Tories gaan sukkel om Verenigde Koninkryk in een stuk te hou

  • 0

Jason Lloyd (foto verskaf)

Boris Johnson se segepralende Konserwatiewe Party se kolossale oorwinning van die onlangse Britse verkiesing mag Brexit ’n werklikheid maak, maar die Tories se probleme om die Verenigde Koninkryk (VK) in een stuk te hou, het nou eers begin.

Dit is die Tories se grootste oorwinning sedert 1987 onder leiding van die voormalige Britse premier Margaret Thatcher.

In die proses het die politieke geografie van veral Engeland verander omdat die Tories Jeremy Corbyn se Arbeidersparty amper uitgewis het onder die werkersklas in die Noorde van Engeland, die westelike Middelande en in die noorde van Wallis. Gevolglik het die Arbeiders se sogenaamde “rooi muur” verkrummel omdat dié party sy laagste aantal kiesafdelings sedert 1935 in ’n algemene verkiesing gewen het.

Nog ’n skokkende terugslag vir die Arbeidersparty, is dat hul vorige partyleier Tony Blair (tussen 1994 en 2007) en voormalige Britse premier (1997 tot 2007) se vorige kiesafdeling – Sedgefield, in die Noordooste van Engeland – vir die eerste keer in 84 jaar sedert 1935 deur ’n ander party, in dié geval die Tories, gewen is.

Blair het Sedgefield vir 24 jaar sedert 1983 tot 2007 as parlementslid verteenwoordig. Gedurende dié tydperk het hy die Arbeiders drie keer agtereenvolgend in 1997, 2001 en 2005 tot oorwinning in algemene verkiesings gelei.

Die Tories se oorwinning beteken nie Johnson het as Brittanje se eerste minister ’n probleemvrye VK nie.

Inteendeel, die Tories het nou wel ’n parlementêre meerderheid van 80 setels (die party het 365 kiesafdelings uit 650 in die Britse laerhuis gewen), maar kon net 43.6% van die totaal getal uitgebragte stemme op hulle verenig.

Dit beteken Johnson se Tories het tegnies gesproke nie die meerderheid Britse kiesers se steun nie. Dit plaas Johnson op gelyke voet met sy grootse ondersteuner, die Amerikaanse president Donald Trump.

Trump het minder stemme (62 984 828) as Hillary Clinton se 65 853 514 in die 2016 Amerikaanse presidensiële verkiesing getrek; hoofsaaklik weens die land se ondemokratiese presidensiële verkiesingstelsel.

Die Britte gebruik die first–past–the–post-kiesstelsel (kiesafdelingstelsel) wat in wese ondemokraties is, maar dit verseker tog dat die hele VK in 650 gemeenskappe (kiesafdelings) onderverdeel is – elke gemeenskap (kiesafdeling) het dus ’n parlementslid wat hul belange in die parlement moet behartig en bevorder.

As Suid-Afrika se proporsionele verkiesingstelsel waarvolgens ons parlement en nege provinsiale wetgewers verkies word in Brittanje van toepassing moes gewees het, sou Johnson se Tories met partye soos die Brexit Party (2%), Demokratiese Unioniste-party (DUP) (0.8%) en Ukip (0.1%) koalisies gevorm het. Dit sou hulle egter ver onder die 50%-merk gelaat het, wat beteken die Tories sou nie ’n regering kon vorm nie, want hoofstroom partye soos die Arbeiders (32.2%), Skotse Nasionale Party (SNP) (3.9%), Liberaal-Demokratiese Party (LibDems) (11.6%) en die Groenparty (2.7%) sou nooit met Johnson in ’n koalisieregering saamwerk nie.

Streekpartye – soos die SNP in Skotland en die Noord-Ierse nasionalistiese groepe (Sinn Fein en Sosiaal-Demokratiese & Werkersparty) – het ten koste van die Tories en die Arbeiders goed gevaar deur heelwat meer setels in Skotland en Noord-Ierland as in vorige verkiesings in te palm.

Die SNP en dié nasionalistiese partye wil met alle mag en mening wegbreek uit die VK en sodoende Skotland en Noord-Ierland as onafhanklike republieke vestig.

In Skotland het die SNP 81% (48 uit 59 setels) van die setels gewen, terwyl die Tories, Arbeiders en LibDems onderskeidelik 6, 1 en 4 setels kon inpalm. Die SNP het dus 45% van die totaal getal uitgebragte stemme in Skotland op hulle verenig.

Dit het die Skotse eerste minister en SNP-leier Nicola Sturgeon geprikkel om te sê haar party se verbeterde vertoning in die verkiesing gee haar ’n mandaat vir ’n tweede referendum oor die land se onafhanklikheidswording.

Sturgeon het intussen ook ’n alternatiewe “koninklike toespraak” (Queens Speech) gepubliseer en ’n brief aan Johnson gestuur waarin sy Skotland se grondwetlike en demokratiese saak vir ’n tweede referendum uiteensit.

Die Skotse regering onderhandel tans met die Britse regering om die magte van die Britse parlement na die Skotse parlement te skuif om wetgewing te bepaal vir ’n tweede referendum. Volgens Sturgeon moet daar ’n tweede referendum in 2020 wees wat deur die Skotse parlement bepaal word.

In Noord-Ierland is, vir die eerste keer in die geskiedenis, meer Nasionalistiese parlementslede as Unioniste verkies en die DUP-onderleier en ook leier van dié party in die Britse parlement, Nigel Dodds, het sy setel in die verkiesing verloor.

Die meerderheid Noord-Ierse kiesers het in die 2016 EU-referendum “remain” gestem en het nou na alle waarskynlikheid die DUP by die stembus gestraf omdat hulle sedert 2017 die Tories in die Britse parlement onder leiding van Theresa May gesteun het.

Alhoewel die DUP nog steeds met 30.6% van die totaal getal uitgebragte stemme in Noord-Ierland die grootse party is, gaan die party net 8 setels uit 18 teenoor die nasionaliste partye – Sin Fein en die Sosiaal-Demokratiese & Werkersparty (SDLP) – se gesamentlike 9 setels na die Britse parlement stuur.

Die sege van die Nasionaliste oor die Unioniste in Noord-Ierland en die SNP oor die Tories en Arbeiders in Skotland versterk natuurlik diegene se veldtogte wat ten gunste daarvan is dat beide Noord-Ierland en Skotland die VK moet verlaat as gevolg van Brexit.

Terwyl veral Skotland en Engeland uit ’n politieke perspektief soos twee verskillende lande lyk, het Johnson selfbewus verklaar die VK verlaat die Europese Unie (EU) op 31 Januarie 2020.

Johnson gaan ook sy meerderheid in die parlement gebruik om ’n nuwe ontrekkingsooreenkomswet goedgekeur te kry om te verseker daar is nie ’n verlening van die Brexit-oorgangstydperk na 2020 nie. Dié wet sal die regering dwing om geensins ten gunste van enige verlenging te stem nie. Ook al beteken dit die onderhandelings met die EU oor ’n handelsooreenkoms is nog nie afgehandel nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top