Tien vrae: Eunice Basson oor Leiboom

  • 3

 

Skrywers oor hul nuwe boeke: Eunice Basson oor Leiboom.

Wie/wat is jou muse? Waar ontspring 'n gedig, of dan die kiem vir Leiboom, vir jou?

Geen spesifieke muse het hom/haar nog aangemeld nie. Die breë begrip van “leefwêreld” sorg vir baie prikkels en ontginning, soos herinnering (op die Engels “memory”), film, lees, die media, visuele kunswerke, gesprekke in die verbygaan met (on)bekendes, musiek soms, waarneming, tuinwerk, ens.


Wat is die moeilikste deel van die digproses vir jou?

Soms/dikwels moet ’n gedig eers sy lê kry of net onder ’n voorlopige titel gaan lê, veral as daardie instinktiewe rooi ligte aangaan. Soms broei so ’n gedig (wat eintlik nog net ’n “idee” is) vir weke, maande, selfs ’n jaar of twee. Dit is baie frustrerend en hou mens se kop ongemaklik aan die gang, en dan op ’n dag kom staan ’n (moontlike) oplossing voor jou.

Kom jy as digter soms te staan voor die “Kalahari’s wit papier”? Indien wel, hoe oorkom jy hierdie struikelblok?

Ja, die wit vel papier gebeur bepaald, maar tydens die kursus in kreatiewe skryfkuns wat ek onder leiding van Henning Pieterse by UP gevolg het, is dissipline rondom eie werk as deurslaggewend beklemtoon. Ons moes elke tweede week minstens drie gedigte in wording of “voltooide” werk vir bespreking aan die klas voorlê, en so is ’n roetine vasgelê wat ek steeds volg, naamlik om elke dag “iets” te verrig aan een of ander aspek van ’n gedig in wording. Dit bestendig ’n kontinuïteit van idees/gedagtes.

Sou jy sê dat jy in jou digkuns fyner ingestel is op klank of op beeld; of is klank en beeld vir jou intiem verweef?

Klank en beeld is vir my oorwegend intiem verweef, maar die tema in ’n gedig bepaal dikwels die intensiteit/toonwaarde van ’n klank-beeld-impuls.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Nee, ek het nie in alle opsigte na my redigeerder geluister nie, veral waar daar hier en daar ’n konseptuele ingreep voorgestel is, soos byvoorbeeld ’n (moontlike) titelverandering van ’n gedig. Maar ek wil dadelik byvoeg dat vir iemand wat uit ’n heel ander invalshoek die onbekende waters van poësie betree het, ek onder leiding van ’n besonder knap hand met veel kreatiewe insig touwys gemaak is en, met goeie reg, ook skeppend kortgeknip is.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

My leef– en werkwêreld is dié van kunshistorikus, maar taal bly nog altyd die medium van ontsluiting en kommunikasie van die visuele kunswerk. Die behoefte het algaande posgevat om meer kreatief met taal betrokke te raak en te werk en op dié manier het ek in ’n kursus vir kreatiewe skryfkuns beland. Kortom, ek skryf in die eerste plek vir myself.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ja, ek werk aan ’n moontlike tweede bundel wat uit werk mag vloei wat maandeliks voorgelê word aan ’n groep van vier kollegas wat almal die bogenoemde kursus in kreatiewe skryfkuns gevolg het. Die momentum wat in die klas opgebou is, word dus op dié manier voortgesit. ’n Ideale en sinvolle toetsterrein.

Watter digters lees jy graag?

Ek lees so wyd soos die Groot verseboek, Nuwe stemme, die ou Afrikaanse en Engelse digters van die veld, Wilma Stockenström, Breyten Breytenbach, Elisabeth Eybers, Johann de Lange, Hennie Nortjé, Marlene van Niekerk, Johann Lodewyk Marais, Joan Hambidge, Jeanne Goosen, Gilbert Gibson ... Genoeg, genoeg.

Volg jy Poolshoogte en wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?

Ongelukkig is tyd die alomteenwoordige vyand, maar wanneer die geleentheid hom voordoen om deur LitNet en Poolshoogte te werk, sien ek indringende oop en bevryde gesprekke en belangstelling rondom die Afrikaanse letterkunde, nog meer as, sê nou maar, twintig jaar gelede.

As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?

Ek sien ’n landskap waarin die Afrikaanse taal en letterkunde letterlik bevestigend gedy.

  • 3

Kommentaar

  • Christa van der Walt

    Laat laasnag, na middernag, het ek in my bed wakker gele en na RSG geluister, en sonder dat ek weet wie lees, en wie geskryf het, hoor ek die wonderlikste gedigte, asof dit uit my eie hart uitrol. Eunice, jy het my in trane gehad, ek het dit nog nooit so reggekry soos jy dit vir my reggekry het om my ma se dood so in woorde te sit nie ... hoe jy haar klere wegpak ... ek was vasgevang. Dadelik opgespring en jou naam neersgeskryf en was teleurgesteld dat daar nie meer was nie ... baie, baie dankie, ek gaan jou boek soek. Hoe sê mens nou eintlik? Dankie dat jy my hartswoorde verstaan, en dat jy hulle so wonderlik neergepen het. Wat 'n gawe. Met liefde, Christa van der Walt.

  • Inge P Brandt-Shahia

    Stompie!
    Ek sal 'Leiboom' soek. Klink na iets wat mens moet besit.
    Ek eer jou dat jy 'n droom werklikheid gemaak het.
    Inge

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top