Trevor Manuel het deel aan "die byna drie dekades van ANC-bewind wat vermors is"

  • 5

Jason Lloyd (foto: verskaf)

Oudminister Trevor Manuel het homself sedert hy die politieke landskap as politikus, parlementslid en kabinetsminister na die 2014-verkiesing verlaat het, deurlopend en suksesvol omskep in ʼn sosiale stem van rede wat nie skroom om sy geliefde ANC en die regering vir hul vergrype in die openbaar te kritiseer nie. Met sy kritiek – wat dikwels afgerond is met konstruktiewe advies oor hoe om ons landsprobleme aan te pak en op te los – het hy tot ʼn groot mate weer sy aktivistiese stem teruggekry wat hy van 1981 ingespan het om die apartheidsregering aan te vat.

Manuel het in 1981 op die openbare toneel as algemene sekretaris van die destydse Cape Areas Housing Action Committee verskyn. Met die stigting van die United Democratic Front (UDF) in 1983 het hy op dié organisasie se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gedien.

Tussen 1985 en 1989 is Manuel as anti-apartheidsaktivis onder meer deur die polisie verban en herhaaldelik in die tronk gestop. Na die 1994-verkiesing het hy eers as minister van handel en nywerheid en van 1996 as minister van finansies vir 13 jaar onder oudpresidente Nelson Mandela en Thabo Mbeki gedien. Tussen 2009 en 2014 het hy as minister in die presidensie verantwoordelik vir die nasionale beplanningskommissie in oudpres Jacob Zuma se kabinet gedien.

In 2011 het Manuel, toe nog beplanningsminister en ANC-NUK-lid, die nuus gehaal toe hy in ʼn openbare brief vir Jimmy “Mzwanele” Manyi skerp gekritiseer het en hom onder meer beskuldig het van “the worst order of racism”.

Dit het gevolg nadat Manyi as direkteur-generaal van arbeid beledigende en afbrekende aanmerkings oor bruin mense gemaak het. Manyi, deesdae beleidshoof van die African Transformation Movement (ATM) en ʼn voormalige uitvoerende hoof van die regering se kommunikasiediens (GCIS), het onder meer gesê daar is ʼn oorkonsentrasie van bruin mense in die Wes-Kaap, daarom moet hulle landwyd uitsprei vir beter werkgeleenthede.

In Mei vanjaar het Manuel in ʼn meningstuk in die Sondagkoerant City Press die regering skerp gekritiseer oor die hardhandige handhawing van hul drakoniese inperkingsreëls.

Dit het gevolg op die weermag se wreedagtige moord op Collins Khoza (40) van Alexandria buite Johannesburg omdat hy op sy werf gedrink het (wat heel wettig was). Manuel het ʼn beroep gedoen op Suid-Afrikaners om nie toe te laat dat hul vryhede tydens die nasionale inperking weggeneem word nie.

Hy het gesê die Grondwet is nie opgeskort tydens die inperking nie. Mense moet dus nie toelaat dat hul grondwetlik verskanste regte weggeneem word nie.

Manuel het ook gesê die staat van inperking word nie net irrasioneel toegepas nie. Hy het gesê die regering maak hierdeur die deur oop vir “staatsgreepagtige” gedrag deur die weermag. Met verwysing na Khoza se dood het hy gesê nêrens onder apartheid se noodregulasies sou hulle daardie soort dinge verdra het nie. Die fokus behoort te wees op gesondheid, nie om te kyk hoe sterk die polisie of weermag is nie.

In Augustus het Manuel weer die nuus gehaal toe hy gesê het die minister van finansies, Tito Mboweni, kan meer doen om die plundering van COVID-19-hulpfondse stop te sit.

Dit volg nadat Mboweni in ʼn reeks twiets gesê het daar moet op die strengste manier moontlik opgetree word teen “gewetenlose diewe” wat COVID-19-hulpfondse plunder. Manuel het onder meer gesê Mboweni kan meer doen, omdat hy die nodige wetgewing – soos die Fica-wet – tot sy beskikking het.

Manuel het hom onlangs die gramskap van die ANC op die hals gehaal toe hy op ʼn webinaar gesê het die afgelope drie dekades van ANC-bewind was “vermorste” jare.

Hy het gesê “die groot uitdaging waarmee ons in Suid-Afrika te doen het, is wat ons nou te doen staan met amper drie dekades wat vermors is”.

