Deur sy lesers op ’n daaglikse basis op hoogte te hou van gebeure in die klassieke musiek bedryf het hierdie inoverende webwerf,sedert sy bekendstelling twee jaar gelede, die toonaangewende spreekbuis vir klassieke musiek in Suid-Afrika geword.
As bewys van hoe aktief die klassieke musiek bedryf in Suid-Afrika is, is daar gedurende hierdie tydperk reeds meer as 6000 konserte en verwante gebeure in die What’s On kalender gepubliseer. Hierdie gratis diens stel enige iemand in die wêreld in staat om met een klik te sien watter konserte op ’n spesifeke dag of maand in Suid-Afria aangebied word.
Tot op hede het www.classicsa.co.za ook op ’n weeklikse basis meer as 100 Focus On onderhoude, met die klem op top Suid-Afrikaanse klassieke musici soos o.a. tenoor Johan Botha, dirigent Gerard Korsten en répétiteur Brenda Rein, geplaas. Talentvolle jong kunstenaars, soos sopraan Pretty Yende, bariton Njabulo Madlala en pianiste Ben Schoeman en James Baillieu, wat tans besig is om internasionaal groot naam te maak, word ook in die kollig gesit. Verder bied die kolom ook geleentheid om aan groot geeste in die bedryf, bv Mimi Coertze, Nellie du Toit, en Emma Renzi, Marian Lewin, Thomas Rajna en Barry Smith, hulde te bring.
In die daaglikse News and Reviews kolom hou die webwerf sy pols op aktuele nuus in die industrie, soos huidige kompetisies, toekennings, oudisies en ander belangrike gebeure.
Die uitgebreide gids op die webwerf bied aan alle musici en organisasies betrokke in die bedryf die geleentheid om hul dienste te adverteer. Dit stel gebruikers van die webwerf dan weer in staat om direk met diegene kontak te maak as hul van dienste soos musiekonderrig, optredes by funksies, klavierstemmers, musiekwinkels, ens gebruik wil maak.
www.classicsa.co.za se nuusbriefintekenaars staan elke maand ’n kans om opwindende pryse los te slaan. Dit kan bv kaartjies na van die top konserte in die land wees of seisoenkaartjies vir simfonie-orkes reekse. Verder bied Classicsa Page op Facebook ’n lewendige en interaktiewe forum vir vriende van die webwerf om van aktiwiteite op die webwerf ingelig te word, menings te lig en om deur middel van sosiale foto’s wat by konserte en gebeure geneem is ’n blik te kry op die aktiewe bedryf.
Volgens die stigter van die webwerf, Louis Fouche, bied www.classicsa.co.za ’n sentrale platform vir klassieke musiek - met al sy verskillende vertakkings - met die doel om klassieke musiek meer toeganklik te maak vir ’n veel wyer spektrum van die gemeenskap - veral vir jonger, ontluikende gehore. “In teenstelling met algemene opvattings is die klassieke musiek bedryf in Suid-Afrika uiters lewendig en van groot sosiale belang. Ons beywer onsself om dit op die webwerf te weerspieël met ’n vars benadering. Die sleutel tot die volhoubaarheid van die klassieke musiek bedryf in ons land is om gehore in te lig, te kommunikeer en om dialoë te stimuleer, met die doel om ’n nuwe ondersteunersbasis te skep.”
Indien u meer inligting benodig, besoek www.classicsa.co.za of epos info@classicsa.co.za.

