Tien vrae: SD Fourie oor Die dooies leef

  • 6

Skrywers oor hul nuwe boeke: SD Fourie oor Die dooies leef.

Waarom het jy jou jongste boek geskryf – en was daar een idee/emosie/faktor waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Dat die ongesêde so ’n groot impak op die lewens van baie mense kan hê.

Solank ons die dooies onthou, leef hulle.

Dit is ’n opvolg vir Die lanternswaaier – dié karakters was nog nie uitgespeel nie.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Die tydspronge. Dit is ’n hedendaagse storie verweef met een van meer as ’n honderd jaar gelede.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Ja, ek het nie die middel-van-die-boek-insinking vrygespring nie. Doen opsomming, beplan maar weer vooruit en dissiplineer jouself voor die rekenaar.

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? (Of iets anders – en, indien wel, wat?)

Tema en ruimte.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Nee, maar ek was gelukkig om Helene van der Westhuizen as redigeerder te hê. Sy het my gedryf om self met iets beters vorendag te kom.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Ek is ’n gedrewe skrywer – soos baie ander.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Nou besig met ’n opdragwerk oor die geskiedenis van Gansbaai en omgewing, maar in my agterkop draal ’n paar karakters wat wil uit.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

PG du Plessis en Khaled Hosseini – dis moeilik om uit te sonder, maar as ek moet, dan dié twee.

Volg jy die Poolshoogte-skrywerskongres op LitNet? Wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?

Ek is slegs ’n storieverteller en my stories is nie in diens van die politieke platform nie. Ek het baie bewondering vir skrywers wat uitgesproke hul man (of vrou) staan.

Terugkyk ... Daar was en is begaafde skrywers wat ons rykgeskakeerde letterkunde tot op internasionale vlak gedra het.

As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die literêre landskap nou?

Ek is opgewonde oor jong, eerlike skrywers soos Dominique Botha se Valsrivier.

Hier is 'n foto van SD Fourie se werkstasie:

 

  • 6

Kommentaar

  • Ek het albei die boeke van SD gelees en dit baie interessant gevind aangesien die Strandveld ons vakansieplek as kind was; Kleinbaai, Franskraal, Uilenkraalsmond, Pearly Beach ens. My moeder wat op Napier groot geword het se een doopnaam was ook Lourens. Ek het ook as kind saam met die wa en die tente by die getypoel op Kleinbaai geleef. Ek sou graag met SD self ook wou kontak maak aangesien my vrou saam met haar skoolgehou het of dit kon haar man gewees het.
    Dankie

    • Hallo Jurie, dankie. Bly jy het die boeke geniet. Kontak gerus. Jou vrou het seker saam met Jan, my man, skool gehou. Gegroet SD

  • marie de villiers

    Hi SD, jou pos is seker so bedrywig, ek verwag nie 'n antwoord nie, maar wil net sê: jy VERDIEN al die lof wat jy kry as skrywer. Het Lanternswaaier geniet en waardeer, en nou Die Dooies Leef by biblioteek gekry - wonderlik! Onthou jy die keer wat ek en Duif by julle geslaap het 'n aand en jy my 'n storie van jou gegee het om te lees - in Sarie of Rooi Rose - en ek het jou gesê, en dit BEDOEL, jy gaan nog BAIE skryf!!!
    Dink regtig baie aan julle!! En sal nie die "hond se oë" vergeet nie . . . Baie groete, Marie.

    • Dankie Marie - ja, ek onthou jou woorde! Hoop dit gaan goed met julle. Ons is tans besig met die Gansbaai se geskiedenis en ek sien en hoor niks anders nie. SD

  • Christiaan Taljaard Lourens

    Interessant. My pa het op Brandfontein grootgeword. Altyd gepraat van Franskraal en Uilenkraalsmond en Gansbaai. Oupa was Karel (De Baan) Christiaan Lourens van Ratelrivier. Baie stories by my pa gehoor. Dankie.

  • Ek het Die Lanternswaaier baie geniet,en wil nou spoedig ook Die Dooies leef lees.
    Het die lanternswaaier werklik veroorsaak dat skepe langs hierdie kus vergaan het?
    Ek geniet dit baie om dorpies in ons land se museums te besoek en boeke te lees uit die ou dae van ons voorgeslagte en hoe hulle geleef het. U het dit werklik reggekry in hierdie boek,en die storie daarby was heerlik om te lees en ek sien nou uit om bogemelde boek te lees. Baie dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top