Die webinaar, wat deur die Katolieke parlementêre skakelkantoor (CPLO) en die Hanns Seidel-stigting aangebied is, het gehandel oor die vraag of ʼn sosialistiese markekonomie in Suid-Afrika kan werk.

Pule Mabe, die ANC-woordvoerder, het in ʼn sterk-bewoorde verklaring Manuel gerepudieer deur te sê daar is geen gronde om so ʼn “verdoemende beeld aan die land, die media en die buitewêreld” uit te dra nie.

Manuel het later in ʼn verklaring gesê hy betwis nie dat hy reg aangehaal is nie, maar hy het ʼn probleem met die opskrif van die berig: “Manuel: ‘What do we do now, with almost three decades that were wasted’?”

Om sy punt te staaf dat sy uitlating uit verband geruk word, het Manuel daarop gewys dat hy op dieselfde webinaar gesê het dat daar beduiende ekonomiese groei tussen 2000 en 2007 gedurende die termyn van oudpres Thabo Mbeki was.

“Ek het ook gesê dat dit na 1994 ʼn paar jaar geneem het om die regeringstelsels in te stel. Ek het my beskouing oorgedra dat dit die Zuma-jare was wat vir Suid-Afrika ʼn dekade van agteruitgang was.”

Manuel moet onthou dat sy latere verklaring, waarin hy kla oor die opskrif van die berig, nie sy woorde dat die afgelope drie dekades van ANC-bewind “vermors” is, verander of ongeldig verklaar nie.

Trouens, Manuel is reg, want die ANC se makro-ekonomiese filosofie sedert 1994 is ʼn totale mislukking. Dit het die slagoffers van kolonialisme en apartheid nog armer gemaak en die begunstigdes daarvan se rykdom die afgelope 20 jaar laat verdriedubbel.

Manuel se enigste flater was om nie te noem dat hy ʼn medepligtige is wat meegehelp het in die vermorsing van die afgelope byna drie dekades van ANC-bewind nie.

Manuel is reg wanneer hy sê dat ons beduidende ekonomiese groei tussen 2000 en 2007 gedurende die termyn van Mbeki gehad het. Trouens, tussen 2003 en 2008 het die ekonomie elke jaar ʼn surplusgroei van 5% getoon.

Ons skuldvlakke was laag, maar die groot vraag is, wat het Manuel as minister van finansies met die surplusse gedoen om die sosiaal-ekonomiese ongelykheid in die land aan te spreek? Manuel en sy party het min of absoluut niks gedoen nie.

Die weiering van die ANC om werklike hulp te verskaf aan arm en minderbevoorregte mense wat verneder en ekonomies platgeslaan is deur kolonialisme en apartheid, het in 1996 begin toe dié organisasie sy rug op die progressiewe Heropbou-en-ontwikkelingsprogram (HOP) gekeer het en dit met die konserwatiewe GEAR (Growth, Employment and Redistribution) vervang het.

Dit was die begin van die ANC se verwoestende neoliberale ekonomiese beleid wat vandag nog ʼn nadelige uitwerking op die slagoffers van kolonialisme en apartheid het.

GEAR, oftewel fiskale konserwatisme, is veral deur Mbeki, die leier van die exilers met ʼn sterk Europese ingesteldheid, gedryf. Manuel (as minister van finansies) en Mboweni (as president van die Reserwe Bank) was Mbeki se vernaamste bondgenote. Mbeki se Europese ingesteldheid moet verstaan word teen die agtergrond daarvan dat hy beide sy voorgraadse (BA, 1965) en nagraadse (MA, 1968) studie in ekonomie en ontwikkeling aan die Universiteit van Sussex in Engeland voltooi het.

Sy ontoegeefliklike verhouding met die radikale vakbonde en die ANC-jeugliga wat tot sy onseremoniële ontslag as ANC-president by dié organisasie se nasionale konferensie in Polokwane in 2007 gelei het, kan ook teen dié Europese ingesteldheid beoordeel word.

