Tien vrae: Jean Lombard oor Die ding in die riete

  • 0

 

Waarom het jy Die ding in die riete saamgestel – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Die bloemlesing is ’n voortvloeisel van ’n doktorale proefskrif oor waterslangverhale in Afrikaans wat ek reeds begin 2000 voltooi het. Agterin bedank ek Hennie Aucamp en George Weideman vir hulle hulp, veral met die insameling en keuse van tekste vir bespreking. Nadat Aucamp die proefskrif gelees het, het hy aanbeveel dat ek ’n bloemlesing saamstel, en hy het my aandag op nog gepaste stories gevestig. Daar het ook ander wonderwesens as waterslange bygekom, byvoorbeeld die jongmeisie as meermin in Abraham H de Vries se “Soms op ’n reis”. Die fokus het verskuif vanaf teorie en ontleding in die proefskrif na die aanbieding van die primêre tekste in die bloemlesing. Soos Linda Rode tydens ons bekendstellingsgesprek by Protea Boekwinkel tussen verhaal en teorie onderskei het: “Jy moet die gereg kan proe, nie net die resep hoor nie.”

Omdat die samestelling van Die ding in die riete so lank geneem het en daar steeds tekste bygekom het, was daar weliswaar meerdere faktore wat as inspirasie gedien het.

Ek wou naamlik baie graag met lesers deel hoe wydverspreid hierdie wonderbaarlike waterverskynsels in die wêreldmitologieë en -letterkundes voorkom. Wanneer “moderne” skrywers soos George Weideman, Thomas Deacon en Petra Müller die simboliek van “water”, “slang” en “steen” (op die voorkop van die waterslang) boonop binne ander kontekste benut, dan verkry hierdie simbole nuwe betekenis.

Die verhouding tussen letterkunde en ander vakgebiede het my ook steeds gestimuleer. Ten einde die oorsprong van waterslang- en reënbeesverhale na te gaan, was dit nodig om kennis te neem van antropologiese gegewens oor puberteits- en reënmaakrituele by die Boesmans en die Khoekhoen. Hierdie rituele word in die bundel in verhaalvorm weergegee, nl in “Kinders van die waterslang”, “Maagmeisie” en “Die diere vra om kos en water”. ’n Ander interdissiplinêre verhouding wat stimulerend gewerk het, was dié tussen letterkunde en religie (waaronder animisme, inheemse Afrika-gelowe en Christelike gelowe).

Die verhouding tussen taal en religie (of dan “mite”) is nog ’n aspek wat jou nie sommer laat los as jy met mitologiese verhale begin werk nie. Feitlik al die verhale in Die ding in die riete het te make met (ek haal aan uit die inleiding deur Antjie Krog) “die ’spirituele’ of die ’goddelike’, dit wat misterieus en onpeilbaar is: die begeerte en soeke na die geheel en al Onbegryplike, die Gans Andere” (xi). Hierdie begeerte en soeke vind plaas deur middel van taal, en die verhale is ’n poging om nader te kom aan die begrip en verwoording van vrae waarvoor die rede en die sintuie geen bevredigende antwoorde kan bied nie.

Wat was die moeilikste aspek van die samestellingsproses van hierdie boek, en hoekom?

Ek het gedink dat enige bloemlesing verhale beslis die moeilikste soort boek moet wees om saam te stel, totdat my uitgewer, Riana Barnard van Tafelberg my aan Groot verseboek herinner het! Ek sou sê dat die keuse van die regte formaat (nl die gepaste verhouding tussen verhale en addisionele inligting) vir my die moeilikste aspek van die samestellingsproses was.

In die finale formaat is die klem op die verhale, met klein bietjies addisionele inligting voor of aan die einde van die tekste, wat die leser oriënteer ten opsigte van kwessies soos die skrywer se herkoms, sy of haar doel met die verhaal, die konteks waaruit die verhaal of fragment geneem is, ens. Saam met ’n ander uitgewer het ek lank gewerk aan ’n teks vir skoolgebruik, met die addisionele inligting wat toe heel anders daar uitgesien het, byvoorbeeld rigtende vrae by die lees van die verhale, onderwerpe vir stelwerk en klasbespreking, ens.

Antjie Krog, wat die skoolmanuskrip onder oë gehad, het my oortuig dat ’n bloemlesing verhale vir volwasse lesers saamgestel moet word en nie vir leerders nie. (Volgens haar sou ek heeltemal te veel klagtes kry oor al die seksuele verwysings!) Die klem moes op die verhale val, met die addisionele inligting tot die minimum beperk. Besluite oor die formaat van so ’n bundel hang dus direk saam met wie jou teikengehoor is. Baie van die verhale in die bloemlesing is van folkloristiese oorsprong en sommige het in jeugboeke verskyn, wat die indruk skep dat hulle in die eerste plek vir jong kinders geskryf of vertel is. Om dan ’n definitiewe keuse te doen dat jy die bundel vir volwasse lesers saamstel, ’n besluit wat dan weer die formaat bepaal, was vir my stellig die heel moeilikste aspek van die samestellingsproses.

