Toyota Stellenbosch Woordfees: The ugly noo noo

  • 0

Foto: Nardus Engelbrecht, Woordfees

Andrew Buckland is en bly ’n meester. Hierdie teks is reeds in 1988 geskryf en vir die eerste keer opgevoer. En hier is ons, amper 40 jaar later, steeds vermaak deur dieselfde universele boodskap. So, wat is die wenresep? Ek dink nie mens kan dit in een resensie ontrafel nie, maar ek sal probeer om op te som hoekom ek nog lank die stuk sal onthou en die boodskappe sal herdink. Die beginpunt is natuurlik die idee, en hierdie een is baie uniek – tog steeds iets waarby almal aanklank kan vind.

Die konsep klink belaglik, amper soos ’n klug. En dit is, op die oog af, regtig ’n prettige en maklik-om-te-kyk-komedie. ’n Mens kan sit en lag; daar is geen diepsnydende opmerkings of politieke kommentaar nie. Vir die hele uur hoef jy nie regtig diep te dink nie – dis nie gemik daarop om jou ongemaklik te laat voel nie. Die lagwekkende besluit dat die hoofskurke ’n mier en ’n hoender is, maak dit moeilik om dit te ernstig op te neem. En dit is juis die punt: Dit ontwapen jou en die werklike betekenis tref jou eers later. Buckland se boodskap bly relevant. Oorspronklik was dit ’n anti-apartheidstuk, maar nou is dit skerp van toepassing op internasionale politiek en oorloë – waarvan daar tans heeltemal te veel voorbeelde is. Die boodskap is geen grap nie, maar die impak word verhoog deur die komiese verpakking.

Die vertoning voel effens outyds, maar op ’n goeie, nostalgiese manier. Dit is een man op die verhoog vir een uur – met geen stel, geen musiek, geen rekwisiete en geen foefies nie. Buckland is elke liewe karakter: die mense, die Parktown Prawns, die miere, die hond en die onvergeetlike, moorddadige hoender. Dit is ook fisieke teater, met elke klank en effek wat deur die akteur self gemaak word. Buckland is ’n vormveranderaar. Hy gaan van een karakter na die ander in die knip van ’n oog, sonder dat hy enige hulpmiddels benodig. En elke karakter is duidelik, volrond en uitkenbaar. Daar is ’n gemak aan sy optrede wat fassinerend is. ’n Mens kan net dink hoe ongelooflik uitputtend dit moet wees om hierdie optrede man-alleen te dra, en tog lyk hy so gemaklik soos ander mense op hul bank voor die televisie.

In ’n industrie waar die meeste teater heeltemal te min repetisietyd kry, word ek weer eens herinner hoe belangrik dit is vir ’n toneelstuk om te perkoleer. Daar is net geen plaasvervanger vir tyd nie. Buckland ken elke oomblik so intiem dat hy dit in sy slaap kan doen – van agter na voor. En dit gee vir hom ruimte om ook homself te geniet, iets wat werklik aansteeklik is. ’n Mens kan ook nie miskyk hoe goed hy sy kuns en tegniek ken nie. Elke geluid, beweging, woord of kyk vloei in die oomblik sonder dat hy ooit twyfel of iets forseer. Enige akteur behoort dit te kyk en te mik om daardie vlak te bereik.

In opsomming is dit dus, eenvoudig gestel, ’n storie oor ’n Parktown Prawn. Minder eenvoudig gestel, is dit ’n morele allegorie oor specie-ism wat gehore laat lag en dan laat dink oor rassisme, fascisme en enige vorm van vooroordeel – sonder dat hulle dit eers besef. Een gehoorlid met wie ek later in die dag gesels het, het verduidelik dat sy dit aanvanklik net geniet het, maar hoe langer sy daaroor dink, hoe meer ontdek sy nuwe betekenis in sekere oomblikke. Ek kan nie wag om dit oor 20 jaar weer te kyk nie!

Met: Andrew Buckland

Regisseur: Janet Buckland

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees: Annie+Helen

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Maak boerseep met Canettevallei

Die Toyota Stellenbosch Woordfees vier vanjaar 25 jaar

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top