my gevorm, met haar reguit blik, taktlose eerlikheid en fyn humorsin. En haar fabelagtige kinderdae, waarvan ek vir my ’n paar gesteel het.


Kommentaar
Hel, dis lekker. Jy kan 'n ding beskryf.