Toyota US Woordfees 2022 Instagram-resensie: Die halwe huis

  • 0

“Hoe langer jy die monsters baklei, hoe meer raak jy nes hulle.”

Die halwe huis, uit die pen van Ricardo Arendse en geregisseer deur sy verloofde, Lee-Ann van Rooi, is oa vroeër vanjaar vir ’n Kanna-toekenning vir Beste Debuutwerk by die KKNK benoem. Dis egter nie die eerste keer dat ons die verhaal hoor nie. Jy ken dié storie wat voor jou afspeel maar al te blerrie goed. Pa verniel ma, kind ly daaronder, kind trou en verniel om die beurt sy eie familie totdat daar niks meer oorbly om voor te lewe nie.

In hierdie drama dra die hoofkarakter, Bumper Jansen, heeltemal te swaar aan die las van sy verlede, sy swart hond (wat hy vroeg in sy lewe al ontmoet en heel speels Shadow doop) en die hartseer afloop van die pad wat hy moet stap – van kind, ’n ontwrigtende egskeiding, molestering, drank en die ontsetting van verlies. Hy het genoeg gehad en besluit om sy lewe te beëindig. Voor dit gebeur, neem hy egter die gehoor op ’n reis – jy kry ’n droewige terugblik op alles wat aanleiding gee tot sy besluit.

Marlo Minnaar as Bumper is uitsonderlik. Hy word ’n klein seuntjie, ’n verliefde grootmens, ’n vernielde pa en, uiteindelik, ’n stukkende mens. Hy neem volledige beheer van sy ruimte. Die verhoog word ’n begraafplaas, speelgrond, dansvloer, sterfbed, vuil sitkamer en, inevitably, bloot ’n halwe huis. ’n Plek ontneem van liefde en geliefdes – dít wat ’n huis héél moet maak.

Arendse, Van Rooi, Minnaar en Les Javan (verantwoordelik vir die treffende musiek en klankontwerp), verdien die staande applous wat hulle gekry het. Hierdie produksie is ’n hoogtepunt.

* Waarskuwing: As jy, soos ek, broos van gees is, neem genoeg tissues saam. Jy gaan lélik huil.

#ToyotaUSWoordfees2022 #WildvirWoordfees #LitNetInstaIndrukke #nadinedoenwoordfees @nakadien #woordfees @woordfees @cardoarendse @mr._minn @leeannvanrooi @lesliejavan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top