Teen die einde van die 1990’s het die ANC-regering met Manuel as minister van finansies en Mandela as president duidelik gewys waar hulle begrotingsprioriteite lê toe hulle gesamentlik minder vir onderwys en gesondheid as vir verdediging begroot het. Hier onder is ʼn verkorte weergawe van die regering se nasionale begroting vir onderskeidelik 1999 en 1998:

Portefeulje

1999

1998

Landbou

R 718 854 000

R 720 918 000

Korrektiewe Dienste

R 4 345 495 000

R 4 651 245 000

Verdediging

R 9 721 173 000

R 10 878 241 000

Onderwys

R 6 495 650 000

R 5 123 875 000

Gesondheid

R 5 446 060 000

R 5 702 978 000

Salarisverhogings (staatsdiens)

R 3 375 000 000

R 2 850 000 000

Menseregtekommissie

R 13 233 000

R 12 568 000

Kommissie vir Geslagsgelykheid

R 10 244 000

R10 108 000

 

In 1998 het die nasionale tesourie R10 878 241 000 vir verdediging begroot, wat meer was as die R10 826 853 000 wat vir onderwys en gesondheid gesamentlik begroot is. In 1999 het die regering se prioriteite ten spyte van die sosiaal-ekonomiese ongelykhede in die land duidelik gewys hulle prioritiseer verdediging bo alles met die grootste begrotingtoedeling van R9 721 173 000 van al die portefeuljes.

Dié astronomiese bedrae is begroot vir die Departement van Verdediging terwyl die land op daardie stadium onder geen gevaar vir ʼn oorlogsaanval was nie, wys duidelik hoe die ANC-regering onder Mandela en Manuel hul morele kompas verloor het, want dit was die teelaarde vir die omstrede wapenskandaal.

Die Strategiese Verdedigingspakket, of die Strategiese Verdedigingsverkryging, algemeen bekend as die wapenskandaal, was ʼn Suid-Afrikaanse militêre verkrygingsprogram. Dit het die ANC-regering in 1999 R30 miljard (na finansiersingskoste waarskynlik nader aan R70 miljard) uit die sak gejaag.

Gesofistikeerde wapentuig soos fregatte, vegvliegtuie, duikbote en helikopters wat in pakhuise opgehoop staan en nie gebruik word nie, is ten duurste aangekoop. In 2008 is die SAS Queen Modjadji uit Duitsland by Simonstad in ontvangs geneem. Dit was die jongste van die duikbote uit Duitsland wat deur Suid-Afrika aangekoop is terwyl die land nie voldoende opgeleide personeel het om die boot effektief te benut nie.

Die antikorrupsie-aktivis Terry Crawford-Browne het toe gesê dat daar net een oplossing is om die aangeleentheid reg te stel, en dit is om die kontrak te kanselleer, die goedere terug te stuur, en die enorme bedrae terug te vorder.

Crawford-Browne, wat vir twee dekades vir reg en geregtigheid veg oor die bedrog in die wapentransaksies, het gesê die regering moet alle uitstaande bestellings onverwyld kanselleer van wapentuig wat bestel is volgens kontrakte, en enige betalings daarop terugeis.

Die donkerte as gevolg van beurtkrag waaronder Suid-Afrikaners van tyd tot tyd gehul word, moet ook tot ʼn sekere mate op Manuel se brood gesmeer word. Hy het as minister van finansies destyds geweier om meer geld aan Eskom vir instandhouding en nuwe kragstasies toe te ken.

Die begrotingsurplusse van dié ekonomiese bloeitydperk tussen 2000 en 2007 waarna Manuel verwys het, het ons wel goed voorberei op en beskerm teen die wêreldwye ekonomiese inploffing van 2008 wat gevolg het na die ineenstorting van die beleggingsfirma Lehman Brothers in die VSA.

Manuel was egter te konserwatief (of miskien is suinig die regte woord) om die lewensomstandighede van arm Suid-Afrikaners te verander. Die genoemde begrotingsurplusse is nooit vir infrastruktuurontwikkelingsprojekte of gratis tersiêre onderrig (soos in die vorm van die huidige NSFAS) gebruik nie, maar liewer vermors op die Uitgebreide Openbare Werke-program (UOWP) wat in 2004 in die lewe geroep is.

Die UOWP was bedoel as ʼn ingrypingsprogram om massiewe ongeskoolde en arbeidsintensiewe-werk-geleenthede te skep, maar kon min of geensins geskoolde werkgeleenthede vir ʼn moderne ekonomie skep nie. Dit is reeds hier waar die probleem lê, omdat die UOWP geensins aan die uitdagings en vereistes van globalisering en die vierde nywerheidsrevolusie voldoen nie.

