Toyota Stellenbosch Woordfees: Is etniese politiek en mobilisering op die terugkeerpad? (Netwerk24-gespreksreeks)

  • 0

Die MK en die PA het bo verwagting goed gevaar in die verkiesing. Uit Afrikanergeledere word ’n verklaring gemaak. Wat voorspel dit vir die toekoms?

Identiteitspolitiek en Afrikaner-identiteit was van die onderwerpe wat in een van die diskoersgesprekke die afgelope week by die Toyota Stellenbosch Woordfees aan bod gekom het. Op 1 Oktober het Theuns Eloff, Christo van der Rheede en Tessa Dooms met Gert van der Westhuizen oor etniese politiek en mobilisering gesels.

Jean Oosthuizen gee ’n oorsig van die gesprek.


Toyota Stellenbosch Woordfees: Is etniese politiek en mobilisering op die terugkeerpad? (Netwerk24-gespreksreeks)

Identiteitspolitiek en Afrikaner-identiteit was van die onderwerpe wat in een van die diskoersgesprekke die afgelope week by die Toyota Stellenbosch Woordfees aan bod gekom het.

Die besprekingsvraag was of etniese politiek en mobilisering op die terugkeerpad is na aanleiding van politieke partye soos die MKP van Jacob Zuma en Gayton McKenzie se PA se goeie prestasies in sekere gebiede in die afgelope verkiesing, asook die vroeëre Afrikaner Verklaring deur ’n aantal Afrikaner-organisasies en individue.

Die deelnemers aan die gesprek was Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, die politieke kommentator en een van die samestellers van die Verklaring, Theuns Eloff, en Tessa Dooms, direkteur van programme by die Rivonia-sirkel, wat politieke deelname op gemeenskapsvlakke en ander sektore heen voorstaan. Gert van der Westhuizen, Netwerk24 se politieke redakteur, was die gespreksleier.

Van links: Christo van der Rheede, Tessa Dooms, Gert van der Westhuizen en Theuns Eloff (Foto: Jean Oosthuizen)

Dooms het gesê sy dink nie daar word teruggekeer na identiteitspolitiek nie, aangesien dit nog heeltyd met ons was. Sy skryf dit toe aan die land se politieke agtergrond en die huidige kiesstelsel wat steeds gebuk gaan onder ’n nalatenskap van apartheid en kolonialisme.

Sy glo die meeste politieke partye in die land is nog identiteitsgebonde. Hulle kon nie daarin slaag om daarvan weg te breek nie. Dit geld nie net vir die MKP en PA nie, maar ook vir partye soos die Vryheidsfront Plus en ander wat ook gekoppel word aan ’n sekere identiteit, hetsy ras of godsdiens of een of ander minderheidsbelang.

Eloff sê volgens die Grondwet en die internasionale reg is dit nie regsgrondelik of moreel verkeerd om rondom enige faktor te identifiseer of te organiseer nie. Die vraag is of dit wenslik is om dit te doen. Dit is wat hom bekommer in die Suid-Afrikaanse opset en hy dink nie die land het al daarvan wegbeweeg nie.

Een van die redes waarom die PA betreklik goed vaar, is volgens Eloff ’n gevoel van verwaarlosing deur ’n minderheidsgroep, naamlik die bruin mense. Hy sê die ANC gee hoog op oor nierassigheid, maar is in werklikheid die mins nierassige party in die land, saam met die MKP. Hulle het feitlik net swart ondersteuners. Die gevolg daarvan is dat die ANC nie na die belange van minderhede omsien nie.

Dit is nie net rasseminderhede nie, maar ook taalminderhede en godsdiensminderhede wie se regte nie voldoende beskerm word deur die regering nie. Dit is volgens Eloff waarom goed soos identiteitspolitiek of etniese politiek al hoe sterker word in sekere kringe.

Van der Rheede sê voor 1994 was dit veral die United Democratic Front (UDF) se uitganspunt om ’n nierassige ideaal na te streef. Hierdie bolwerk teen ’n sisteem van uitsluiting en onderdrukking het egter nie verdwyn nie, ondanks die mooi ideale van nierassigheid soos wat dit in die Grondwet uitgestippel word.

Die nuwe politieke stelsel wat mense se menswaardigheid moes herstel het en gelyke geleenthede en vryheid moes geskep het, kon nie daarin slaag nie. “Ons sien toenemend in die laaste tyd hoe die regering probeer om bepaalde vryhede in te perk.”

Van der Rheede sê hierdie drie boustene was belangrik om ’n nuwe samelewing te skep. Die ANC moet volgens hom die grootste skuld dra vir waarom dit nie gebeur het nie, maar ook die onderskeie gemeenskappe wat dit toegelaat het.

