Tietie, leeuwyfie, jou glo in my het my gemaak

  • 8

“Hier is  ’n artikel wat ek oor my ma geskryf het. Dié storie is so baie vroue se storie.”
- Uit die e-pos waarby hierdie stuk aanheg was.

"My ma, soos so vele, was een van die onerkende heldinne van ons gemeenskappe."

 

2020 – wat ’n jaar.

Dit was ook my derde jaar van rou vir my geliefde engelkind, Adam George.

2020 was die jaar van afwagting. Ja, ons het gedink dit is ons jaar. Die lewe was besig. Die ure in ’n dag was te min om al die funksies by te woon. Ja, die jaar het begin soos ’n klapper wat aanhoudend skiet. Ons maak visionêre borde – rêrig ’n mallemeule. Dit was ook my derde jaar van rou vir my geliefde engelkind, Adam George. Toe ek in Maart 2020 na die Libertas-koor se uitvoering, met Lynelle Kenned, gaan luister het, nadat ek vir maande stil geraak het, het ’n skielike kalmte oor my kom rus. Die magiese Brahms-musiek het my gestil. Ek kon selfvoldaan sê: “Wow, ek het dit tot dusver gemaak.”

Min het ek geweet dit sou die laaste uitvoering van 2020 wees wat ek sou bywoon.

Die jaar 2020 was uitdagend en gevul met voortdurende veranderings, herbeplanning, herbesinning en die bewus wees van die een sekerheid – dat ons leef met onsekerheid. Ingeperk, afgesonderd en geïsoleerd was ons fisies van geliefdes, familie, kollegas en vriende geskei. Desnieteenstaande kon ons moed hou, en hoopvol het ons aanhou vorentoe beweeg. Ons het geleer om groter met ons oë met ’n masker te glimlag. Groot was die vooruitsig na die feesgety en om so ’n bietjie asem te haal na die uitdagings van ’n COVID-19-jaar. So, die vooruitsig was daar van ’n nuwe jaar. Nooit sou ek kon gedink het die feesgety sou my hart in soveel splinters breek nie, en dit op Kersdag.

Nooit sou ek in my wildste drome myself ’n jaar soos 2020 kon voorgestel het nie: eers die ongeloof, die verslaenheid, die skielike verlies van bemindes, verlies aan werk, aanskoue van armoede en die ontasbare/onsigbare virus wat jou bekruip. Hulpeloosheid. Weer eens was ek op ’n trapmeul. Ek het onmiddellik aan president Ramaphosa ’n brief geskryf, omdat hy in sy eerste rede aan die nasie, waarin hy die regulasies verduidelik het, nagelaat het om persone met gestremdhede te prioritiseer. Sopkombuise, rolstoele uitdeel, Zoom- of Teams-vergaderings, het my nuwe daaglikse take – eintlik dag en nag – geword. Hiermee alles het ek my Tietie (moeder) aan my sy gehad. Sy het my aangemoedig om my sê te sê en te veg vir dié wat stemloos en agtergelaat is in die bekom van net ’n stukkie brood en die gevoel dat hulle lewens saakmaak.

Ja, Tietie het geweet hoekom sy my ook in 2020 ondersteun het, want sy weet wat dit is om aan die agterspeen van die samelewing te suig.

Christine was die oudste van tien kinders. Sy sit voor, tweede van links, langs haar pa, Frank Abrahams. Haar ma, direk langs hom, was ook Christina.

My alles is nie meer nie. Waar begin ek om die merkwaardige verhaal van my ma, Christina (née Abrahams) le Roux, te vertel?

Graag deel ek met julle die verhaal van ’n inspirerende vrou wat oor soveel gawes en talente beskik het, wat ek die voorreg gehad het om Tietie (wat “ouer suster” beteken in Arabies) te kon noem. Tietie was my biologiese ma en nog baie meer.

Op Kersdag, 25 Desember 2020 is my moeder, Christine le Roux, alombekend as Christie-girl, Titi, Mamma Têt, Tietie, Girla, ’n diva, oorlede, presies om 12 middag. In my arms het sy haar laaste asem uitgeblaas en het tyd stilgestaan. Die werklikheid van haar sterflikheid was oorweldigend groot. Niks kan jou daarvoor voorberei, of daarteen skans of beskerm nie. Daar gaan soveel gedagtes deur jou kop, maar die hart is gebreek en die siel gekwes. Die pyn so intens.

