Tien vrae: Keina Swart oor Die potlooddief se bruid en ander stories

  • 0

Skrywers oor hul nuwe boeke: Keina Swart oor Die potlooddief se bruid en ander stories.

Waarom het jy Die potlooddief se bruid en ander stories geskryf?

Ek het ses jaar gelede ’n storie vir Beeld se By-bylae geskryf oor my vyfjarige seun se toevallige ontmoeting met sy rugbyheld, Bryan Habana, en sy ontnugtering toe Habana die “Blou Bulle gelos het”. Die reaksie op die storie het my voete onder my uitgeslaan. Mense het my van heinde en ver gebel (selfs Bakkies Botha se ma het my met ’n ompad opgespoor). Dié storie en ’n paar ander het my daardie jaar die prys as Sanlam se Rubriekskrywer van die Jaar vir die Gemeenskapspers besorg. Ek het van die storie vergeet en dit verlede jaar weer opgediep toe ek iets by die US Woordfees op Stellenbosch vir Johan Bakkes se Storievuur moes voorlees. Die Maandag ná die fees het Protea Boekhuis laat weet hulle soek ’n bundel met nóg 59 sulke stories. Ek dink ek skuld vir Bryan Habana big time!

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Ek het aanvanklik getwyfel of mense regtigwaar belang sou stel in ’n gewone gesin se reise en honde, hartseer en vreugdes, leesgoed en dinkgoed. Amelia de Vaal, my redakteur by Protea, was egter die groot aanporder langs die kantlyn. Baie van die stories het die afgelope sowat tien jaar as essays en rubrieke verskyn in publikasies soos Die Burger, Beeld en Rapport. Daar is ook ’n handvol nuwes by. Dit het dit maklik gemaak dat van die stories dus minstens een keer reeds deur ’n taalversorger se hande was. Die nuwes is meestal halwe stories wat óf iewers in my kop, óf iewers op my rekenaar rondgeswerf het. Ek moes net gaan sit en hulle enduit vertel.   

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Nie regtig nie. Wat ek wel soms doen as ek ’n dooiepunt bereik, is om eers ’n bietjie op te hou skryf en vir ’n rukkie net te lees in die genre waarin ek op daardie oomblik werk. Ek probeer konsentreer op dit waarvan ek hou én veral dit wat hinderlik is. Ek het my sommer weer opnuut verlustig in die herlees van twee van my ou gunstelinge in dié genre, Die Rooi Granaat van Audrey Blignault, en Wellington se suiker deur PH Nortjé.

Keina Swart

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ja beslis. Ek en Amelia dink gelukkig baie dieselfde. Sy was ook my jeugboek, Bloujaar, se redakteur. ’n Groot uitdaging was hoe ons die stories sou rangskik, omdat party meer as tien jaar gelede geskryf is, en ander splinternuut is. Uiteindelik het ons besluit om dit te rangskik onder: mans van my hart, vroue van my hart, kinders van my hart en stories van my hart. Daar was ook ’n paar wat ons saam besluit het om eerder uit te laat, en ander wat moes lyf bykry.  

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Ek is gelukkig in dié opsig dat my boeke nie my brood en botter is nie. Ek en ’n vennoot het sowat 14 jaar gelede die plattelandse koerant Die Pos op Bela-Bela gekoop, waar ek steeds voltyds redakteur is en ook berigte skryf. Ons het kantore op vier dorpe in die Waterberg en sowat 20 voltydse personeellede. Dis my woorde wat kos op die tafel sit. My boeke is die woorde wat kos in my hart sit. Ek het aanvanklik begin kinderboeke skryf omdat ek iets vir my kinders wou nalaat. Ek het vir elkeen hul eie kinderboek geskryf, en hulle sêgoed en skandes duik ook in talle stories in Potlooddief op.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ek is deel van ’n opwindende projek saam met ’n groep skrywers en kunstenaars wat ’n bundel uitbring met “selfportrette” as tema. Dit word in Maart in die Oude Libertas-galery op Stellenbosch vrygestel om saam te val met die US Woordfees. Verder is ek besig met ’n paar kortverhale vir bundels saam met ander skrywers en daar is ook van my kinderverse wat opgeneem word in ’n boek. En dan het ek nog altyd hierdie één storie in my kop wat al lank broeiplek soek. Maar vir hom is die tyd nog nie reg nie. Intussen “maak ek elke week koerant”.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Ek het nie noodwendig skryfhelde nie, eerder gunsteling-boeke. Die afgelope jaar of wat lees ek saam met my kinders jeugboeke. Van die lekkerstes vir my was The terrible thing that happenend to Barnaby Brocket (John Boyne, Corgi), Joran Noordewind (Lillli Thal, Protea Boekhuis) en ook Benny Lindelauf se Nege oop Arms en Die hemel van Heivisj (Protea Boekhuis). Werksgewys het ek lekker gelees aan A Native of Nowhere: The life of Nat Nakasa (Ryan Brown, Jacana).

Onder my gunstelinge van alle tye tel The Kite Runner en A Thousand Splendid Suns (Khaled Hosseini, Bloomsbury), Angela’s Ashes (Frank McCourt, Flamingo), The Color Purple (Alice Walker, Phoenix), Die swerfjare van Poppie Nongena (Elsa Joubert, Tafelberg) en Pieternella van die Kaap (Dalene Matthee, Tafelberg).

Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde op die oomblik – die boeke wat verskyn (en dalk ook in die onlangse verlede verskyn het)?

Ek is opgewonde! Mense mors te veel asem en ink op die simpel boeke wat hulle gelees het – die verveliges, diés met redigeerfoute in, die holruggeryde temas, die floues ... En daar ís ongelukkig baie van hulle. Maar goeiste, daar is honderde ander wat jou na nuwe boekrakke in elke vertrek in jou huis behoort te dwing. Ek is ook opgewonde oor die wonderlike vertalings van oorsese boeke wat in Afrikaans verskyn. Ek het grootgeword op vertaalde stories van Dr Seuss, die Grimm-broers, Richard Scarry, noem maar op. Dit het my lief gemaak vir lees én vir Afrikaans. Ek kan nie verstaan waarom mense kla oor vertalings nie.

Wat is jou gedagtes oor die toekoms van Afrikaanse boeke en tendense?

Daar is beslis sekere tendense en neigings, sekere beproefde resepte en sekere “name” wat altyd sal verkoop. Natuurlik moet uitgewers daaraan aandag skenk. Wat egter soos ’n paal bo water staan, is dat ’n ongelooflik goeie storie wat op ’n ongelooflik goeie manier geskryf en aangebied word, sál werk. Selfs al doen jy absoluut die teenoorgestelde van wat “die mark wil hê”. En dís weer die uitdaging vir elke skrywer. Skryf móét moeilik wees. Publiseer móét moeilik wees – anders gaan die “so-so” boeke te veel kosbare spasie op ons boekrakke begin inneem.

Ander publikasies

Wat dokter Snollieneus nie kan doen nie, 2007, Publiself Uitgewers
Hoekom praat grootmense so snaaks?, 2010, Protea Boekhuis
Bleek Bennie se Woeste Hoes, 2011, Protea Boekhuis
Bloujaar, 2014, Protea Boekhuis
* ’n Kortverhaal, “Besoek van Dorothy”, in Spoorvat: Jeugherinneringe van Suid-Afrikaanse skrywers, saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn, 2013, Lapa.

Daneel Swart (vyf jaar oud op dié foto) en Bryan Habana
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top