Hy sê die ANC hanteer hierdie boustene op ’n manier wat gelei het tot selfverryking en staatskaping wat gemeenskappe verder verdeel en gemarginaliseer het. Die gevolg is dat die mense hulle stemme die afgelope verkiesing op ’n klassebasis uitgebring het. Arm bruin mense wat voorheen DA gestem het, het vanjaar vir die PA gestem, omdat hulle voel daar word nie na hulle behoeftes omgesien nie.

Daarteenoor het middelklas bruin mense hoofsaaklik voortgegaan om vir die DA te stem, hoewel daar ook ’n skuif na die PA was in gemeenskappe wat in die geheel gevoel het hulle word gemarginaliseer.

Van der Rheede sê die land kan nie bekostig om terug te keer na ’n verlede waar mense voortgaan om op ’n rassebasis te stem nie. “Ons moet ’n manier vind om by mekaar uit te kom, veral as dit oor nasionale kwessies gaan.”

Hy sê daar moet ’n onderskeid getref word tussen dinge wat almal raak en dinge wat mense op ’n kulturele basis raak. “Daar is niks mee verkeerd as mense wil assosieer met bepaalde kultuurgroepe of wat ook al nie, maar dan moet dit eenheid in diversiteit wees soos wat die Grondwet sê. Dit moet almal se strewe wees om by daardie ideaal uit te kom, nie om verder te versplinter of om Suid-Afrika te balkaniseer nie. Om bymekaar te kom en saam te staan moet die makroprobleme saam aangespreek word, want ons het mekaar nodig.”

Dooms sê eenheid is veel groter as om net vir die Springbokke te skreeu en saam bly te wees as hulle wen. Die land moet verenig wees oor sake wat regtig saak maak, soos menswaardigheid en ongelykheid ten opsigte van dienslewering en ekonomiese geleenthede.

Sy sê hierdie verdelingslyne waar mense voel hulle word op een of ander manier gemarginaliseer, strek oor ras- en kultuurgrense waar mense voel hulle word oor die hoof gesien. Daarom moet daar gestreef word na gedeelde belange wat almal kan steun.

Eloff sê alle mense se belange is basies dieselfde. Hulle wil ’n werk hê, veiligheid, ’n bekostigbare lewe en goeie opvoeding vir hulle kinders. “Dit is belange wat belyn moet word en bedien moet word.”

Oor die onlangse Afrikaner Verklaring, wat deur Eloff gesteun word, stem hy en Van der Rheede nie saam nie.

Van der Rheede is baie krities oor die Afrikaner Verklaring, omdat hy glo dit is uitsluitend en dwing mense in ’n dwangbuis in. Hy sê sy standpunt is geensins ’n aanval op Afrikaner-identiteit nie. Sy vraag is wat sit agter dié Afrikaner Verklaring se agenda?

Hy wou weet waarom dit nie liewer ’n Afrikaanse gemeenskapsinisiatief genoem is nie, maar ’n Afrikaner-inisiatief, wat hom by implikasie deur sekere Afrikaners uitsluit.  

“Hoekom kyk ons nie na die begrip Afrikaner as ’n hibriede begrip nie? Waarom probeer ons om dit weer so te versuiwer soos voor 1994? Ek het nog nooit gesê ek is ’n Afrikaner nie. Ek is ’n volbloed Suid-Afrikaner en sal nooit toelaat dat enige iemand in enige nuwe stelsel my reduseer tot ’n mindere mens nie. Dit is presies wat die huidige rasseklassifikasie in dié stadium ook doen.”

Van der Rheede sê hy het fundamentele probleme met hoe die Afrikaner Verklaring sy beslag gekry het. Hy het vrede daarmee gemaak, maar het besluit as hulle hom dan nie wil deel maak van die breër Afrikaanse gemeenskap nie, dan klim hy maar liewer op sy eie perd en veg sy eie stryd.

Eloff sê ’n genuanseerde begrip van die Afrikaner Verklaring sal baie misverstande uit die weg ruim. Hy glo ook die hele proses het gemaak dat ’n beweging soos Solidariteit geskuif het van “ons sal self” na “ons sal saam”. Hy glo hoe verder die land vorder met ’n gedeelde geskiedenis, hoe nader sal die verskillende groepe aan mekaar kom.

Kyk en lees ook:

"Ek het al die bloede in my … ek ís die nuwe Suid-Afrika."

Die Afrikaner Verklaring: Saambou of laertrek?

The Z factor in KZN and the elections

Zuma: Messiah or populist?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top