Toyota Stellenbosch Woordfees 2026-Instagram-resensie: Marinda Engelbrecht sprinkel en sprankel

  • 0

Yonela Mgcinana, Marinda Engelbrecht en Kamva Muteyi (Foto: Elizna Swanepoel)

Sprankelende Marinda Engelbrecht en haar span (sy is nie iemand wat alleen in die kollig wil staan nie) kom demonstreer van die resepte in haar nuwe kookboek. No thank you to obesity is ’n wetenskaplik-gefundeerde kookboek wat sy met die hulp van twee dieetkundiges en ’n internis geskryf het.

 “Oeg, die Woordfees was ’n groot lekkerte. ’n Mens voel jy is nou op heilige grond as jy optree by die Woordfees,” sê Marinda. “Dit was vir my ’n ongelooflike eer om saam met dr Rust Theron, Chris Greyling en die twee dieetkundiges Lindie Mosehuus en Chané Bothma in gesprek te wees oor die onderwerp obesiteit en ’n gesonde leefstyl. Dit was ’n eerlike informele sessie met vrae uit die gehoor. Ek dink hulle het gesien met die boek No thank you to obesity kan jy nog steeds lekker eet, maar ’n gesonde leefstyl handhaaf.”

Met al haar ondervinding en koskennis kon sy haar resep met toe oë alleen demonstreer, maar sy wys iets van haar menswees wanneer sy net daar en dan twee opkomende sjefs uitnooi om saam met haar voor die gehoor te kook.

Sy beskryf en demonstreer rustig vir sjefs Kamva Muteyi en Yonela Mgcinana, sodat hulle saam met haar voor die gehoor kan kos maak. Dis beslis ’n onverwagse voorreg vir die twee jong sjefs om deel te wees van so ’n bekwame kosskrywer se demonstrasie. En was die drie nie fantasties nie!

“Vir my was die hoogtepunt om saam met twee wonderlike studente te kon voorberei en te kon kook. Hulle bereidwilligheid en entoesiasme was aansteeklik. Hulle het my ook op my tone gehou!” lag Marinda. “Ek het net weer eens besef hoe belangrik dit is om studente te mentor. Dis seker maar die opvoedkundige in my. Kamva Muteyi en Yonela Mgcinana sal ek môre aanstel sou ek vir hulle ’n werksgeleentheid gehad het. Niks was vir hulle te veel nie.”

Die gebaar onderstreep weer wie Marinda is: ’n oophand-mens. Soos Marinda vir die gehoor sê: “Ek kook soos wat ek klavier speel, sonder bladmusiek.” Nie net het sy ’n natuurlike aanvoeling vir kos nie, maar sy is iemand wat graag gee en die mense rondom haar met inspirasie voed.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top