Toyota US Woordfees 2020: Valsrivier se teaterkind is ’n hartseer drenkeling

  • 3

Anna-Mart van der Merwe en Robert Hindley (Foto: www.woordfees.co.za)

Tans speel die verhoogvertolking van Dominique Botha se bildungsroman Valsrivier by die Woordfees. Hierdie roman het wyd opslae gemaak toe dit so ’n paar jaar gelede die rakke getref het. Die sosiopolitieke agtergrond van Suid-Afrika in die ‘80’s en ‘90’s waarteen ’n jong Afrikaanse man se selfvernietiging afspeel, was vrugbare terrein vir literêre baanbrekerskap. Ek sou aanvoer dat dié boek, so gestroop van sentimentaliteit, so ryk aan liriese prosa, en polsend van universele waarheid, daarvan ’n aanspraakmaker op die ewig ontwykende titel Groot Afrikaanse Roman sou maak.

Daarom het Saartjie Botha, die verwerker, ’n uitdagende waagstuk onderneem toe sy besluit het om dié storie planke toe te bring. Nes die twee hoofkarakters in die boek op ’n kol in diep gevaarlike waters gaan swem het, het Saartjie ook ’n groot kans gewaag. Maar as ek enigiemand met hierdie taak sou toevertrou, sou dit sy wees. Sy het al telkens voorheen bewys hoe begaaf sy as teksverwerker is.

Valsrivier is ’n soort roujoernaal, waarin Dominique Botha vertel hoe haar broer, Paul, se lewe in ’n afwaartse spiraal na die dood toe vloei. Sy lewensverhaal is met die plaashuis waarin hulle groot gesin gewoon het, die lewens van hul plaaswerkers, en die apartheidsmilieu, asook die demokratiese oorgangstydperk saamgeknoop. Paul, lei mens af, was een van daai kerse wat aan albei kante gebrand het. ’n Geniale woordsmid, maar ’n selfvernietigende waaghals.

Die rolverdeling bestaan uit ’n gedugte spannetjie toneelspelers, naamlik Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Tinarie van Wyk-Loots, Wiseman Sithole, Peggy Tuniswa, en die nuweling Robert Hindley. Aan die stuur van die regie is die bekroonde Janice Honeyman.

Merendeels kwyt die akteurs hulle vaardig van hul taak. Van Wyk-Loots is veral oortuigend in Dominique se masker; Hindley spontaan en vermaaklik. Hulle dra die transformasie van ouerwordende jeugdiges met fyn tegniek soomloos en oortuigend oor.

Om die verweefdheid van die verskillende karakters se lewens met mekaar, met die land se geskiedenis en met die plaas uit te beeld, is ’n abstrakte motief aangewend. Reusetoue soos garingdrade span oor die verhoog en word deur die karakters bewerk soos die storie vorder.

Ongelukkig ontrafel verskeie dinge reeds vinnig en kan hierdie knap tegniek nie die storie mooi saambind en bymekaar hou nie. Paul se immerbelangrike laerskooljare, waarin hy wreedaardig deur onderwysers op skool behandel word, is so vinnig afgerammel dat dit my totaal ontglip het. Ook sy hoërskooljare waarin ’n mens vir die eerste keer veronderstel is om sy verwoestingsbegeertes te beleef, flits soos ’n nagedagte by jou verby. Sodoende beroof die skeppers ’n mens van twee wesenlike oorgangsbrûe na Paul se vernietigingsbestemming.

Verskeie ander belangrike inligtingspunte bly telkens in die slag. Daar heers ook byvoorbeeld baie onsekerheid oor presies hoe Paul oorlede is.

’n Interessante regiekeuse is die melodramatiese en opgewekte spel wat ontplooi word. Hierdie element skree aan die gehoor: “Kyk vir my! Ek ís hartseer, ek ís relevant, ek ís betekenisvol!”, in plaas daarvan om ons in te nooi en toe te laat om self hierdie gevolgtrekkings te bereik.

Waar Paul in die boek nihilisties en gereserveerd-ironies oorkom, beleef jy die verhoog-Paul meer selfbejammerend en dramaties. Beide die ouers word onsimpatiek geskets, terwyl ’n mens baie maklik met die boek-ouers kon empatiseer. Hierdie probleem lê nie in die uitvoering van die spel nie, maar in die regisseur se keuse om hulle so oor te dra.

’n Goue draad in die roman is Paul en Dominique se verhouding; ook Paul uit Dominique so oogpunt. Hierdie draad word egter in die teaterweergawe weggelaat en uiteindelik versnipper.

Saartjie Botha se grootste uitdagings sou altyd die verteltegniek wees. Want die roman se narratief steun sterk op sy fladderende prosa. Dis ’n skuit waarop Paul Botha se hartseer verhaal veilig oor die Valsrivier stuur. Daarom het ek self gewonder hoe die storielyn se osmose na die planke hanteer gaan word. En die antwoord is: Dit gaan nie.

Die prosa word eerstehands in die monde van die spelers geplaas, sodat die storie so te sê regstreeks aan ’n mens vertel word (in plaas van uitgespeel word). Dit was ’n oordeelsfout. Prosa is die domein van romans en is daar om die internaliseringsproses, so uniek aan die leesproses, te vergesel. Daarom werk dit nie vlot in teaterformaat nie (ten minste nie in hierdie geval nie). Gevolglik verdrink die storielyn in die Valsrivier.

Al Valsrivier se ryk tematiek (insluitend die temas van die Valsrivier self) is jammerlik afgewater. Uiteindelik lyk die storie soos ’n montage in stede van die hartverskeurende bildungsverhaal wat dit eintlik is.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Dr. Mandie Uys

    ‘n Goeddeurdagte en objektiewe resensie deur Martin Laubscher. Ook vir my het die verwerking van die roman n paar vals klanke gehad. Die feit dat daar swaar gesteun is op agtergrondkennis van die roman, het gemaak dat die verwerking trefkrag verloor het. Paul se selfverneitigingsdrang, byvoorbeeld, kom ongemotiveerd, selfs bedorwe oor, en verhinder dat n mens ware empatie met die karakter voel. Ek stem ook saam met Laubscher dat die wanklanke in die aanbieding grotendeels te wyte is aan oordeelsfoute in die regie. Wat die meeste verstom het, is dat ‘n aanbieding met sulke gesofistikeerde beeldspraak en dialoog,van n melodramatiese foefie soos die vertoon van n lyk aan die einde gebruik sou maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top