Toyota Stellenbosch Woordfees 2026-Instagram-resensie: Koekies met impak

  • 0

Andrew en Andriette Georgiou (Foto: Elizna Swanepoel)

Andriette Georgiou het die eerste keer in ons harte geklim toe ons haar leer ken het as die naaswenner van MasterChef SA, maar vandag het sy vir haarself naam gemaak as entrepreneur en bakker, ’n area waar sy beslis eerste plek wen vir enige iets rakende koekies en sosiale media-bemarking.

Mondvol het in September 2022 hul eerste koekie gebak. (Dis nie ’n gewone teetyd-koekie nie; die grootte is ten minste vier monde vol.) Net drie jaar later kan hulle spog met 101 unieke geure en bak hulle tot 5 000 koekies per dag. Tydens die Woordfees het Andriette in die Hofmeyrsaal gedemonstreer hoe mens een van die magiese koekies maak.

Matshepo Mathabatha wag buite die deur met die hoop om ’n kaartjie te bekom by hul tweede uitverkoopte vertoning. “I’m obsessed. I love the flavours, the box that it comes in – I just hope you get to experience the taste.” Gelukkig wag daar vir elke gehoorlid ’n Mondvol-verrassing op hul sitplek. Andriette verskyn saam met die musiek en die gehoor bars uit in handeklap.

Terwyl sy demonstreer hoe die koekies gemaak word, praat Andriette met groot waardering oor haar mentor Ina Paarman. Sy het tydens hul intieme gesprek vir Paarman raad gevra oor hoe mens met soveel Suid-Afrikaanse handelsmerke kompeteer. Haar antwoord was kort en kragtig: “Jy bly die beste.”

Die vurigheid duur voort soos Andrew Georgiou (Andriette se man, mede-aanbieder en besigheidsvennoot) koekies weggee aan dié wat vrae oor die Mondvol-handelsmerk korrek kan beantwoord. Dit is kostelik om te sien hoe sekere aanhangers bykans enige iets sal doen om nog ’n Mondvol-koekie te kry.

Andrew Georgiou se woorde is die kersie op die koek:

We love spreading love to people. It was such a blessing that both of our shows were sold out. We love to bring the energy, the gees, the joy. We love to give away free cookies and spoil people. Making them feel loved and valued, that is what we are all about! So, being a part of Woordfees was just amazing. We love the Afrikaans culture.

Laastens bedank Andriette die gehoor: “Dis meer as jy wat net ’n koekie koop; jy ondersteun 60 gesinne, jy’s trots Afrikaans, jy weet jy is waardevol.”

Mondvol se koekies is beskikbaar by verskeie winkels, onder andere Plato, asook op hulle aanlyn winkel: https://mondvol.co/.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top