Ek was so vol hoop vir 2020, want ek het gedink Covid gaan my nie kry nie. Ek is ’n survivor, ek het reeds soveel oorkom: polio, apartheid, ’n breingewas, ’n kind aan die dood afgestaan, ’n egskeiding na ’n huwelik van 28 jaar.

Ek het vir myself afgevra: “Wat kan daar tog nog met my gebeur?” Ek het mos vir Tietie, en Tietie het gesê: “My kind, Glo in God.”

Ek kon alles aanpak, want ek het altyd geweet Tietie is in my corner. Ondanks die COVID-19-inperkingsregulasies was dit moontlik om ’n TV-program getiteld Die lewe skuld jou niks aan te bied. My lewe kon voortgaan. Min het ek geweet hóé die lewe geleef wil wees. Natuurlik met Tietie aan my kant, al sou ons fisies geskei wees.

My selfvoldaanheid het nie einde gekry nie, nie eens toe ek in ’n motorongeluk was waarin ek eintlik moes gesterf het nie. (My motor is afgeskryf.) Maar ’n lig het in my motor verskyn, en ek kon met my verswakte arms betyds my motor wegdraai van ’n muur. Nog het ek nie dié lig gesien nie. Ek leef weer eens asof niks gebeur het nie.

My geliefde skoonma sterf drie dae na my geliefde oorlede seun se verjaarsdag. Ek dink ek raak mal. Maar nog is dit nie die ergste nie. Op 1 Desember bevestig my toetsresultate ek het Covid. My dogter, Aimee, versorg my dag en nag. As ’n poliolyer is my immuunstelsel baie swak. COVID-19 is ’n werklikheid; dit het my wêreld omvergegooi. Wéér eens draai ek by die dood om.

Toe word Tietie met COVID-19 gediagnoseer. Na haar ontslag uit Sonstraal-hospitaal, op Vrydag 15 Desember 2020, kenmerkend van Tietie, stap sy in ’n pienk, satynnagrok daar uit. Ek sê vir myself: “Waarlik, ek en Tietie het weer eens as oorwinnaars uit die stryd getree.” Min het ek geweet dat God Tietie aan my geleen het vir 10 dae. Op 24 Desember 2020 doen ek nog ’n inskrywing op my FB van hoe dankbaar ek is dat God my en Tietie gespaar het – dit was 7-uur die aand. Ja, Oukersaand. Ek speel toe nog al die Kersliedere op die klavier, want ons hou Oukersaand.

Om 4-uur die oggend van 25 Desember hoor ek my ma se eerste kreun. Nog ’n bondel wasgoed word gewas en opgehang. Ek merk by die kamervenster ’n dooie duif. Teen 6-uur die oggend was ek en Aimee vir ons geliefde Tietie … Ek, vol hoop, sit Tietie met haar voete in lou soutwater, en Aimee spons haar af. Ek onthou nog haar woorde: “Dankie Marlene. Is ek nie ’n las nie?” Ek het die voorreg om te antwoord: “Nog nooit nie, Tietie.” Die ritueel was eintlik ons afskeid. Ons bure, die De Klerks oorkant ons, het ook vir Tietie so liefgekry. Die kinders het vir Tietie kom geskenke bring. God was goed, as ek nou daaroor dink, want Tietie was ’n kinderliefhebber. Sy het nog die kinders se hande gevat. Toe ek haar neerlê, het sy sag heengegaan.

Soos net met ’n diva, was Tietie se brose liggaam bedek met ’n rooi kleed toe die lykdraers haar kom haal. Dit het my onmiddellik opgeval, want Tietie en rooi lippe was sinoniem.

