Trein-evangelis: “God hettie letties en moffies geskape nie!”

  • 0

Olivia M Coetzee

Dis wat ’n trein-evangelis gesê het vi my en ’n hele carriage vol mense innie trein op pad Bellville toe. Som van hulle voel mos nie ommie boodskap te vekondigie, maa voel dat God hulle pesoonlik aangestellit as God se eie judgerige loudhailers.

Om uitie kas uit te klim is iets wat mense weinig heppieness bring. Wan djy moet tien alles baklei, jouself en dan oek om ’n vehouding met God te kan hê, according to som priedekante en kêke.  

Craig Lucas, die wenner van The Voice South Africa (seisoen 2), het nou die anner dag vi sy hele Facebook gat vetel dat hy gay is. Maa hy sê toe dat hy wou dittie doenie, wan hy was bang virrie trugklap. Die arme boytjie se nerves was klaa oo die hele ding. Dis ’n ongemaklike ding as djy anvaring soek buitekant jouself en al wat djy kry is rejection van dies wat jou moet bystaan. In baie gevalle wôd mense nie net vedruk of vewerp van buite affie, maa deu die mense naaste an jou. Al het Lady Gaga mense proebee anspoor met haa song “Born this way” om net hulleself te wies en hulleself lief te hê, issit glattie lekke ommie storms wat mense na jou voodeu toe bring allien te baklei nie. Wat dit nog êger maak, is dat daai selle mense dan oek vi jou kan mooi vetel hoe God nie daai storm sal vi jou anvattie wan djy môs met mense vannie selle seks. Wan volgens hulle het God mossie letties en moffies geskape nie, net straighties.

Ek mien hoekô issit soe ’n groot ding? Ek vestaan hoekô die kêk soe ’n groot ding daavan wil maak. Ommat daa in ’n paa verse innie Bybel staan dat man maggie met man lê nie. Maa hoekô issit dan net oo die een ding wattie kêk sy mond rek? Die Bybel lê vol van reëls en regulasies van wat mens as Christen mag doen en wat mens nie mag doen nie. En wat djy as mens moet doen om rêrig soes ’n kind van God te liewe. Of lies ôs maa amal ôs Bybel net soes ôs wil? Haal hie ’n stukkie uit en daa, net genoeg soedat ôsie hoef te kyk narie stomp in ôs eie oegie?

Maa hoeveel Christene liewe rêrig soes Jesus geliewe het? Of hoe die Bybel sê mens moet liewe as ’n Christen? Dissie net van dele uitie Bybel uithaal om jouself bieter te laat voel oo jou Christenskappie. Dis maklik om iemand anners af te snoei, maa hoekô doen djy dit? Issit wan djy dink djy kan Brownie points by Jesus score? Dissie hoe Jesus wêkie, en dis nog minner hoe God wêk.

Ek mien, dink djy rêrig dat God wil hê die skape moet soes doringbosse innie rondte in rol sonner om ’n huis te het waa hulle siel kan water drink?

En dit gannie soe êg oo daa ’n gay-kêk is wat ’n mens kan loep bywoonie. Niee! Dissie aliewige gepriek van daai priestes en doeminees wat gloe dat hulle die draers vannie poorte se slietels is. Hulle maak soes hulle vi God sê wie kan in en wie kannie innie. Dis hoekô soe baie maa vi God loep soek innie bottel, dwelms en onnodige seks. Die oordeel, ennie skaamte wat lê in die woorde wat priedekante saai is om mens rêrig siek te maak, en dit maak baie mense siek, van hulle liggame tot diep binne-in hulle harte. Wan vedrukking en vewerping maakie duiwels wakke.

Trug in apartheid toe was dit velkleur. Toe het baie mense die Bybel gebruik om hulle rassistiese agendas vorentoe te dra. Ek mien maa. Hoe lies djy rêrigie Skrif om te kan sê dat jou liefdevolle God net een velkleur kan sien? Djy kannie die Bybel gebruik as jou wapen tien goed wat djy nie van hou of vestaan nie. Dis God se wêk om te oordeel – lat God toe om God se wêk te doen.

Ek vestaan, ’n fobie is iets wat mens voel ommat djy veskriklik bang is vi iets. Maa ’n mens kannie vi anner mense liewe nie. As djy bang is, dan is djy bang, maa djy kannie jou banggatterigeid op anner mense se liewens sittie. Kyk hoe vannie pad af het Hitler gestap, wan hy was bang dat die Duitsers se bloed veil wôd. Niemand se vrese gie jou die reg om God te wil speel en links en regs mense te oordeelie. Los vi God lat God self die wêk doen.

Maa ek dink ek vestaan hoekô mense soe angan soes hulle nie sense hettie. Miskien moet mense net minner warrie oo wat in anner mense se slaapkames in angan, en hulle bepaal om bieter Godskinners te wies. As ek ’n man of ’n vrou wil liefhê, laat my toe om my liewe te liewe. Dis mossie te sê djy moetie selle doenie. Liewe jou liewe, en wies heppie. Dis al wat ôs amal soek, om die liefde van God te ervaar en om heppie te wies. God hettie net som mense geskape in sy eie wonnerlike beeld nie; ôs amal is geskape in God se beeld. Die Bybel sê soe!

As dit soms ’n bietjie van ’n gesukkel is ommie liewe se goed te herkou, sit vi Lady Gaga an en dans saamit haa op Born this way”. God is Liefde, ôs is geskape in sy beeld. Soe, wies soes jou ware self.

Dankie dat djy lies en saam met my deu die skryfwêreld stap.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top