’n Uur se ongebreidelde vreugde. Dis eintlik al wat ek oor Mutton hour wil sê. Gaan kyk self; gaan belééf dit. Lag. Dans in jou stoel! Verkneukel jou in die kamishibai! Maar, ek sal uitbrei. Want jy weet miskien nie wat kamishibai is nie (ek het ook nie geweet nie). Dis ’n stokou Japannese tradisie van storievertel. (Bekroonde regisseur Jemma Kahn het dié kunsvorm Suid-Afrika toe gebring, en is deel van die produksiespan.) Prentjies in ’n storyboard en stem, if you will. Aan die woord, Cintaine Schutte en Wilhelm van der Walt. Hulle bedrewenheid met kleur en klank laat jou onwillekeurig gil van plesier.
Die minidramas, wat amper soos ’n klein geanimeerde fliek voor jou afspeel, kan nét slaag wanneer jou spelers se tydsberekening en bedrewenheid as akteurs van hoogstaande gehalte is. En kom ons jok nou nie vir mekaar oor Schutte en Van der Walt se talent nie. Hulle weet presiés wat hulle doen, en dit maak vir ’n uiters genotvolle uur.
Hulle wissel die kamishibai af met ’n hutspot van teatertemas, soos Shakespeare, famous plays en musicals, wat hulle dan op die vermaaklikste moontlike manier aan die gehoor opdis. Hulle sing en dans en speel hulle harte uit met ’n energie wat verstom. Regtigwaar. Ongebreidelde vreugde. Dis al.
* Die “travelling circus”, soos hulle die vertoning aan jou verkoop, is ook baie gewild as huiskonsert, tydens babatees en verjaarsdae. Bespreek hulle sommer nou, of gaan kyk vandag nog na een van die laaste twee vertonings.
#ToyotaUSWoordfees2022 #WildvirWoordfees #LitNetInstaIndrukke #nadinedoenwoordfees @nakadien #woordfees @woordfees @cintaineschutte @wilhelm888 @muttonhour