Toyota Stellenbosch Woordfees: Media by die kruispad (Netwerk24-gespreksreeks)

  • 1

Henriëtte Loubser, Willem Jordaan, Barnard Beukman en Inge Kühne het met Gert van der Westhuizen, Netwerk24 se politieke redakteur, by die pas afgelope Toyota Stellenbosch Woordfees oor die Afrikaanse joernalistiek gesels.

Jean Oosthuizen gee ’n oorsig van hierdie Netwerk24-diskoersgesprek (“Media by die kruispad: Koerante se nalatenskap, en hoe Afrikaanse joernalistiek op Netwerk24 gaan voortleef”).


Toyota Stellenbosch Woordfees: Media by die kruispad (Netwerk24-gespreksreeks)

Die gehalte van Afrikaanse joernalistiek hoef nie in gevaar te wees omdat gedrukte koerante besig is om uitgefaseer te word nie. Dit kan eerder die begin van groter dinge wees vir die Afrikaanse joernalistiek weens die reikwydte van die digitale en die feit dat meer mense as ooit vantevore nuus lees.

So het Netwerk24 se redakteur, Henriëtte Loubser, tydens verlede week se Toyota Woordfees op Stellenbosch gesê tydens ’n gesprek oor die Afrikaanse media wat op ’n kruispad is.

Die vraag op die tafel was hoe Afrikaanse joernalistiek op Netwerk24 gaan voortleef. Die res van die deelnemers op die paneel was Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, Barnard Beukman, redakteur van Beeld, en Rapport se redakteur Inge Kühne. Gert van der Westhuizen van Netwerk24 was die gesprekleier.

Van links: Willem Jordaan, Henriëtte Loubser, Inge Kühne, Barnard Beukman en Gert van der Westhuizen (Foto: Jean Oosthuizen)

Loubser sê dit sou die einde van Afrikaanse joernalistiek gewees het as Media24 nie betyds digitaal geskuif het soos wat hulle wel gedoen het nie. “Dit sou ook die einde van Afrikaanse joernalistiek gewees het as ons nie ’n intekenmodel gevestig het, soos wat ons gedoen het, en ’n sakemodel uitgewerk het wat maak dat Netwerk24 reeds winsgewend is nie.”

Sy sê dit sal definitief ook die einde van Afrikaanse joernalistiek wees as hulle nalaat om twee dinge te doen: Die eerste is om die gehalte van Afrikaanse joernalistiek te bly verbeter en die tweede is om hulle digitale verpakking wêreldklas te maak. Dit sluit die formaat in waarin stories verpak word. Sekere stories word beter vertel in video as in woord. Die uitleg van hul tuisblad en webwerf moet ook so gebruikersvriendelik moontlik wees sodat mense maklik kan uitkom by die inhoud wat hulle verkies.

Rapport se redakteur, Inge Kühne, sê die gehalte van joernalistiek is nie afhanklik van die platform waarop dit versprei word nie. Sekere stories word die beste vertel op video en ander weer in geskrewe vorm met woorde en grafika. “Die gehalte hang nie van die platform af nie maar van die tipe nuusbestuur, die gehalte van die joernaliste in diens en die beskikbare hulpbronne.”

Sy sê Rapport noem homself geruime tyd reeds nie meer ’n koerant nie maar ’n redaksie, omdat dit ’n noodsaaklike kopskuif was om te neem in die digitale wêreld.

Barnard Beukman, redakteur van Beeld, stem saam dat die kwaliteit van gehaltejoernalistiek nie beïnvloed hoef te word omdat papierkoerante besig is om te verdwyn nie.

Hy sê die nuus dat Beeld as papierkoerant gaan verdwyn het onverwags uitgelek en daar is verskeie redes waarom baie mense ongelukkig was oor die manier hoe dit gebeur het. Die noordelike gemeenskap het dit as neerbuigend ervaar omdat Die Burger bly voortbestaan in gedrukte vorm maar Beeld nie.

Dit is sleg deur die lesers ervaar in Beeld se 50ste bestaansjaar en hy het begrip vir die woede wat daar by baie lesers was. Daarom het hy ’n robuuste gesprek daaroor in sy koerant toegelaat en hy glo dit het gehelp om ’n groter begrip by die lesers te skep.