Tietie se volle verhaal gaan verskeie jare terug, spesifiek na die jaar 1967. My geliefde Tietie se onwrikbare geloof en onvoorwaardelike liefde het in my as ’n drie maande oue baba in 1967 neerslag gevind. My Tietie en ek het in die politieke bestel van apartheid grootgeword. Dit was ’n stelsel van rassediskriminasie waarin voorkeur aan blankes gegee is. Gedurende 1967 was die beskikbare entstof vir polio vir blankes gereserveer. Daar was ’n tekort by die kliniek vir “gekleurdes” en gevolglik het ek op die ouderdom van drie maande die vernietigende poliovirus (kinderverlamming) opgedoen. Tietie het my, ernstig siek, na die kliniek op Wellington geneem. Die dokter het die volgende verpletterende woorde vir haar gesê: “Neem haar na ’n predikant, sy gaan sterf, gee haar klere weg.” Onwerklik, onmenslik – en net so was ons uit die spreekkamer geskuif. Dit was op ’n Vrydag in November 1967, en gedurende die naweek het my toestand verswak en het die poliovirus die mobiliteit van my bene aangetas en my gestremd gelaat.

In daardie dae was dit ongehoord vir ’n vrou om te skei. (Ja, Tietie het vry skei gekry.) My pa (wat ek nooit geken het nie) het net een keer sy hand opgelig in die kort huwelik van drie maande, en Tietie het die beste besluit ooit in haar lewe vir my geneem – sy het gesê, genoeg is genoeg.

Die gemeenskap het Tietie vir my polio en gestremheid blameer.

Natuurlik was sy verwerp, want my oupa was ’n ouderling in die VGK, destydse NG Sendingkerk. Alhoewel Tietie verwagtend geraak het binne die huwelik, wou die kerkraad hê sy moet tug loop. Tietie was in haar tyd ’n aktivis. Sy het gesê te hel met hulle. Toe is dit weer my doop, en ek kon nie gedoop word nie. Waar is die pa? Tietie het nie tug geloop nie. Aan die einde was ek gedoop. My dooprok is nog steeds in Versaillesstraat 21. Niks kon Tietie onderkry nie. Die gemeenskap het Tietie vir my polio en gestremheid blameer – die dade van die ouer was die oorsaak.

Tietie het so elke dag van haar lewe, elke dag van my lewe, vir my baklei. Sy het my ’n kans in die lewe gebied toe sy geveg het om my vir sub A te laat inskryf by die skool, ’n tydperk waar niemand ’n kind met ’n gestremdheid aanvaar het nie. Deur haar aanhou en moedhou kon ek ’n lewe bou.

Sy het ’n toekomsvisie gehad dat ek gaan klavier speel. Sy het haar karige inkomste gespaar en ’n klavier gekoop, ongehoord vir daardie jare! Die klavier was ’n luukse en het die meeste ruimte van ons kamertjie (wat ons gedeel het met twee ander persone) in beslag geneem, maar sy het my menswees as dogtertjie raakgesien en my gawes en talente aangemoedig en ontwikkel.

Tietie was een van die min vroue van Wellington wat ’n bestuurslisensie gehad het. Nie noodwendig so ’n goeie bestuurder nie, maar sy het gevoel ’n vrou moet independent wees. Jy moet jou eie geld hê, al verdien jy R20 ’n maand. Dit is joune.

Tietie het my gelyk gemaak vir die wêreld en het met inbors en integriteit vir my ’n lewe geskep. Toe ek nie by die Universiteit van Kaapstad toegelaat was nie, as gevolg van ’n tekort aan geld en my gestremdheid, het Tietie vir my my mantra geleer: “Staan op en maak plan.” Dit is hoe ek by die UWK beland het. Hand aan hand is ek met haar aan my sy universiteit toe. Daar het sy elke tree saam met my gestap, ook gedurende die struggle-jare. Daar was sy ook vir my vriende op kampus ’n bron van onbaatsugtige omgee en ondersteuning. Sy het gedeel in my lag en trane – en ek was my hele lewe lank die ontvanger van net onvoorwaardelike liefde en aanvaarding.

My ma was my anker. Sy het my die mens gemaak wat ek vandag is. Sy het hierdie diepgekoesterde omgee vir haar gemeenskap uitgeleef, veral dié met gestremdhede. Nooit sal ek vergeet dat sy nooit ’n moeder en haar gestremde kind ongesiens verby sou gaan nie. Sy het die uitdagings van die lewe ten volle beleef en verstaan. Tietie het by ’n fabriek gewerk. Met haar eie gestremde kind moes sy sonder toegang tot vervoer oor die weg kom. Haar menswees was deurweek van omgee, begrip en simpatie. Sy was uitgesproke en reguit, maar het nooit ’n slegte woord oor enige iemand te sê gehad nie.

