Toyota US Woordfees 2022 Instagram-resensie: ’n Gek vir jou

  • 0

Waar vind mens ware liefde as jy jonk is? In ’n klub? Op kampus? Op Tinder? Onder jou neus? Dis waarskynlik die vraag wat Christie van Niekerk en Ané Koegelenberg vir mekaar gevra het, en toe ’n wonderlike stukkie teater daaroor gaan skep het.

’n Gek vir jou handel oor Yanni en Laurel, twee narre wat kennelik baie erg is oor mekaar, maar wat ook elke moontlike roete volg om ’n geliefde te vind. Hulle word dronk in klubs, hulle neem foto’s vir aanlyn dating sites en lees stoute klein boekies om “die liefde” beter te verstaan. Hulle ondersteun mekaar egter deurentyd deur dáár te wees in klein ritueeltjies soos oggendkoffies op “hulle” bankie (met of sonder suiker) en hoofpynpille en Energade vir die babelas. Hulle sukkel wel deur potensiële eerste afsprake, verwerping, teleurstellings en absolute droewige verlange, als sonder dat ’n enkele woord gesê word. Net hulle aksies (in die vorm van mimiek en clowning) en die vernuftige gebruik van musiek en enkele rekwisiete skep ’n deernisvolle verhaal oor die immer sensitiewe aard van vriendskap. Dit jou laat lag, dit vat jou op ’n heerlike emosionele reis, maar uiteindelik laat dit bloot jou hart vermurwe.

’n Gek vir jou is vroeër vanjaar aangewys as die wenproduksie by die Première Teaterfees in Stellenbosch. Dis hopelik die begin van groot dinge vir dié twee talentvolle jong akteurs.

#ToyotaUSWoordfees2022 #WildvirWoordfees #LitNetInstaIndrukke #nadinedoenwoordfees @nakadien #woordfees @woordfees @christievniekerk @anekoegelenberg #ngekvirjou

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top