Die globale moderne ekonomie vereis geskoolde arbeid. Ons ongeskoolde arbeid hier in Suid-Afrika kan ongelukkig nie internasionaal meeding nie.

Verder is die begrotingsurplusse tussen 2003 en 2008 nooit gebruik om die lewensgehalte van die armes te verbeter, soos om ʼn universele inkomstetoelaag en ʼn nasionale gesondheidsversekering (NGV) in te stel nie.

Soos Suid-Afrika in die 2000’s ryker geword het, het die regering veral na die wêreldwye ekonomiese inploffing van 2008 beleggings in munisipale infrastruktuur verdubbel. Met ander woorde in ʼn bodemlose put gegooi, tot so mate dat ons skuldvlakke tot 52% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) gespring het.

Dié onbedoelde gevolge van verhoogde investering in munisipale infrastruktuur kon verhoed gewees het as kundiges soos ingenieurs, argitekte, stadsbeplanners en projekbestuurders eers aangestel was om te verseker die nodige kundigheid is daar. Meer moes ook gedoen gewees het om korrupsie op munisipale vlak te bekamp.

Die ander probleem was die uitbreiding van die salarisrekening op al drie regeringsvlakke. Die bedoeling kort na die 2008 wêreldwye ekonomiese krisis was vir die staat om werk te skep vir diegene wat hul werk verloor het, maar dit moes net vir ʼn bepaalde tydperk gegeld het. Op lang termyn was dit nie volhoubaar nie en nou sit ons met ʼn massiewe probleem van ʼn te groot salarisrekening van staatsamptenare wat die land in ʼn geldkrisis en ook arbeidsontrus kan dompel.

Ook het Pravin Gordhan, wat in 2009 minister van finansies onder Jacob Zuma geword het, begin om groot bedrae geld op Eskom en SAL te bestee. Volgens kommentators is Gordhan se spandabelrigheid in ooreenstemming met sy ideologiese uitgangspunt dat ʼn regering alle probleme moet oplos deur te spandeer. As dit so is, dan moet ons seker verstaan hoekom SAL na COVID-19 gaan voortbestaan onder Gordhan as minister van openbare ondernemings.

Die ANC se ander twee makro-ekonomiesebeleidstukke, naamlik ASGISA (Bespoedigde en Gedeelde Groei-inisiatief vir Suid-Afrika) en die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) was en is ook ʼn mislukking. Oor die NOP het Mbeki op ʼn keer aan die hand gedoen dat dit nie eintlik ʼn plan is soos dit veronderstel is om te wees nie, maar eerder ʼn visie sonder ‘n implementeringsplan.

Dit is seker hoekom hoofstuk 13 van die NOP wat handel oor “building a capable and developmental state” nooit deur staatsdepartemente op al drie regeringsvlakke implementeer word nie.

Die waarheid is dat die huidige ekonomiese trajek waarop ons is, ons moontlik oor die afgrond kan druk waaronder die arm en honger mense die ergste gaan ly.

Manuel se openbare rol as kritiese sosiale kommentator word waardeer, maar die oomblik het aangebreek dat hy openhartig moet erken dat hy net soos die ANC verantwoordelik is vir die afgelope drie dekades van ANC-bewind wat – soos hy dit gestel het – “vermors” is.

Bronne

 Kotzé, D. Politics and Public Policy. University of South Africa: Pretoria, Revised Edition 2003. (Study Guide PLC202V)

  • 5

Kommentaar

  • Johann Basson

    Mnr Lloyd, u dwing my respek af met hierdie artikel. Dankie.

    Ek het geen vertroue in en respek vir enige huidige of gewese ANC-leier of EFF-leier nie. Mag Suid-Afrikaners spoedig ‘n waardige regering kry wat eerbaar Suid-Afrika en al sy mense eerste stel en voorwaar as rolmodel vir die jeug en ouers van gesinne optree.

    Ons moet die werklose, verarmde, oningeligte oningeligte politieke denkslawe bevry van die kettings van politieke slawerny. Alle Suid-Afrikaners verdien ‘n parlement en staatslui by uitnemendheid.

    Suid-Afrika is ‘n pragtige land bedeeld met ‘n grootse diversiteit. Maar die lewensduur van die mens is kortstondig. Waarom toelaat dat die onreg en wanorde seëvier? Wil Suid-Afrikaners dan nie ook met selftrots lewe in ‘n eerste wêreldland waar almal eerbaar en opbouend woeker met hul talente en kreatiwiteit nie?

