
Alan Committie in Comedy gold (foto: woordfees.co.za)
Komedie is, in my opinie, een van die belangrikste vorme van kuns. Dit het toorkrag: Lag is die beste medisyne, en lag oor die belaglikheid van menswees is soms die enigste manier om perspektief te kry. Dit is soortgelyk aan Alan Committie se voorstel om ’n “perspektiefdeelnemer” aan die Olimpiese Spele te laat deelneem – om ons te herinner hoe vinnig die atlete regtig is. Komedie wys dus vir ons hoeveel slegter dinge kon gewees het (of selfs is op ander plekke), en dan voel ons net so ’n druppeltjie beter oor hoe relatief goed dit tans gaan. En Comedy gold verdien regtig ’n goue medalje vir ’n taak goed verrig.
Dit was die laaste optrede van hierdie stuk, wat reeds laas Desember in Kampsbaai begin het en regdeur die land getoer het. ’n Mens kan sien dat Committie baie gemaklik is met die materiaal, maar ook steeds vinnig op sy voete dink om elke optrede vars en uniek te maak. Die basiese konsep is ’n viering van ons prestasies op sportgebied en elders (en soms is sy definisie van ’n prestasie ’n baie subjektiewe ding). Volgens Committie lyk Suid-Afrika op die oomblik nogal nie te sleg nie (behalwe natuurlik vir die swak rand, wat niemand kan ontken nie). En dalk is dit gedeeltelik te danke aan die totale deurmekaarspul op die internasionale politieke speelveld wat ons laat goed lyk in vergelyking (perspektiefdeelnemers is regtig ’n wenresep), maar ons doen oukei-erig.
.......
Ja, môre kan alles weer uitmekaarval, maar dit is juis hoekom ons moet feesvier terwyl ons kan.
.......
In opsomming voel hy ons moet dankbaar wees dat ons sportspanne wen, ons elektrisiteit hou (vingers oorkruis) en dat ons teen dié tyd al so gewoond is aan die politieke korrupsie en gemors dat ons skaars geskok is oor die daaglikse stroom slegte nuus – die arme Amerikaners sukkel nog. Ja, môre kan alles weer uitmekaarval, maar dit is juis hoekom ons moet feesvier terwyl ons kan. En Committie is ’n absolute genie wanneer dit kom by in-die-oomblik lewe. Sy grootste sterk punt is sy interaksie met die gehoor. Dit is moeilik om te weet hoeveel van die optrede beplan is en hoeveel hy net skielik besluit om te doen of sê.
Hy spring gemaklik tussen politieke kommentaar, sportmetafore en persoonlike stories. En sy oordrag stap moeiteloos die lyntjie tussen skerp, snydende grappies en selfbespottende vulnerability (sy woord). Dit was dalk nie drie of vier uur soos hy aanvanklik trots aangekondig het nie, maar dit was ’n langer vertoning (90 minute). Tog het dit verbygevlieg, en teen die einde was my maagspiere effens seer gelag en het ek uitgeloop met ’n algemene gevoel van tevredenheid.
Ongelukkig is julle kans om Comedy gold te sien verby, maar een van die dae is sy nuwe stuk te siene. Ek kan nie belowe dat hy weer die periodieke tabel vir goud, silwer en brons gaan ontleed en versteekte boodskappe in die woordkonneksies gaan vind nie, en ek is redelik seker dat julle nie die kans sal kry om die onvergeetlike visie van Alan Committie wat die Pilates seal doen, te sien nie ... Maar ek kan definitief aanbeveel dat enigiemand ’n toekomstige vertoning bywoon – en jouself toestemming gee om kliphard en onophoudelik te lag. Moet net nie vir hom vertel jy is ’n hoenderboer nie. Glo my: Jy sal nooit die einde daarvan hoor nie!
Regisseur: Christopher Weare
Lees ook:

