Toyota US Woordfees | TV-weergawe van Valsrivier sal jou meesleur

  • 0

Foto: Lindsey Appolis

...
Valsrivier – Woordfees TV
...

Die verhoogweergawe van Dominique Botha se Bildungsroman Valsrivier, wat verlede jaar tydens die Woordfees op die planke was, het behoorlik die toekennings ingeryg – en dit was welverdiend. Om van so ’n suksesvolle teaterproduksie goeie televisie te probeer maak, is veel gevra.

Wel, die goeie nuus is dat Valsrivier in sy Covid-televisiegewaad nie net goeie televisie is nie. In die hande van Christiaan Olwagen, Roelof Storm en Saartjie Botha word dit puik televisie. Daar is minstens een aspek waarin die televisie-weergawe die verhoog-weergawe oortref, naamlik die stelontwerp. Vir my was die stel van die verhoogweergawe net te besig, verwikkeld en byna so slim uitgedink dat dit steurend was.

...
Daar is minstens een aspek waarin die televisie-weergawe die verhoog-weergawe oortref, naamlik die stelontwerp. Vir my was die stel van die verhoogweergawe net te besig, verwikkeld en byna so slim uitgedink dat dit steurend was.
...

Nou is die opbou van blomme ’n sterk analogie, binding en leitmotiv. Soos die toue by die aanvang van die stuk die inwoners van die klein plaasgemeenskap Rietpan aan mekaar bind, so bind die blomme die vroue in die stuk, met wie se lewens, liefdes en omgee die mans so los en vas en gevoelloos speel.

Die redigering van die televisieproduksie is ’n groot bydraende faktor tot die sukses daarvan. Daar is nie ’n voortdurende wisseling van skote nie, en waar dit plaasvind, vloei dit. Natuurlik gee ’n mens die onmiddellikheid, die nabyheid en die bykanse tasbaarheid van die teaterbelewing prys – dit is die nadeel van die pes waarteen ons onsself tans laat inent. Maar hierdie produksie is ’n knap plaasvervanger.

Valsrivier is ’n vertelling, belewing en interpretasie van die verhaal van die Botha-familie van die distrik Viljoenskroon in die Noord-Vrystaat. Dit is ’n relaas oor ’n familie wat ons ken uit hoofde van die ouers, Andries en Sandra, se politieke diens aan die geliefde land, en uit die helder, glansende skryftalent van die dogter, Dominique, uit wie se perspektief hierdie verhaal lewe kry.

Foto: Greteli Fincham

Dit is die vertelling van Dominique se interpretasie van die lewe en impak van haar broer, Paul, wie se siel geen perk of inperking wou ken nie, soos Icarus vanouds. En dit is die vertelling van ’n familie wat hul bes doen om daarmee te handel – ’n taai taak voorwaar, gegewe die selfsug wat so dikwels met genialiteit saamloop.

...
Dit is die vertelling van Dominique se interpretasie van die lewe en impak van haar broer, Paul, wie se siel geen perk of inperking wou ken nie, soos Icarus vanouds. En dit is die vertelling van ’n familie wat hul bes doen om daarmee te handel – ’n taai taak voorwaar, gegewe die selfsug wat so dikwels met genialiteit saamloop.
...

Daar is geen swak plek in die rolverdeling nie. Tinarie van Wyk Loots, Anna-Mart van der Merwe en Stian Bam is gesoute en briljante staatmakers van die Afrikaanse teater- en televisiewêreld. Die jonge Robert Hindley se manjifieke vertolking is ’n sleutel tot die voltreffer-sukses van die aanbieding, en sowel Wiseman Sithole as Peggy Tunyiswa is veel sterker as wat hulle in verlede jaar se verhoogproduksie was. Hulle kom trouens tot wasdom en tot hul reg.

Foto: Greteli Fincham

Kyk asseblief Valsrivier. Dit sal jou meesleur.

  • Die foto’s is van die verhoogproduksie wat by Toyota US Woordfees 2020 op die planke was en is nie van die Proscenium-verfilming in die Baxter nie. Dit was egter presies dieselfde spelers en stuk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top