Tot so ver

  • 1

“Tot so ver” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

*

Tot so ver

Stella parkeer haar kar aan die kant van die kloosterkompleks tussen brokkerige groentetuin-pogings en ’n glaskas vol ou beelde wat al dekades lank wag om gerehabiliteer te word. Die hoë dennebome om die parkeerplek wieg op maat in die wind wat vandag uit die Ooste kom. Daar is geen ander kar in sig nie en sy besluit om nog ’n bietjie te wag.

Mariënkroon: die tuiste van die katolieke kultuurorganisasie, de Honsoirde. Die gebou was ’n Middeleeuse kasteel wat die Paters Cisterciënzers aan die einde van die negentiende eeu by ’n desperate landheer gekoop het en omgebou het tot ’n reusekompleks in die jare na die Tweede Wêreldoorlog toe geloof hoogty gevier het in Brabant. Nou woon daar vlugtelinge in die strak vierkantige vleuels. Arabies en Kroaties het Latyn vervang. Daar waar net selibate manne reg van toegang gehad het, hol nou snotneuskindertjies met afgedankte speelgoed van Nederlandse kinders rond. Die laaste lewende pater het al in 2016 na die naburige ouetehuis toe verkas waar daar versorging en geselskap is. De Honsoirde se kulturele gezelligheid is al wat oor is van die eertydse katolieke glorie.

Stella sit met wrewel in haar gemoed en ook ’n bietjie op haar maag. Wat besiel haar om altyd ja te sê vir ander mense se gedroomde projekte? Haar taaljuffrou het die plan opgerakel nadat sy weer een middag tevergeefs probeer verstaan het wanneer ’n mens het of de moet gebruik. Vir Stella is Nederlands soos nat brooddeeg: Hoe meer jy knie, hoe meer plak lang slierte taai deeg aan jou vingers vas en hoe minder word die deeg ’n soepel, beheerbare geheel. Haar mond was suf geoefen aan die harde plat a en sagte g toe die taaljuffrou uit die bloute sê: “Weet jy wat jy ’n keer moet doen? Jy moet ’n praatjie hou oor het Zuid Afrikaans. Miskien kan jy iets doen oor die digkuns? Ek weet van net die regte mense wat na jou sal kom luister.”

Lank nadat sy ingestem het, het sy agtergekom dat die taaljuffrou ook die penningmeester van de Honsoirde was. Sy wat Stella is, was ’n goedkoop oplossing, niks meer nie. Regte sprekers vra deesdae ’n arm en ’n been om op te draf by kultuurorganisasies, het ’n kollega haar by die werk vertel. Die goodwill van vroeër is besig om weg te kalwe en klein kultuurorganisasies is die grootste slagoffers.

Hoekom kan sy nooit haar voet neersit en net nee sê as iemand haar vra om soos ’n sirkusdier iets kwyt te raak oor haar grappige taaltje: het Zuid-Afrikaans nie? Haar beste vorm van verset is om gewoonlik lamlendig te probeer verduidelik dat Afrikaans ’n taal is wat in Suid-Afrika gepraat word en nie ’n verwysing is na ’n hele kontinent nie. Die antwoord, sonder uitsondering, is dan altyd dat die taal Zuid-Afrikaans genoem word in Nederlands en dat as die dikke van Dale so sê, dit tot in der ewigheid so sal bly. Wat die woord Afrikaans betref, hoe anders kan ’n mens ’n hele kontinent oor een kam skeer? En dan volg daar altyd die stories oor amperbroekies en hysbakkies en ander woordjies wat hulleself vasgeanker het in die kollektiewe Nederlandse taalgeheue. As dit iemand ouer as tagtig is, onthou hulle dalk ook AD Keet se “Muskietjag” en Outspan lemoene.

Dit het Stella weke van dink en lees gekos om met ’n skaflike praatjie vorendag te kom. Hoe som ’n mens die geskiedenis van die Afrikaanse digkuns in veertig minute op? As jy wil hê jou gehoor moet luister, moet jy seker met iets begin wat hulle na aan die hart lê. Sy het Komrij se lywige versameling De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten nader getrek en gewonder of sy ook iets oor Afrikaans se Arabiese wortels moet sê. Slawerny is immers ’n hot topic in Nederland op die oomblik. Daarna het Die Groot Verseboek bygekom en kort voor lank ook al die dun bundeltjies wat gaste deur die jare saamgebring het as hulle kom kuier. Sy het YouTube en Facebook en DBNL en LitNet en Voertaal platgesoek na inspirasie. Na al die variante van bekende getoonsette gedigte probeer luister. Danie Marais se geanimeerde gedig “In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer” vir almal wat sy ken, aangestuur om vir hulle te probeer verduidelik hoe dit voel. Nag na nag het sy wakker geskrik met die ritme van bloed-in-die-water-en-bloed-in-die-laan wat soos vormlose skadu’s ’n droefheid diep uit haar hart losgetorring het.

Die sekretaresse van Stigting Honsoirde, Janny, tik teen Stella se ruit en beduie dat sy moet uitklim.

“Ons is so bly dat jy bereid is om met ons te kom praat.” Janny se grys koppie knik bevestigend op elke woord wat sy sê. “De Honsoirde het met die loop der jare eerder vergrys as hernieu. Dit is wonderlik om ’n slag na iemand jonk en met ’n ander perspektief te mag luister.”

“Ek is nie ’n kundige nie,” gooi Stella wal. “Met die enorme influks van Suid-Afrikaners woon hier nou baie beroemde skrywers, professore en ander slim taalmense wat meer as ek te vertelle het.”

