Tien vrae: Deborah Steinmair oor Moestas

  • 0

Skrywers oor hul nuwe boeke: Deborah Steinmair oor Moestas

Waarom het jy Moestas geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het?

Woede vir mans, reken ek. Ek was nog nooit militant nie, maar hoe ouer ek word, hoe meer onwrikbaar begin ek glo testosteroon is die wortel van baie kwaad. Van my beste mense is/was mans, soos my pa. Maar dan is daar dié wat glo hulle is heer en meester oor vrou, kind, dier en planeet. Onversadigbaar “entitled” en leuenagtig.   

Wie se moestas en hoekom? (Of is dit juis deel van die raaisel?)

Dis die moestas in die algemeen; van Hitler se tandeborselsnor tot Mugabe se vuil smeersel. Vir die hoofkarakter, Aga, wat sensories defensief is, nog nooit aan 'n moestas of 'n penis geraak het nie, en vaag is oor mansgoeters, verteenwoordig moestasse penisse. Hulle is triomfantelik vreemd, opdringerig en “in jou gesig”. Sy het 'n speletjie ontwerp om haar in slapelose nagte te kalmeer: sy blaas die eindelose ry moestasse wat in ’n hallusinogeniese prosessie teen haar kamermuur verbymarsjeer, bokveld toe met 'n kragtige denkbeeldige kanon.

Vyftig skakerings van liggaamsdele. Watter een is volgende en is die woord publiseerbaar op 'n boekomslag?

Ek reken hier hou dit op. Toe ek gaan sit het om te begin skryf, het ek 'n heel ander roman in gedagte gehad – nie misdaad, speur of spanning nie; iets liries, dromerig en magies realisties, maar die viertal het hulle aan my kom opdring, veral Claude en Stasi in hierdie boek. Hulle het my gekaap. Ek was ook verlede jaar kortstondig en infameus in die nuus oor 'n sms-apologie wat ek ná dekades van 'n molesteerder ontvang het (ek wil nie “my” hier invoeg nie, maar ek wil dit ook nie laat klink asof daar meer as een was nie). My vriendin Liezl Dick het 'n song vir die mondfluitjie gekomponeer wat net uit ‘n refrein bestaan: "Ek wil net oukei wees." Dis 'n lewenslange proses, 'n nimmereindigende poging.   

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek? Of het jy op enige plek in die manuskrip ‘n dooie punt bereik en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Die heel moeilikste aspek was om in die kop van die kindermolesteerder te klim, om sy selfbejammering en selfregverdiging objektief te probeer weergee. Ek het gevoel soos nadat ek 'n episode van Dexter probeer kyk het: vuil en gekompromitteer. Soms sit 'n mens met bonsende hart oor die toetsbord en bewe. Dan kyk ek maar na TV-reekse tot alles minder intens is. Die volgende oggend kan ek nie glo ek het dit wat op die skerm staan, geskryf nie. Miskien het elwe my skryfkamer in die nag besoek.

Wat was vir jou die belangrikste aspek van die boek?

Om dit lig te hou, want ek glo 'n ligte aanslag is die mees effektiewe manier om versengende pyn weer te gee. Onderbeklemtoning. Ek het as kind in 'n Reader’s Digest ’n staaltjie gelees: iemand vertel sy oom het soos 'n matroos gevloek, kragtige swetswoorde uitgeryg by die ligste provokasie. Eendag het hy ten aanskoue van sy familie houtwerk gedoen en vier van sy vingers met 'n kringsaag afgesny. En al wat hy saggies gesê het, was: "Aw shucks." En dan natuurlik ook humor. 'n Mens probeer nie as skrywer om snaaks te wees nie; dit sou fataal wees. Die proses is organies, jou vingers en jou maag weet wanneer die spanning verlig moet word. 'n Mens sit ook nie hardop en lag nie, maar jou bonsende hart kalmeer wel enigsins. Maar jy weet mos.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ek luister altyd na my redigeerder, want ek het as jare lange leser voordat ek nog ooit gepubliseer het, gemerk hoe sommige gesiene skrywers, Hertzogpryswenners, hulle ooglopend nie steur aan hul redigeerders se "hokaai" nie en vir eie plesier (“wank” is is die Engelse woord) die lieflikste prosa pleeg, paragraaf na paragraaf, totaal en irriterend oorbodig. Ek glo 'n oog van buite weet beter. Laat ander maar my lieflingskênners nek omdraai.

Skrywers het nie ‘n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Ek skryf omdat dit al is wat ek nog altyd wou doen. 'n Mens glo, waarskynlik in grootheidswaan, dat daar 'n spesifieke manier van sien en weergee is wat niemand in die wêreld met jou deel nie. Ek glo nie ek is so 'n goeie skrywer soos die Hertzogpryswenners nie, maar ek wil glo ek is uniek, ek is aarde toe gestuur met 'n onontbeerlike boodskap. En ek wil glo as ek aanhou doen wat ek veronderstel is om te doen en lief is om te doen, moet geld ook in my spoor begin draf. Ek is immer optimisties.

Werk jy reeds weer aan ‘n volgende manuskrip?

Nog net in my kop, aan die een wat ek wou skryf toe Moestas my in die rede geval het. Dis nog net vae idees – dit ís altyd tot ek voor die rekenaar gaan sit. Ek weet nog net hoe die voorblad moet lyk, maar die uitgewers luister nooit na my nie. Ek is nog in die niemandsland tussen geboorte en boekbekendstelling. 

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

In Afrikaans hedendaags is dit Marlene van Niekerk, Etienne van Heerden (veral en beslis weer na Klimtol), Henning Pieterse, Eben Venter, Ingrid Winterbach en vele meer; plaaslik in Engels Lauren Beukes, Elaine Proctor. Internasionaal, Margaret Atwood, Barbara Kingsolver, Kate Atkinson, Hilary Mantel, Orhan Pamuk, Haruki Murakami en 'n hele spul ouer en soms saliger Joodse mans, soos Saul Bellow, Isaac Bashevis Singer, Amos Oz. Dan ook 'n paar ouer Britse vroue, soos Alice Thomas Ellis, Muriel Spark, Penelope Mortimer, Ruth Rendell. En 'n hele leërskare misdaadskrywers, hier en oorsee. 

Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde op die oomblik – die boeke wat verskyn (en dalk ook in die onlangse verlede verskyn het)?

Ek is heel opgewonde oor Afrikaanse letterkunde. Vele en opwindende boeke verskyn en die verveling, die doodse vaalheid wat vir my as kind die Afrikaanse letterkunde gekenmerk het, het by die venster uitgevlieg. Waar ek my aanmatig om soms my kollegas se boeke te resenseer, sukkel ek om iets negatiefs te kry om te sê: resensies moet ook nie lofliedere wees nie. Ek is baie beïndruk met ons skrywers.

Deborah Steinmair en die boekbekendstelling van Moestas is by die US Woordfees 2015.

Deborah Steinmair: Moestas
Aangebied deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers

Moestas volg op Deborah Steinmair se vorige raaiselromans, Die neus (2012) en Wenkbrou (2013). Aga, Jesse, Claude en Stasi is weer aan die stuur: hierdie keer is die kwessie kinder-molestering en ons sien Stasi as beskermengel én speurder in volle vaart. ’n Spanningsvolle verhaal met deernis en humor geskryf. Jonathan Amid gesels met die skrywer.
10 Maart 12:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Klik hier vir die volledige program.

Hieronder is 'n onlangse kykNET-insetsel waar Deborah Steinmair oor Fiësta-benoemings gesels het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top