Tien vrae: Jaco Fouché oor Siobhán van die sirkus

  • 0

Skrywers oor hul nuwe boeke: Jaco Fouché gesels oor Siobhán van die sirkus.

Waarom het jy Siobhán van die sirkus geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Daar is 'n paar bronne vir die boek, maar die een waaraan ek nou dink, is dat Adinda Vermaak, wat bundels vir skole saamstel, my so twee of drie jaar gelede vir 'n kortverhaal gevra het. Ek het toe 'n seun van so 12 of 13 as verteller gebruik. Sy stem het vir my so goed geklink dat ek dit ook in 'n ander, langer storie probeer gebruik het.

Dit was 'n verhaal wat nog nie gepubliseer was nie, oor 'n meisie van so 14. En vandaar het ek na Siobhán se stem beweeg wat ek as so half astrant teenoor gesagsfigure gehoor het.

Verder hou ek al die jare van narre in watter gedaante ook al: harlekyne, boemelaarnarre, mimiekkunstenaars. Toe ek oor hulle begin lees, kom ek op 'n ryk veld van figure en legendes af.

En ek kom so elke drie maande of wat in Wellington, wat 'n lieflike plek is, so ek kon oor die omgewing skryf.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Ek het geweet ek wou oor 'n sirkuskamp skryf, maar wat gebeur by sirkuskampe? Die enigste keer wat ek self ooit so iets gesien het, was in Rondebosch toe seuns aan 'n "flying trapeze" geswaai het. Wat ek wel geken het, was die kampterrein in Wellington waar ek helfte standerd agt 'n skoolkamp bygewoon het. Dit was in 1983. Ons is weerbaar gemaak en het min geslaap. Vandag is ek bly ek kon daardie ervaring met so 'n draai in my storie aanwend. Om 'n nuwe agtergrond vir 'n storie te kry, is vir my nogal moeilik.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik, en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Nee, vir 'n verandering het ek heerlik voortgeskryf. Net met die laaste paar paragrawe het ek mooi gedink. Soos 'n digter gesê het: slotte is sleutels. 'n Mens kan nie 'n slot ligtelik opneem nie.

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema?

Dis gewoonlik karakter. Ek is eenkeer in 'n tydskrifonderhoud as 'n randfiguur beskryf, maar die waarheid is, ek is baie lief vir mense. Ek is veral versot op familie-uitleg en staaltjies oor figure uit die ou dae. As jy 'n karakter het, kom die ander dinge gewoonlik daarmee saam, soos elkeen van ons 'n hele sleepsel, ruimte, atmosfeer, tema en intrige aan ons het.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ja, en daar is nie groot veranderinge gevra nie.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

'n Vriendin van my en my vrou het verlede jaar as onderwyser afgetree en sê sy sien as sy terugkyk dat 'n mens se paadjie vir jou uitgekap is. Ek glo dit self, hoewel ek toevallig vandag dagdroom oor ander werk. Dit raak bra vervelig om heeldag alleen te wees en ek het pas 'n stuk werk voltooi, so nou moet ek in iets nuut verdiep raak en ek bly dink miskien moet ek iets heeltemal anders doen.

Daar is 'n wonderlike aanhaling van Graham Greene wat ek nie meer akkuraat onthou nie, maar wat min of meer so lui: "I suppose in the course of writing a book which takes say two years one has a few days when one feels, this page has really come off. The rest is a discipline and sometimes a sense of extreme failure." Dit klink skielik vir my baie dramaties, so dalk moet ek net sê: dis een van die wonders van die lewe dat 'n mens kan gaan sit en tik aan 'n paar woorde wat 'n sin vorm, en sinne wat 'n paragraaf vorm, en paragrawe wat 'n boek vorm. Dis heerlik om dit te sien gebeur.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ek het pas 'n manuskrip aan my uitgewer voorgelê, 'n novelle en kortverhale. Ek het nog nie weer aan 'n storie begin werk nie. Daar is wel so 'n vae plan om 'n opvolg vir Siobhán te waag.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Vir jare was dit juis Graham Greene, maar op 'n dag het sy werk net te negatief vir my geword. Hy was 'n komplekse ou en selfs 'n gefolterde wese, as 'n mens die biografieë moet glo. Op die oomblik lees ek stadig maar seker aan The glass-bead game van Hermann Hesse. Ek hou ook van Thomas Mann se Tonio Kröger en Death in Venice. Ek het ook verlede jaar Anita Brookner ontdek. Dis self nogal negatief, maar daarby verskriklik mooi in die droewigheid en stemmigheid.

In Afrikaans hou ek onder meer van Dana Snyman en Herman Wasserman. 'n Groot boek vir my is Brink se Kennis van die aand. Ek is baie agter met die nuwe boeke.

Volg jy Poolshoogte? En wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?

Ja, ek volg Poolshoogte en het self 'n (dalk te persoonlike en naïewe) mening op die forum geopper. As ek terugkyk, sien ek jare se ontdekking en leesgenot. Dit wil egter lyk of die laaste werklik noemenswaardige figure die Tagtigers is. Kyk maar wie vat die groot pryse nog steeds. Was hulle die laaste werklik geletterde generasie?

As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?

Die landskap vorentoe lê besaai met handrekenaars en slimfone wat almal eenkant gegooi is ter wille van nuwer handrekenaars en slimmer fone. Ek voel bekommerd oor die toekoms van die boek en my eie vooruitsigte. Dit lyk of 'n mens draaiboeke sal moet begin skryf en jou stories as visuele materiaal probeer verkoop. Ek word aangeraai om speurverhale te skryf, maar ek het reeds twee: Die ryk van die rawe en Die avonture van Pieter Francken. Stories sal daar egter altyd wees, waarskynlik visueel en skouspelagtig, maar afgewater, met swaar steun op die literêre werke van ouds, soos die hedendaagse musiekbedryf met sy vlugtige deuntjies op die klassieke musiek met sy grootse simfonieë steun.

Só lyk Jaco Fouché se werkspasie:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top