Tilly die bloedhond

  • 0

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

bloedhond650

Bloedhond (foto: wikipedia)

Omtrent halfdrie op 'n oggend in 1984 was daar 'n inbraak by die woonhuis van 'n sekere mnr Allen van Pietermaritzburg. Die inbreker het 'n ruit in die badkamervenster verwyder en ingegaan. In die slaapkamer het hy die slapende mev Allen met 'n mes aangeval en haar dodelik verwond. Haar man het die vlugtende booswig agternagesit en ook hy is 'n paar steekwonde toegedien voordat die aanvaller weer deur die badkamervenster ontsnap het. Agterna kon mnr Allen nie 'n bevredigende beskrywing van die inbreker gee nie.

Nog voor dagbreek dieselfde oggend het die polisie met hul ondersoek begin. Daar was geen vingerafdrukke nie en feitlik die enigste leidraad was 'n paar sandale, waarvan een in die badkamer en die ander buite die woonhuis gevind is. Laasgenoemde is onmiddellik baie versigtig en sonder om dit direk te hanteer in 'n plastiese sak verseël.

As gevolg van fyn speurwerk is ene Shabalala spoedig aangekeer en twee dae later was hy een van ses persone wat in 'n ry in die agterplaas van die polisiestasie moes staan sodat hulle deur Tilly deurgesnuffel kon word. Tilly was 'n opregte Engelse bloedhond wat by die polisie se hondeskool in Pretoria opgelei is. 'n Speurder het die sandaal uit die verseëlde plastieksak gehaal en dit aan Tilly gegee om dit met haar neus te ondersoek. Daarna het sy langs die ry deelnemers aan die “uitkenningsparade” afbeweeg en elkeen van hulle deeglik besnuif.

Nadat sy met nommer ses klaar was, het sy agter hom ombeweeg en weer begin om die verdagtes deur te snuffel. Toe sy by Shabalala kom, het sy haar voorpoot op sy skouer geplaas en geblaf. Die proses is daarna twee keer herhaal en elke keer het Tilly dieselfde man "uitgewys", as ek dit so kan stel. "The paw of suspicion was pointed at (Shabalala)," soos 'n regter dit later treffend gestel het.

Shabalala is onder meer weens moord aangekla en in die hooggeregshof in Pietermaritzburg skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die hof het beslis dat die snuffelwerk van 'n opgeleide en ervare bloedhond soos Tilly, onderhewig aan sekere voorwaardes, as getuienis toegelaat mag word.

Shabalala het teen sy skuldigbevinding en vonnis geappelleer en op 28 Augustus 1986 het die appèlhof in Bloemfontein sy uitspraak gelewer.[1] Een van die aangeleenthede waaroor die hof moes beslis, was die vraag of die getuienis in verband met Tilly se snuffelwerk toelaatbaar was. In die verlede het ons howe sulke getuienis in beginsel uitgesluit, hoofsaaklik op grond van die hoorsêreël, wat in breë trekke behels dat verklarings van mense wat nie by 'n voorval betrokke was nie, of wat nie geroep is om in die hof te getuig nie, nie as getuienis toelaatbaar is nie. Per slot van rekening, hoe kan 'n hond nou geroep word om in 'n hof te getuig en, veral, hoe kan so 'n hond onder kruisverhoor geplaas word?

In Shabalala se saak het die appèlhof óók geweier om die getuienis oor Tilly se snuffelwerk by die "uitkenningsparade" as getuienis toe te laat, hoofsaaklik omdat sulke getuienis onbetroubaar is. Dit is nie voldoende om die hof te oortuig dat die hond opreg geteel en behoorlik opgelei is nie; iets méér sal nodig wees – byvoorbeeld bykomende getuienis oor presies hoe dit vir 'n bepaalde hond moontlik is om die reuk van een mens te identifiseer, ter uitsluiting van alle ander mense. Kortom, die appèlhof was van mening dat daar nog te veel oor hierdie eienskappe van honde gespekuleer word, met die gevolg dat dit gevaarlik is om dit as getuienis teen iemand toe te laat.

Shabalala was egter om ander redes vas, onder meer vanweë die feit dat hy 'n leuen vertel het oor waar hy die aand van die voorval was en omdat van mev Allen se hare en bloed op die klere wat hy gedra het toe hy in hegtenis geneem is, gevind is. Sy skuldigbevinding en vonnis is gevolglik deur die appèlhof gehandhaaf.

[1] S v Shabalala 1984(4) 734 (AD)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top