Het jy op enige plek in die proses ’n dooie punt bereik en wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Ek kan eerlik sê dat ek nooit die gevoel gekry het ek is in ’n totale doodloopstraat nie. Ek het bly glo dat ek ’n manier sal vind om die wonderbaarlike verhale, waaruit ek so baie kon leer, met ander lesers te kan deel. Toe die skoolboekprojek nie realiseer nie, het ek besluit om die verhale net eers te laat lê en nie onmiddellik enige verdere inisiatief te neem nie. My man, Christo, het toe klaarblyklik besluit: nee, so ’n stilstand sal nie deug nie. Hy het die manuskrip vir Antjie Krog, wat saam met hom by UWK werk, gegee om te bekyk. Sy was geesdriftig oor die versameling verhale en het vir my waardevolle raad oor die formaat gegee, soos ek hier bo genoem het. As hoogs suksesvolle en wyd-erkende skrywer wat groot waarde aan multikulturele ekspressie heg, het haar aanbeveling by die uitgewer uiteraard veel gewig gedra. Op versoek van die uitgewer het Antjie ook toegestem om ’n insiggewende inleiding te skryf. Die mate van dooie punt wat ek dus wel bereik het, is genadiglik oorkom deur die ondersteuning en kundigheid van my man en vriende en kollegas om my heen.

Slange is volop in mites en verhale. Wat was vir jou die belangrikste aspekte om in hierdie boek te beklemtoon en waarom?

Wat vir my die verrassendste was om vas te stel, was die feit dat daar soveel waterslangverhale – oor dieselfde wonderslang as waarvan die Khoekhoen en die Boesmans vertel – in Afrikááns bestaan, mondeling en skriftelik. Ek kon dus die afleiding maak dat die waterslangargetipe deel uitmaak van Afrikaanssprekendes se onbewuste, dalk selfs van ’n bewuste geloof – hoewel baie mense dit as bygeloof sal dui.

Maar ek het ook gevind dat die grense tussen geloof en bygeloof nie altyd so fyn te onderskei is nie. Wat vir die een geloof is, is vir die ander by- of ongeloof. Linda Rode het in ons bekendstellingsgesprek ’n vriend aangehaal wat haar daaraan herinner het dat wat tans vir baie mense mite is, vroeër as waarheid gegeld het.

Verder is die geloof aan die waterslang – en ander soortgelyke verskynsels – nie net tot Suider-Afrika beperk nie. Oral in Afrika – en op ander kontinente – waar daar riviere, mere, poele of kuile voorkom, word daar verhale vertel oor een of ander soort watergod. As gevolg hiervan ontstaan vergelykingsmoontlikhede tussen verskillende letterkundes die wêreld oor.

Hoekom is dit vir my belangrik om deur middel van verhale in Afrikaans (sommige in vertaling) hierdie aspekte by ander lesers tuis te bring? Dit was vir my verrassend en insiggewend dat daar tussen die verskillende bevolkingsgroepe in Suider-Afrika ten opsigte van wonderslangverhale soveel verwantskap bestaan. Hierdie verwantskap kan ook verder uitgebrei word, na die slangverhale van Indonesië.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Nee, ek sou nie sê dat ek in álle opsigte geluister het nie. Ek was wel deurgaans tydens ons samewerking so verwonderd oor die feit dat die manuskrip aanvaar is en dat daar soveel moeite gedoen word (bv tov die illustrasies) dat ek doelbewus besluit het om toegeeflik te wees. Waaroor ons wel verskil het, is: die titel (wat ek intussen danksy positiewe reaksies van lesers so aanvaar het); die vertalings uit Nederlands; die uitbeelding (skets) van spesifiek die “Koning van die Groot Gariep” in afdeling 2; en die skakels tussen die verhale (dws die toegevoegde inligting oor die konteks van die verhale). Elkeen van hierdie aspekte is deeglik bespreek en hoewel die uitkoms nie altyd volgens my wens was nie, het ek steeds in gedagte gehou dat daar weer baie ander aspekte was waar die uitgewer my tegemoet gekom het.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom was jy betrokke by hierdie boek?

Ek het deels betaalde en deels onbetaalde verlof van die Universiteit van Namibië (waar ek vroeër gewerk het) ontvang om my PhD-studie oor waterslange te voltooi. Die begin van Die ding in die riete is dus gedoen vanuit ’n posisie van besondere bevoorregting. Die samestelling van die verhale, as voortsetting van die studie, het ek gedoen sonder dat geld ’n oorweging was. Ek het dit gedoen omdat ek graag die verhale en van die inligting wat daarmee saamgaan, aan lesers met soortgelyke belangstelling wou deurgee.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip – skryf jy self?