“Ag, dis jou moedertaal en buitendien kan ons nie die deftige sprekers bekostig nie,” troos Janny.

Hulle stap saam in die laning af, verby twee beelde van die Brabantse Leeuw wat grasgroen is van die mos. Voor die imposante ingang van die hoofgebou is daar ’n vlaggie van die Honsoirde geplant. “Sommige van die oudjes vergeet partykeer by watter ingang hulle moet inloop om by die toringsaal uit te kom,” verduidelik Janny laggend.

Die ingangsportaal van die klooster is ’n groot leë ruimte. Die laaste sonstrale trek skewe strepe deur die loodglaswerk. Dan loop hulle af in ’n lang gang met die oophortjiemuur van die kapel aan die een kant en rye en rye foto’s van eertydse biskoppe en hulle onderdane teen die ander. Brandende kerse in die kapel gooi ’n goue glans teen die glas van die foto’s. Die plek ruik muf met ’n vae ondertoon van stoeppolitoer.

“Antonie het alles vir jou voorberei, so ek neem aan dat dit goed sal werk,” vertel Janny terwyl hulle die steil trappies uitklim na die toringkamer toe. “Hy is die jongste onder ons en gelukkig nog op datum met al die nuwe tegnologie.”

Antonie groet Stella met ’n breë glimlag en ’n stywe handdruk. Sy skat dat hy in sy laat 70’s moet wees. Hy wys met trots vir Stella hoe ’n gekompliseerde konkoksie van kabels haar rekenaar gaan bemagtig om die PowerPoint-presentasie op ’n groot witskerm teen die muur te projekteer. Nie een van die kabels pas op haar nuwe skootrekenaar nie.

“Geen kommer nie,” verseker Antonie haar. Hy ry sommer gou huis toe om die regte kabel te gaan haal.

’n Groepie van vyf vrouens skuifel die vertrek binne. Stella word aan almal voorgestel. Een vrou was nog in PW Botha se tyd ’n keer in die Kaap. Sy is so jammer oor hoe die dinge daarna verloop het, sê sy in ’n vertroulike stem terwyl sy Stella se hand ’n drukkie gee. Stella kan nie aan iets dink om vir haar terug te sê nie. ’n Ander vrou se kleinkind het ’n paar maande by ’n hospitaal in die rimboe gewerk. Dit was vreeslik en daar was nie regtig iemand wat ’n taal kon praat wat verstaanbaar was nie. Die taaljuffrou kom gee haar spesiaal ’n skouerkloppie. “Werk ze,” fluister sy vrolik.

’n Laaste ou oom kom hortend binne en Janny kyk na haar horlosie.

“Dis tyd,” kondig sy aan. “Ons sal helaas sonder Antonie en sonder die kabel moet begin anders word dit veels te laat vir die mense.”

Stella deel bladsye uit waarop sy die gedigte gedruk het. Sy wou graag met Amanda en Stef Bos begin het wat sing oor die taal van hulle harte, maar sonder ’n grootskerm gaan dit nie werk nie. Dan maar begin met die gedig uit Komrij se bundel: Den eerste steen van ‘t nieuwe Casteel Goede Hope heeft Wagenaar gelegt met hoop van goede Hope.

Stella vermoed dat die ironie haar gehoor ontgaan. Sy ploeter jolig voort: van Dopper Joris tot Elisabeth Eybers. Eybers is darem ook baie bekend in Nederland. Met ’n bewende stem lees sy:

Voetjie vir voetjie word mens immigrant
Toevallig uit, toevallig tuis, gestrand
op hierdie teennatuurlike terras
sonder om ooit onloënbaar aan te land.

Toe sy uiteindelik by Ronelda Kamfer kom, draf Antonie die toringkamer binne met ’n nuwe kabel. Dit werk. Die gehoor lyk merkbaar verlig en Stella wonder of hulle hoegenaamd kon volg wat sy in haar Nederfikaans kwytgeraak het. Ten slotte wys sy vir hulle Breyten se gedig wat Diek Grobler so mooi geanimeer het. “Ek sal sterf en na my vader gaan ...” klink Breyten se stem. Voor sy haar kom kry, rol die trane. ’n Brok in haar hart breek oop en brand diep seer snikke deur haar bors. Stella huil onbetaamlik en onkeerbaar.

Janny bedank haar met ’n pakkie tissues, ’n dosie sjokolade en ’n bossie blomme. Antonie maak weer eens verskoning vir die digitale krisis. Die ou vroutjies skuifel kwetterend teen die trappe af terwyl die ou man mompel dat hy weinig van die gebeure gesnap het.

Veilig terug in die donker stilte van haar kar, onthou Stella die laaste strofe van ’n gedig van Rutger Kopland:

Weggaan is eigenlijk een soort
van blijven, niemand wacht dan
want je bent er nog, niemand
neemt afscheid
want je gaat niet weg.

*

Die aanhaling uit die “Dagregister 2 Januarie” kom uit De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten van Gerrit Komrij, 1999: 13.

Die aanhaling uit Elisabeth Eybers se gedig kom uit “Afstand en verbintenis” van Ena Jansen, soos op DBNL.

Die aanhaling uit Kopland se gedig kom uit “Tirade”, soos op DBNL.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 1

Kommentaar

  • Solet het met hierdie verhaal die binnewêreld van Afrikaanssprekendes wat in die Lae Lande woon ontroerend mooi vasgevang! Haar kortverhaal slaag daarin om boekdele van die belewing van taal en kultuur bondig op te som terwyl dit verpak is in 'n bontjas vol meesleurende beelde. Een kortverhaal wat ‘n duisend deurleefde gevoellens inherent dra. “Knap gedaan!”

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top