Tiger: ’n resensie

  • 0

Tiger
Met Tiger Woods en Pete McDaniel

Regisseurs: Matthew Hamacheck en Matthew Heineman

Die selfvernietigende, skrynende prys van superroem. Die meeste mense (veral sepiesterre) smag na superroem. Aan die begin grens dit aan aanbidding en ’n poets van die selfbeeld (sommige bekendes noem dit ’n "goddelike" ervaring) om so deur fotograwe en bewonderaars bestorm, besing en vereer te word. Hulle buig dikwels voor bekendes soos voor die goue kalf, en ten spyte van besware raak sommige bekendes (celebrities) verslaaf daaraan. Besoek maar enige van ons kunstefeeste in normale tye en jy sal sien hoe die bewonderaarsikloon krag opbou.

Maar daarmee saam kom die skuurwolstadium wat die roempot skraap. Jy kan nêrens meer ongehinderd loop nie, in geen winkelsentrum rondloop nie, in restaurante eet nie, en beslis nie by vakansieoorde ronddwaal nie.

Tiger Woods was anders. Hy het aanvanklik gemaklik daarmee omgegaan, sy gholfskoene vierkantig op die grasperk. Hy was ’n superster (en is tans weer) wat wreed en geobsedeer deur sy militaristiese pa gedryf is om net die beste te wees. Maar in die proses (ook weens die vergoddeliking van bewonderaars) het hy die regte Tiger Woods verloor. Die kluts kwytgeraak, waarna hy jare lank weer gesoek het. Die onsekere, stil seun wat die miljarde flitse van kameras geduldig deurgemaak het sonder om te poseer, vrae doodnormaal beantwoord het en Amerika se goue seun gebly het, was een van Amerika se vooraanstaande ikone.

Ek het eenmaal agter Nicole Kidman in The color purple in New York gesit, en toe die gehoor besef sy is daar, is sy nie vir ’n oomblik met rus gelaat nie. Dit moet iets aan ’n mens verander en verwring, alhoewel ek in die produksie gesien het hoe grasieus Kidman haar bewonderaars hanteer het.

Maar Woods het eensklaps sy gesig en beeld flenters geval, so vinnig soos ’n pannekoek wat ’n pan misgeval het. Indien ’n mens ’n "god" word wat enigiets kan kry wat jy begeer, steek seks iewers sy lelike kop uit, en dit is wat hier gebeur het. Toe Woods tot tien meisies tegelyk in ’n casinobed probeer bevredig het (volgens die dokumentêr), het die stories natuurlik begin rondloop. En so vinnig soos die publiek ’n god opbou, net so vinnig vind hulle sy voete van klei, veral waar seks uitspattig rondspat of oortredings begaan word. (Dink aan Joost van der Westhuizen en Hansie Cronjé.) Die publiek put net soveel genot uit die val van ’n ikoon as aan die opbou van een, en dit is gedeeltelik wat hierdie uitstekende dokumentêr weerspieël – hoe maklik ’n held hel toe kan gaan.

Dit is verbasend nugter en sonder sensasie geregisseer, behalwe die selftevrede voormalige redakteur van die National Enquirer wat hom (skynbaar) verlustig het in die hiënajag op Tiger. Van sy voormalige meisies het met berou en skaamte gereageer.

Hierna het hy nog foute begaan, soos dronkbestuur, maar een doodgewone mens kan net soveel stres hanteer. En hy is as ’n deurmat gebruik deur die publiek, en veral die pers, wat soos ’n tsunami op hom toegesak het. Kyk ’n bietjie hoe hulle hom soos ’n golf oorweldig het. Dit is ’n kwessie waar die dokumentêr geen doekies omdraai nie.

Tiger het sy voormalige vriende (onvergeeflik) afgesterf, wat as onverskoonbaar deur die dokumentêr uitgebeeld word, en homself heeltemal herskep. Hy het, veral na sy pa se dood, die krag gekry om nie die vervolg op sy pa te wees nie, maar net Tiger Woods, die gholfspeler. Maar om ’n balletjie in ’n gaatjie te slaan kan jou net so lank in die kollig hou voordat jy self in die gaatjie verdwyn. Luister bietjie na die verskillende kommentare uit verskeie oogpunte oor hom en sy geniale speeltegnieke.

Held? Ikoon? Doodgewone mens wat stokswaai? Superster? God? Hierdie drie uur lange dokumentêr delf tot diep onder die deurmat in en gooi die gifdoder Blue Death mildelik daar. Of jy as kyker daarin gaan verstik en of jy saam met die balletjie in die gaatjie gaan rol en daar versmoor, is jou saak.

Sterk aanbeveel op Showmax.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top