Sy wou nooit trek uit die skema trek nie, want dit is haar mense. Daagliks het sy vir hulle gesorg. Dit is hoekom ek vir almal proteas gegee het; om vir die gemeenskap dankie te sê, maar ook om te wys, ek sal nooit my herkoms vergeet nie.

Tietie was by uitstek ’n selfaangestelde maatskaplike werkster – nee, meer, ’n nie-amptelike Sassa-verteenwoordiger vir die gemeenskap. Sy het gehelp waar sy kon, van die invul van vorms tot die vervoer van diegene in nood na die plaaslike kliniek. Haar hart en deur was vir almal oop.

Ten spyte van die uitdagings van die lewe het sy elke dag voluit geleef! Tietie was lief vir sing en ek het spoedig by haar aangesluit. Gou het ek vir die familie, vriende en die publiek gesing – my sangtalent was my trots! Sy was ’n uitstekende ballroom dancer, en ’n pragtige skoonheid van Wellington. Rooi lippe was haar handelsmerk! Tietie, ’n vrou met styl!

Drie generasies, 17 September 2020. Ek, my geliefde Tietie en dogter Aimee.

So baie keer hoor ek haar woorde uit my mond. Dit is met die grootste trots dat ek myself ’n dogter van Christine le Roux kan noem.

Tietie, jou glo in my het my gemaak.

Tietie, in die donkerste tye was jy altyd daar vir my. Jy het jou familie, elke liewe een, onvoorwaardelik liefgehad, elkeen van die nege kinders met wie jy opgegroei het. Jy was ’n ongelooflik toegewyde lid van die VG Kerk en het beskik oor ’n onwrikbare geloof in God. Weet dat jou lig vir my altyd sal bly skyn.

My masker was rooi, want Tietie se lippe was altyd rooi.

My geliefde Tietie, jy het my grootgemaak! Deur jou het ek bekend geraak. Met verloop van tyd het ek iets van myself gemaak. Jy het van my ’n aktivis vir die lewe self gemaak! Jy is by my elke tree wat ek stap, in elke woord wat ek spreek. Al die toekennings, erkennings en prestasies het jy moontlik gemaak. Graag dra ek aan jou op alles wat ek ontvang het.

 

Tietie – wat ’n mens!

24 Augustus 1942

Christine le Roux, oudste dogter van Frank en Christina Abrahams
Christy-Girl, Titi, Mamma Têt, Girla en my Tietie,
Min het ons besef watter edelsteen is aan ons geskenk.

Jackie, Willie, Frankie, James, Patty, Marjorie, Richard, Ray, Edward –
Altyd, áltyd aan hulle kant

Tietie, jy was ’n Protea
Groei in harde aarde
Geblom in droogte
    Gestaan deur die aanslae van stormwinde
        Gehard
            Vol van hart.

Tietie – voor vir jou tyd – ja ver voor!
Aktivis, feminis
Sonder fieterjasies!
Diep gelowig
Sonder formele onderwys was jy ’n professor van die lewe
Sterk, wys, van hoë intellek, belese, ingelig
–  ’n Lig.

Onverskrokke, uitgesproke
Omgee, teer, sagte hart
Deur Tietie se ondervinding van seer, pyn, verwerping
Kon sy in meelewing met ander in hul skoene stap.

Wat ’n mens!

Christy-Girl – diva, skoonheid, ballroom dancer van formaat,
Onerkende nagtegaal
Klassiek,
rooi lippe, jou trademark
Geliefd en bemin
Oud en jonk

Wat ’n mens!

Tietie, leeuwyfie wat haar welpie te alle tye
Ten alle koste,
Teen alle strome,
Geveg vir my bestaan,
Jou glo in my het my gemaak …
Marlientjie, Moena
Marlene le Roux

Tietie, my lewe was jou lewe
En jou lewe was my lewe …
My rots.

Dankie Tietie.
By Tietie het ek geleer –
Môre, sal die Son weer Skyn!

78

Wat ’n mens!

