Toyota US Woordfees 2022 Instagram-resensie: Afrika-Blues

  • 0

Foto: Nadine Petrick

Afrika-Blues is een van daardie heerlike feesproduksies waar jy wens almal wat jy ken sit saam met jou en luister. Dis nie net die herkenbaarheid van die liedjies nie. Dis ook nie net die virtuositeit van Albert Frost nie. Ja, dit voel amper soos ’n rare treat om na etlike jare se aanlyn sitkamerkonsertjies ’n vol band op ’n groot verhoog te sien. Dis wonderlik om te hoor hoe klank ’n plek vol maak en hoe ’n beligtingspan saamspeel om die drama te verhoog. Dis die kombinasie van als wat hierdie ou Rock & Roller se hart vir 75 minute op die maat van Dollar Brand se ritmes laat klop het.

Natuurlik, om Sima Mashazi op ’n feesverhoog dop te hou, is sekerlik altyd een van die héél beste goed wat jy vir jou moeë feeslyf kan doen. Haar talent as musikant, en haar sjarme en vrygewigheid as sanger laat jou sit en glimlag tot die laaste drumbeat in potblou vlamme opgaan.

Hierdie produksie is Schalk Joubert se baba, en saam met Sima, Albert, stalwart Louis Mhlanga en Jonno Sweetman op die dromme, bring hulle blues classics van die kontinent na die hart van die wynland. Adolph Johannes Brand sou trots gewees het.*

*As jy dit nie geweet het nie (ék het nie) - dis die doopnaam van die befaamde Abdullah Ibrahim.

#ToyotaUSWoordfees2022 #WildvirWoordfees #LitNetInstaIndrukke #nadinedoenwoordfees @nakadien #woordfees @woordfees @schalkjoubertmusic @smamashazi @jonno_sweetman @louis.mhlanga

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top