Titel: Tjailaresepte 2
Skrywer: Amore Bekker
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780992191245
Koop Tjailaresepte 2 by Kalahari.com.
In Amore Bekker se huistoery-program Tjailatyd deel mense hul gunstelingresepte. Amore praat met Naomi Meyer oor die boek Tjailaresepte 2 en die reis na binne.
Almal weet wie Amore Bekker is. Of weet ons? Vertel asseblief vir ons lesers in jou eie woorde.
Ek is in my laat 40’s; kos en praat is my passies; ek hou ook van lees en stil word.

Tjailatyd is wanneer mense die pad vat. En dis die tema van Tjailaresepte 2. Vertel tog ons lesers van die interessante hoofstukindelings.
Tjailaresepte 2 is ook ’n reisgids, daarom werk die afdelings so:
Hoofgeregte – Hoofwegresepte
Bygeregte – Sypaadjieresepte
Laaaang disse – Kronkelpadresepte
Poedings – Bestemmings.

Voorin die boek staan: “Nie almal wat swerf is verlore nie.” Jy lê klem op die reis na binne – en ’n paar luisteraars se persoonlike stories word tussendeur die resepte plaas. Hoe het jy besluit watter stories hier sal verskyn?
Daar ís slegs een reis, en dit is die reis na binne.
Ek het saamrybriewe geplaas wat ek daagliks in my program lees. So probeer almal ook maar deur hulle briewe en ritte huis toe sin maak van hulle lewens.


Watter van die resepte laat jou mond water?
Die meeste van die resepte in die boek laat my mond water.
Het jy die resepte almal probeer?
Nee, maar die sjef wat die resepte vir die boek moes toets, het.
Die eenvoud van die resepte is treffend. Wat was die kriteria wat gemaak het dat 'n resep die boek gehaal het?
Die kwylwaarde van die resep as ek dit aangehoor het.
Enige raakpunte tussen hierdie boek en jou eerste boek, Tjailaresepte?
Smullekker resepte.

Ek sien watter lekker Suid-Afrikaanse resepte in hierdie boek is. Waarom behoort mense hierdie boek aan te skaf?
Die boek is ’n stukkie Africana, want daar is maklike resepte in, en eg Suid-Afrikaanse stories.
Amore hou van lekker kos. Kyk na hierdie YouTube-inset oor toe sy een oggend met dagbreek agter die kospotte ingespring het.
Amore Bekker stel Tjailaresepte 2 in samewerking met RSG en Naledi by US Woordfees 2014 bekend.
15 Maart 11:00 |Boektent | 50min | R50