 

  • Gedig geskryf deur Marlene op Tietie le Roux se sterfdag, 25 Desember 2020
  • 8

Kommentaar

  • Avatar
    Cecil Nyman (Gibby)

    Baie mooi Merlene. Die beste wat ek nog gelees het n dogter skryf van haar ma. Ek kan be-aam want ek het ook die voorreg gehad om die merkwaardige vrou te ken. Jou ma was my ouers se beste vriendin.
    Ons dink aan jou en God seen jou.

  • Avatar
    Evelyn Leukes

    Marlene ... Môre sal die son weer skyn ...
    Maar nou sê ek dankie dat jy jou diepste mens wees met ons deel. Die Here het jou met net die beste geseen. Jou Tietie was almal se Tietie. Ons kinders in die dorp was ook verryk deur jou Ma se liefde vir jou. Mag God vir jou, Aimee en die bree Abrahams-familie versterk. Lief jou altyd meer.

  • Avatar
    Jonathan Londt

    Baie indrukwekkend en hartroerende diep uit jou menswees geskryf.

    Marlene dankie dat jy van jouself Tietie en Aimee deel. Ons kan assosieer met die pyn wat jy deurmaak. Dankie dat julle, spesiaal jy in julle gesonde, positiewe space toegelaat het.

    My poem: A Song of Humaness

    Formidable women
    Exemplary to our communities
    Sacrificial with your talents
    Blown away by your humanness
    Soothed by your lyrics and songs
    Women of stature
    You made our world a better place
    Tietie your grace and tenacity
    Was there for all to see
    Your humanity inspired Wellimgtonians
    A Mother with class and dignity
    Tietie a woman of grace charm and resilience
    Halala Halala

    Halala beautiful souls Halala
    March on daughters of Tietie
    March on
    Halala beautiful souls Halala

    Your inspirational life story is forever in my heart.

  • Avatar
    Robina de Waal

    Marlene Le Roux,'n naam waaraan ek altyd met deernis dink.Nie oor jou gestremdheid nie, oor jy so moed baie het en my so baie moed gee. Dankie Tietie dat jy Marlene die waagmoed vir die lewe gegee het. Mag ek ook 'n Mamma vir my spesialebehoefteskind wees soos wat Tietie vir Marlientjie (een van ons Bushies se bestes) was.

  • Avatar
    Avril Fillies

    Net soos in jou ander familie, die Fortuins van uncle Hannes was daar ook 'n Christy-girl, my ma Christina, en ek het ook haar naam geerf, al die Christinas was omgee-mense want my ma se deur het ook vir almal in Eersterivier oopgestaan en toe my pa Tony aftree het hulle elke maand kospakkies opgemaak vir die bejaardes, want almal het geweet hier by die 8ste van die maand, is daai pensioengeld op en wag hulle vir die volgende maand. Ek is ook die persoon vandag wie en wat ek is, danksy my Christy-girl, Dankie dat ek sommer jou huldeblyk ook vir my ma toe-eien, want ons hou dit in die familie. Sterkte aan my familie in Wellington

  • Avatar
    Nico Schamrel

    Wat 'n ongelooflike vrou en besonderse ode aan haar. Mag meer en meer haar voetspore volg - haar mooiheid soos rooilip-soene in almal se gedagtes bly, as herinnering aan iemand wat so baie beteken het vir die mense om haar.

  • Ek kon met droë oë nie die stuk lees nie Marlene ... Jy beskryf so onbeskryflik mooi, so baie oor jou amazing tietie ... Dinge wat al die woorde in n woordeboek nooit eens sal tot reg laat kom nie ... haar storie ... Jul storie. Die pyn. Die oorwinning. Die trots. Die liefde. Die geloof. Die krag. Dit sal my altyd bybly. Dankie dat jy so kon deel. Ons liefde vir jou en jou Aimee, hetsy die afstand en jare wat verby is, het net meer geword. Deur al jou Hoogste en Laagste tye was ons hartseet en bly saam met jou. Ons hou jou en jou gesin in ons gedagtes en gebede. Mag jy haar altyd met jou dra. Soos daai rooi lipstick. Xx. Ons sal nie vergeet nie. Nooit nie. Liefde altyd ... Shannon, Heidi en Timm

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top