Nee, ek werk nie tans aan ’n spesifieke manuskrip nie. Daar is wel ’n hele paar idees waarmee ek speel – dalk skryf ek nog my eie slangverhaal.

Ek sou graag aan myself as ’n skrywer wou dink, al het ek nog geen eie letterkundige skryfwerk in boekvorm uitgegee nie. Ek noem voorbeelde van ander soorte skryfwerk waarmee ek my al besig gehou het. Die bevindinge van my proefskrif het ek nie net in akademiese artikels verwerk nie, maar ook in meer populêre vorm in drie aflewerings vir By, die bylae tot Die Burger. Ek het sporadies ’n paar kortverhale in akademiese tydskrifte die lig laat sien (soos Tydskrif vir Letterkunde en Literator).Sedert 2006 was ek vyf jaar lank betrokke by die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling, die Direkte Vertaling. Ek het aan slegs drie boeke meegewerk, maar dit was baie noukeurige werk: die versigtige keuse van woorde, die ritme en lengte van sinne, die Afrikaanse register. In dié tyd het LitNet ’n kompetisie uitgeskryf vir die vertaling van ’n Nederlandse gedig deur Marion Bloem, met die omvattende Groot Woordeboek vir Afrikaans en Nederlands as prys. Ek wou die woordeboek baie graag hê en het ekstra moeite gedoen met die vertaling. Toe ek die prys wen, het dit weer gelei tot ’n versoek van die redaksie van die tydskrif Muratho vir ’n artikel waarin ek die vertaalproses moes uiteensit. Vroeër vanjaar het ek ’n artikel vir LitNet Akademies oor GR von Wielligh geskryf. Al sou hierdie tekste nie in die algemeen gereken word as “kreatiewe skryfwerk” nie, gee hulle tog vir ’n mens die bevrediging van “skryf”.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Daar is beslis skrywers van wie ek meer hou as van ander, maar ek kan nie sê dat ek definitiewe skryfhelde het, in die sin van dat ek onmiddellik daardie skrywer se nuwe boek gaan aanskaf nie. Ek sou eerder sê ek lees volgens kategorieëas wat ek voorkeur aan bepaalde skrywers gee. Wanneer ek ’n roman klaar gelees het, probeer ek altyd om dan eers weer ’n niefiksiewerk te lees. Ek is met ’n teoloog getroud en ons het ’n huis vol boeke – in elke vertrek is daar boeke. Ek het in my prille jeug filosofie gestudeer en probeer nog gereeld boeke van beskoulike aard lees.

Wat romans betref, probeer ek hedendaagse tekste afwissel met die herlees van klassieke verhale, dikwels dié wat ek tydens my studentetyd in die Engels-kursus gelees het, soos dié van Dostojewski en Tolstoi. Ek sal ook reëlmatig Nederlands lees. Op my bedkassie is daar ook altyd ’n bundel gedigte en ’n bundel kortverhale of essays. Dan lees ek elke dag ’n gedeelte uit die Bybel of – soos ek gereeld herinner word – uit een van die 66 boeke van die Bybel.

Volg jy Poolshoogte en wat sien JY, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?

Sedert ek reeds in 2003 bedank het as voltydse dosent in die Afrikaanse letterkunde, probeer ek nie meer om by te bly met die lees van al die belangrike werke wat verskyn nie, en veral ook nie met literêre kritiek en literatuurteorie nie. Ek sal wel van tyd tot tyd ’n bydrae tot Poolshoogte lees, as ek die onderwerp (of titel!) baie boeiend vind.

Ek het in 1973 my BA-graad ontvang, dus is daar ’n baie lang pad om op terug te kyk. Ek is opgelei in die “close reading”- of stipleesmetodiek, waarvolgens daar nie aandag aan die konteks van ’n verhaal of ’n gedig gegee is nie. Dit was die geval nie net in Afrikaans nie, maar ook in ander tale wat ek studeer het. Deur so ’n “op die woord af” lees het daar definitiewe insigte na vore gekom. Daar het egter ook baie verlore gegaan, sonder enige kennis van die ontstaan van die teks of die plek daarvan binne die oeuvre van die skrywer.

As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?

’n Mens is dalk geneig om te idealiseer as jy vorentoe kyk, maar ek sien die wydlopige demokratisering van tekste, met weinig of geen hiërargieë nie. Een genre (of ontledingsmetode) is nie sonder meer belangriker as ’n ander nie. Verskillende tekste vanuit al wat soort of medium is, speel op mekaar in of word kreatief met mekaar vergelyk. Dit beteken nou nie “anything goes” nie. Ek wil tog sterk bly vashou aan die ideaal van “gehalte”, en dat waar ervare lesers of kykers bymekaar kom, hierdie gehalte intersubjektief relatief gemaklik sal blyk.

Hier is 'n foto van Jean Lombard se werkstasie:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top