Toe-val-lig?

  • 0

Die Trump-administrasie van voornemende immigrante is die afgelope ruk gereeld in die nuus.

Veral die berigte oor hoe kinders hanteer word, maak vir ontstellende leesstof. Kinders so jonk soos 6 maande, kinders wat nog borsvoed, word van hul ma’s geskei. Berig op berig maak die punt: dis nie net medies nalatig nie, dis ook moreel onaanvaarbaar. Borsvoeding gaan tog nie net oor die kind se voedingsbehoeftes nie, dis ook ʼn manier hoe babas en hul ma’s ʼn band ontwikkel. Kinders het aanraking nodig om behoorlik te ontwikkel. Deur kinders te ontneem van daai basiese behoefte is doelbewuste mishandeling.

Gedurende die pas afgelope Vrystaatse Kunstefees het ek een dag tussen die stalletjies rondgeloop. ʼn Groep jongmense het marimba gespeel. Terwyl ek staan en luister, het ek ʼn jong seuntjie, seker so 5 of 6, opgelet. Hy en sy ma het ook staan en luister, met pa wat ongeduldig kort-kort op sy horlosie kyk. Ek kon sien die seuntjie wou dans, maar een kyk na sy pa en hy’t weer stilgestaan. Toe beweeg hy nader na sy ma en sit sy arms om haar. Een kyk van sy pa, en hy’t dadelik gelos. ʼn Klein seuntjie, en hy word alreeds geleer dat aanraking onaanvaarbaar is. Na nog ʼn rukkie het ʼn ander gesin by hulle aangesluit, ook met ʼn klein seuntjie. Hierdie enetjie was selfs jonger as die eerste seuntjie.Toe die twee seuntjies bymekaar kom, het hulle ewe formeel met ʼn handdruk gegroet.

Ek wonder hoeveel aanraking daai seuntjies kry. In die seker omtrent dertig minute dat ek die eerste seuntjie en sy ouers dopgehou het, het hulle nie een keer aan hom geraak nie. Hulle het nie sy hand vasgehou, hom drukkies gegee of op enige ander manier met hom fisiese kontak gemaak nie. Hy was goed versorg, met duur skoene en klere. Waarskynlik kry daai seuntjie als wat geld kan koop. Behalwe menslike kontak.

Dit laat my wonder. In ons hedendaagse samelewing vind daar bitter min fisiese kontak tussen mense plaas, selfs binne familieverband. Basiese aanraking word geseksualiseer, en selfs as wapen aangewend. Al meer word aanvaar dat aanraking net geskied as prekursor tot seks. Aanraking in die werksplek, wat toegegee ʼn mynveld is, word afgekeur. Aanraking word aangebied of weerhou as deel van ʼn transaksie. Gee my my sin, en in ruil daarvoor kry jy aanraking.

Ons is ʼn samelewing uitgehonger vir aanraking, maar terselfdertyd word die grense tussen mense al stewiger afgebaken.

Hoekom anders sal ʼn pa, wat by ʼn onlangse Pride parade aangebied het om jong gay mense drukkies te gee , die koerante haal? Hy’t dit “Dad hugs” genoem. Op elkeen van die fotos wat die berig vergesel, word jong mans en vroue wat hom met trane omhels, gesien.

ʼn Ruk gelede was daar ʼn video op Youtube van ʼn jong manlike student, toevallig juis van Vrystaat Universteit, dink ek, wat geblinddoek staan en enigeen wat drukkies nodig het, omhels.

Wanneer het aanraking so raar geword dat mense bereid is om deur wildvreemdelinge omhels te word, net om menslike konneksie te ervaar?

Die laaste Saterdag van die Vrystaat fees het ek die middag aan ʼn paneelbespreking deelgeneem. Net voor ons gesprek het Amore Bekker ʼn gesprek oor haar boek, Toe-val-lig, gehad. In die kort rukkie na die einde van haar gesprek en voordat ons s’n begin het, het ons mekaar buite raakgeloop. Sy’t onmiddellik oorgekom om te groet.

Amore Bekker, kan ek nou met gesag verklaar, is ʼn eersteklas hugger. Net soos die oom by die Gay pride, en die geblinddoekte student.Waarskynlik val sy in die top 1 % van drukkies wat ek al gekry het. Ek groet as standaard deur drukkies en nie handdrukke nie, so ek het ʼn redelik breë basis om van te werk.

Wat maak van sommige mense goeie huggers? My informele observasie is die volgende:

Hulle is nie selfbewus oor aanraking nie. Hulle het geen probleem daarmee om hulself weerloos te maak in aanraking nie. Hulle het nie probleme met intimiteit nie — en dit bedoel ek geheel en al glad nie in seksuele sin nie. Om iemand anders in jou persoonlike ruimte toe te laat is tog die hoogtepunt van intimiteit. Hulle stel gewoonlik intens belang in ander mense. Hulle fokus is op die ander persoon, en nie op hulself nie. En elkeen, Amore ingesluit, het al op persoonlike vlak een of ander trauma ervaar wat tot persoonlike transformasie gelei het.

Nie alle mense wat trauma en pyn ervaar het, word positief getransformeer nie. Sommige mense onttrek heeltemal. Ander reik uit, en sluit meer mense in hulle persoonlike spasie in. Dis hulle, daardie mense, wat ons siniese samelewing kan verander. Dis hulle wat deur grense breek en mense nader trek. Dis hulle wat, met elke drukkie en elke aanraking, sê “Ek sien jou mens-wees, ek aanvaar jou, ek waardeer jou.”

Is dit toevallig dat ek in Amore vasgeloop het juis op ʼn stadium toe ek oor aanraking gedink het? Ek dink nie so nie, en in haar boek maak sy ook juis die punt dat toeval nie bestaan nie. Sy noem dit toe-val-lig.

Nie net slim woordspeling nie, maar juis die tipe insig wat mens kan verwag van iemand wat die lig skyn op ander.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top