Die enigste Afrikaanse koerant wat in gedrukte vorm bly voorbestaan, naamlik Die Burger, se redakteur, Willem Jordaan, sê dit is nie korrek dat Die Burger op een of ander kunsmatige wyse teen markkragte geïmmuniseer word nie. Die Burger se Oos-Kaapse uitgawe was in 2018 die eerste van die gedrukte koerante wat ’n uitgawe gesluit het.

Jordaan sê hy het ’n enorme empatie met die gevoel van verlies en die woede onder lesers wanneer ’n gedrukte produk verdwyn.

Tydens die verdwyning van Die Burger se Oos-Kaapse uitgawe het hy aangrypende stories gehoor van mense wat grootgeword het met die papierkoerant. Baie van hulle het hulle hele lewe met Die Burger deurgebring en het dit as ’n geweldige verlies ervaar toe die gedrukte koerant nie meer in hulle streek bestaan nie. Hy sê dit is belangrik om daardie mense se stories te hoor en begrip te hê daarvoor.

“Wanneer ons bou aan ’n volhoubare toekoms vir gehaltejoernalistiek in Afrikaans is daardie soort verhouding wat lesers met inhoud het, ook die ideaal waarna ons moet streef. Om oor vyf of 10 jaar van nou af mense te hoor sê hulle kan ook nie hulle dag voorsien sonder Netwerk24 nie.”

Loubser sê al verdwyn Beeld en Rapport as papierkoerante sal daar steeds landingsblaaie op Netwerk24 wees vir Beeld en Volksblad, waar lesers ’n seleksie van die dag se belangrikste nuus in hulle streek kan lees. Rapport sal ook steeds sy eie redaksie hê met Rapport se inhoud op ’n Sondag onder hulle eie banier.

Sy sê die uitdaging is om te sorg dat hulle Afrikaanse professionele joernalistiek digitaal so aanloklik en boeiend maak dat lesers hulle nuus digitaal wil lees en nie op platforms wat fopnuus versprei nie.

Al vier redakteurs het saamgestem dat kompetisie in die media ’n goeie ding is. Hulle sê hoe meer verantwoordelike joernalistiek daar is hoe beter vir die media en hoe beter vir die lesers en uiteindelik hoe beter vir die demokrasie.

Kühne sê sy verwelkom enige een wat op ’n verantwoordelike manier nuus rapporteer, want dit maak die nuusomgewing ryker selfs al is dit net iemand met ’n mikrofoon wat dit verantwoordelik doen. Dit is die somtotaal van verantwoordelike nuusrapportering wat die land se koers positief kan verander soos wat tydens staatskaping bewys is, sê sy.

“’n Veelheid van media maak dit interessanter en die samelewing oper,” sê Kühne.

Oor die wantroue wat sommige mense teen die hoofstroommedia koester, het Jordaan gesê fopnuus is die dier wat opgesaal word om vertroue in die hoofstroommedia te ondermyn.

Hy sê dit is deel van die verantwoordelike hoofstroommedia se plig om fopnuus te identifiseer en die werklike feite na lesers te bring.

Die bestryding van fopnuus noodsaak egter verdere hulpbronne en die bestryding daarvan verg moeite en harde werk.

Beukman sê die kommer vir die media se toekoms lê nie by die hoofstroommedia wat gebonde is aan ’n perskode en persombudsman se uitsprake nie. Dit lê by wat hy noem die fees van die oningeligtes. Dit is mense wat al hoe minder media gebruik. Dit is wat veroorsaak dat mense op die N3 in die sneeu vassit want hulle weet nie wat aangaan in die wêreld nie en dus ook nie wanneer daar ’n sneeustorm op pad is nie.

As voorbeeld van die fees van oningeligtes het hy genoem dat daar meer mense in Amerika is as wat daar in die hele Suid-Afrika woon wat glo dat immigrante van Haïti troeteldiere in Springfield eet. Intussen het Springfield in die VSA se dierebeskermingsvereniging, die burgemeester en die polisiehoof almal al gesê hulle het geen bewys dat dit gebeur het nie. Daar is nie eers een bewys van ’n troeteldier wat weg is nie, maar meer mense in Amerika glo dit as wat Suid-Afrika se hele bevolking groot is. Dit is omdat hulle nie meer weet wat in die hoofstroommedia gebeur nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top