    Ek sien vooruit na u opvolg artikels.

  • John Henry Davis

    Ons is almal nou saam in die gemors. En ons ALMAL sal moet saamwerk om ons uit die gemors te kry om weer 'n eerste wêreld status te bereik. Ons het die mense en breinkrag oor die hele spektrum, seker die beste in die wêreld. Ons moet nou ALLES in die stryd werp om te voorkom dat ons kleinkindders nog vir ons foute moet betaal. Ek glo dat ons KAN.

  • Chris Erasmus

    Mnr Lloyd ek is ook beidruk met die artikel wat jy oor Trevor Manuel geskryf het. Ek vra egter wat het Mnr Manuel van opinie laat verander? Ek is nie hier om die man aan te val of te probeer verkleineer of beswadder nie, maar ek sal graag die waarheid en niks anders as die waarheid oor mnr Manuel wil lees. 'n Jakkals (politikus) verander van hare maar nie van snare. Sien uit na die waarheid en dit is so, elke saak het drie kante, myne joune en die waarheid. Ek kan nie aan enige ANC politikus dink wat volgens my nie onder verdenking behoort te wees nie.

  • Die ANC regeer volgens 'n kollektief ,dit beteken almal moet inval en uitvoer wat kollektief besluit is,of jy nou daarmee saamstem of nie.Feitlik alle kommunistiese state regeer volgens die beginsel.En almal is totale mislukkings.

    Die party aanbewind besluit wat goed is vir almal,wat die geskiedenis van die land sal wees,waarin die regerende party se siening van die geskiedenis geld en alles wat nie daarmee strook nie verwyder moet word.

    Gelukkig is die ANC nog sover soos hul Sjinese broers om grootskaalse orienteringskampe op te rig waar veral minderheidgroepe hervorm kan word om die regering se siening van sake hul eie te maak en terselfdertyd 'n bron van goedkoop arbeid te word en gesinne uitmekaar geruk word.Tog is die kommuniste gretig om tegnologie wat hul pas aan te neem en toe te pas,want dit gee hul die reg om jou selfoon te inspekteer,en o-wee as jy iets op sosiale media kwytraak wat nie ooreenstem nie.'n orienteringskamp is jou voorland.

    Snaaks dat 'apartheid' as 'n misdaad teen die mensdom bestempel is,maar die wêreld swyg oor die blatante onderdrukking van minderheidsgroepe in Sjina waar die 'Uighurs' aan die onmenslike sisteem onderwerp word en hul woonplekke eenvoudig plat gestoot word om plek vir nuwe ontwikkeling te maak,net soos distrik ses.

    Maar die kollektiewe broers swyg, is siende blind en hirende doof en loop sy aan sy met hul kollektiewe broers.Een van die grootste kollektiewe mislukkings was seer seker die 'Life Healthcare Esidimeni Scandal' waarin willige en onwillige moes deelneem aan 'n onmenslike projek omdat die kollektief so besluit het.

    Nog 'n kollektiewe mislukking is die grondhervormingsplan waar in tot 95% van onteienings misluk en eens voorspoedige plase ashope geword het.En Trevor hy was deel van die kollektief en het nou eers die moed van oortuiging om te sê wat hy werklik van dit gedink het -want tydens sy loopbaan was dit maar -'wiens brood men eet, diens woord men spreekt. '

  • Anthony "Speedo" Wilson

    Jason soos gewoonlik is jy weer in die kol as ek lees hoe 'n paar slim mense hierop reageer het. Ek gaan nie eers maak of ek alles verstaan nie. Dit wat ek wel verstaan maak my bang wat dit lyk my ons het GEEN toekoms meer nie. Dit is alles opgeneek en wie moet ons bedank? Die ANC! Ek hoop dat die klomp wat alles oogeneek het - dit sal erken en die nodige kundiges kry en help om ons uit die verknorsing te kry. Ek het nog altyd geglo EN geweet! - DIT IS MAKLIKER OM TE KRITISEER AS OM GOED TE REGEER! Ons is burgers van die land - nie onderdane nie. Die politici (ANC) moet ophou belsuite VIR ons maak asof ons in Engeland woon!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top