Tien vrae: Rhona Scheepers oor Pedale van papier

  • 4

Skrywers oor hul nuwe boeke: Tien vrae aan Rhona Scheepers oor Pedale van papier.

Waarom het jy Pedale van papier geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Grootliks word daar probeer om gehoor te word. Dalk in Karien se geval die eerste keer. Pedale begin by ’n ineenstorting en emosionele onstabiliteit.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Die leser word nie gespaar nie, omdat daar dadelik begin word met ’n klimaks wat gewoonlik eers teen die middel of selfs aan die einde verskyn.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Die laaste drie hoofstukke was die emosies baie intens, amper asof jy nie nog kan vat nie.

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? (Of iets anders – en, indien wel, wát?)

Die innerlike krag van die hoofkarakter en dié van die sielkundige vul mekaar heeltyd aan sonder dat dit ooglopend is.

Pedale van papier handel oor aanneming en identiteit en dis delikate temas waarmee baie lesers sal kan identifiseer. Het jy ’n ideale leser in gedagte gehad of vir wie skryf jy?

Ek skryf vir elke persoon, oud of jonk, wat op soek is na vryheid en innerlike genesing.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ja, ek het, omdat ek vertroue gehad het in sy leiding.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy? 

Ek skryf deeltyds en is gelukkig om al jare lank skool te hou en dan ook verseker te wees van voordele. Dit maak my gelukkig wanneer lesers my skrywe geniet of sê hulle kon nie die boek neersit nie.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ja.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Chanette Paul het nie net in my storie geglo nie, maar het my ook alles wat ek weet, geleer van skryf. Leon van Nierop, wat geduldig was met my dom vrae. Isa Konrad se Soenoffer, so skokkend, maar so nodig.

Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde op die oomblik – die boeke wat verskyn (en dalk ook in die onlangse verlede verskyn het)?

Ek is eerste ’n leser voordat ek ’n skrywer is en kan eerlik sê dat ons puik skrywers het. Die een na die ander uitstekende werk beland op die rak. Ongelukkig, en dit is regtig baie ongelukkig, haal die een na die ander uitstekende werk nie die rak nie. Skrywers raak moedeloos omdat hulle werk nie gekeur word nie en wend hulle tot selfpublikasie wat eintlik maar gebonde is. Tog is daar baie ruimte vir goeie werk. Moenie opgee op jou eie werk nie. Die stories groei saam met die lewe en hulle wat lief is vir lees, is skatryk.

  • 4

Kommentaar

  • sunet vd walt

    Ek self was in dieselfde situasie as Karien, baie goeie boek en laat mens net besef dat ander deur selfde vrae en emosies as jy gaan. Ek is reeds 43 en moes ook moeilike keuses maak nadat my bioligiese ouers opgespoor is.

  • Dit was 'n uitstekende boek; ek kon hom nie neersit nie. Emosiebelaai en 'n helse eye opener.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top