Toyota US Woordfees 2020: Die sonkamer, ’n resensie

  • 0

'n Paar weke gelede het Suid-Afrikaners die koronavirus beskou as ’n gevaarlike siekte in ’n ver land. Sedert President Ramaphosa se aankondiging op 15 Maart 2020 het die werklikheid vir Suid-Afrikaners begin insink. Hierdie resensie is geskryf op Saterdagaand 14 Maart. Op daardie stadium was daar nog ooglopend baie bejaardes in die teater. Almal was onbewus daarvan dat hierdie een van die laaste feesgeleenthede in die afsienbare toekoms sou wees voordat die meeste openbare saamtrekke gekanselleer sou word.

Foto van sommige van Die sonkamer se akteurs: www.woordfees.co.za

Die sonkamer is ’n toneelstuk oor oudword. Die stuk speel af in ’n tehuis vir bejaardes. Die basiese storie is dat daar ’n dokumentêr oor bewoners van die tehuis se lewens verfilm word. Elke inwoner kry kans om gedeeltes van hul lewensverhaal vir die onsigbare filmmaker (wat dus die gehoor is) te vertel. Die karakters is almal herkenbaar. Die temas van hul lewens ook.

Lewenskrag is min, geld ook.  Die bejaardes in die tehuis se kinders het hul dikwels vergeet.

Daar is ’n egpaar wat sorg vir heerlike komiese vermaak. Hulle leef vir hul kleinkinders, sê die tannie. Ja, die kleinkind kom op Donderdae, sê die oom. En van daar af vertel hulle vir die gehoor hulle gemeenskaplike storie. Of eerder: Die tannie vertel en as haar man wil praat, praat sy hom dood.  Teen die einde van hulle twee se toneel sê die tannie: “Onthou, vandag is Donderdag!” En haar man vra: “Wat gebeur op Donderdae?”

Die tema van onthou en vergeet duur voort. Daar is karakters wat blatant aan Alzheimer se siekte te ly. Daar is ’n gesprek wat moeilik is om te kyk – ’n ma met haar dogter. Die gehoor sien ’n man wat praat oor sy drome om eens ’n operasanger te geword het. ’n Ander vrou praat oor haar kinders: een dogter wat gay is, en die ander wat swanger geword het hoewel sy nie gedink het dat sy sou nie. Daar is vriendinne in die tehuis wat praat oor kos wat hulle geëet het en hoe bekostigbaar dit was. Geld is ’n tema, en die feit dat die ouderdom kom saam met die vrees dat daar nie genoeg is nie: nie genoeg geld nie, nie genoeg tyd nie, nie genoeg krag nie.

Voortdurend, in die agtergrond terwyl die mense hulle stories vertel, is daar ander bejaardes wat krom in die gange dwaal. Daar is flikkerende TV-skerms. Daar is personeel wat beddens opmaak. En daar is ten slotte ’n draai en draai van elke dag – die aarde om die son. Mense wat by tafels eet, en rondskuifel, en onthou, en bowenal: vergeet.

Die sonkamer is ’n vriendelike en gemoedelike titel vir ’n uitbeelding van die gedig “Hoe het dit  skielik laat geword?”  deur Olga Kirsch.

Die afdraand van die dag is kil.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top