Skrywers oor hul nuwe boeke: Martin Steyn gesels oor donker spoor.
Waarom het jy hierdie onlangse boek geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?
Ek het ’n paar manuskripte vir publikasie voorgelê, sonder sukses. Die keurverslae het dieselfde trant gehad: die potensiaal is daar, maar die praktiese uitvoering kom kort. Toe ontdek ek per ongeluk die South African Writers’ College, danksy Google se neiging om soms vreemde konneksies te maak, en sien die Skryf ’n Roman-kursus raak. Ek het ingeskryf en dis waar donker spoor ontstaan het. Wilna Adriaanse was my tutor en ek het van die begin af vir haar gesê my doel is nie soseer om ’n roman te skryf nie, maar om ’n manuskrip te skryf wat goed genoeg is om gepubliseer te word.
Wat die storie betref, was daar ’n paar bronne van inspirasie. Geweldsmisdaad interesseer my, reeksmoordenaars veral. Hulle ontwikkeling, die sielkundige redes agter die spesifieke slagoffers wat hulle kies en die dade wat hulle uitvoer, en profielsamestelling fassineer my. Ek lees baie ware-misdaad-boeke, en die moordenaar in donker spoor se persoonlikheid en sielkunde is geïnspireer deur ’n ware geval. Die misdaadondersoek in sy geheel, veral ná ek begin het om met plaaslike speurders en forensiese deskundiges te praat, is vir my baie interessant. ’n Groot deel van die lekker is juis om ’n realistiese en eg Suid-Afrikaanse moordondersoek te probeer beskryf, en dis net hierdie mense se bereidwilligheid om al my vrae te beantwoord en hulle ervarings met my te deel wat dit enigsins moontlik maak.
Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?
My groot tekortkoming was altyd karakterisering. Dit was gewoonlik die belangrikste en meestal sommer eerste bron van kritiek. Dit was die ding wat bly haak het, waarmee ek en Wilna Adriaanse die langste geworstel het – selfs na afloop van die kursus, want donker spoor is nie onmiddellik aanvaar nie. Gelukkig het Wilna nooit geloof in ou Mags se potensiaal verloor nie.
Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik, en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?
Nie in terme van storie nie, maar die karakterisering was soos ’n hindernis waaroor ek net nie kon klim nie. Ek was al moedeloos en het ’n volgende manuskrip begin skryf. Maar Wilna wou nie laat los nie. Op haar aanbeveling het ek, ná ek eers weer deur die manuskrip gewerk het, dit aan LAPA gepos. ’n Maand of wat later kry ek ’n e-pos van Cecilia Britz dat sy belangstel om donker spoor te publiseer. Sy stuur vir my Chanette Paul se manuskripverslag, waar ek lees: “Ek kan nie aan een speurkarakter dink wat my al ooit so ontroer het soos Mags nie ... Die persoonlike demone wat hy beveg, is eg menslik en oorspronklik aangebied.” Ek het natuurlik dadelik vir Wilna laat weet, en ons was natuurlik ewe oorstelp. Daardie verslag lê nog steeds op my lessenaar.
Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema?
Ek is hoofsaaklik ’n instinktiewe skrywer en ek dink nie aan die storie in terme van komponente nie. Waarskynlik omdat ek, afgesien van die SAWC-kursus, geen formele skryfopleiding het nie. Dis ’n baie organiese proses. Al wat ek regtig deeglik vooraf uitwerk, is die moordenaar se persoonlikheid, modus operandi, “signature” (as dit ’n reeksmoordenaar soos in donker spoor is) en viktimologie. En ek sit met ’n groot kaart van die Skiereiland en soek plekke om liggame te “dump”! Maar ek gee wel ekstra aandag aan die karakters, omdat dit ’n gebied is waarop ek nog altyd kortgekom het. Verder is navorsing vir my baie belangrik, omdat ek so hard probeer om realisme na te jaag; dit voed ook in baie opsigte die storie. En ek hou van goeie dialoog.
Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?
donker spoor is deur Cecilia Britz aanvaar. Sy is die fiksiebestuurder, wat haar hand oor die hele proses hou.
Daarna is die manuskrip na Chanette Paul vir ’n verslag. Sy kyk hoofsaaklik na die storie-aspekte. Ek het seker aan ten minste 90% van haar opmerkings en kwellinge aandag gegee, en donker spoor is vandag ’n sterker en beter storie as gevolg daarvan. Daar is veral een hoofstuk wat ek grootliks oorgeskryf het, wat na dese baie beter werk, en ook interessanter is. Chanette het ook aanbeveel dat ek ’n spesifieke toneel waarna net verwys word, fisies beskryf. Ek was nie oortuig nie, tot ek dit gaan skryf het. Dis ’n voorreg om haar te hê om deur my stories te gaan.
Met die storieverwante kwessies uitgepluis, is die manuskrip na Jeanette Ferreira toe, vir teksredigering. Sy kyk weer na die tegniese aspekte soos sinskonstruksie, woordvolgorde, ens. Omdat my skryfinvloede hoofsaaklik Engels is, neig ek nogal na Engelse stelswyses en uitdrukkings, en ek leer baie by Jeanette.
Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?
Dis my droom. Stephen King het my met sy stories verlei en die skrywerslewe aan my “verkoop”. Vandat ek so sestien, sewentien was, wou ek ’n publiserende skrywer wees. Dit het lank gevat. Ek het erg begin twyfel, maar gelukkig nooit tou opgegooi nie. Want die werklikheid is beter as wat ek gedink het. Geld kan nie die dinge koop wat mens regtig gelukkig maak nie.
Werk jy reeds aan ’n volgende manuskrip?
Kyk na die foto (heel onder) ... Die manuskrip met aantekeninge lê links, Chanette se verslag steek net-net bo die toetsbord uit, en op die skerm word dit verbeter. Die boek kom volgende jaar!
Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?
Ek is bevrees ek het as skrywer met Engelse boeke grootgeword. Stephen King bly maar Die Een. IT is hoekom ek begin skryf het. En nog steeds: om ’n Stephen King-boek te lees is net anders, ’n bietjie meer spesiaal.
Ander invloede: Die eerste Afrikaanse fiksie wat my beïndruk het, was ’n voorgeskrewe kortverhaal in matriek: “My Kubaan”, deur Etienne van Heerden. Briljant. Ek het toe nog in Engels geskryf. Marita van der Vyver was ’n bewys dat mens goed en lekker in Afrikaans kan skryf. Die Dinge van ’n Kind bly my gunsteling Afrikaanse boek. Tana French, vir haar vermoë om met woorde te skilder. Jodi Picoult, vir haar vermoë om deur verskillende oë na dieselfde situasie te kyk. En Quentin Tarantino, wat nou wel nie boeke skryf nie, maar my gewys het hoe wonderlik dialoog kan wees.
Volg jy Poolshoogte? En wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?
Ek het al ’n paar artikels op Poolshoogte gelees. Maar ek dink nie ek is regtig bevoeg om kommentaar te lewer nie. Ek het eintlik maar eers onlangs begin om regtig Afrikaans te lees, die laaste paar jaar. Wat ek sal sê, is dat ek heelwat boeke op die Afrikaanse rakke sien wat my aandag trek en waarby ek graag wil uitkom. Ek het ’n maand of wat gelede Poppekas gelees, van Deborah Steinmair, en dit was ’n besonder lekker, verrassende ontdekking.
As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?
Vol belofte. En ek is baie opgewonde om deel daarvan te wees.
Só lyk Martin Steyn se werkspasie: