Skrywers oor hul nuwe boeke: Clinton V du Plessis gesels oor Woorde roes in die water.
Wie/wat is jou muse? Waar ontspring ’n gedig, of dan die kiem vir hierdie uiteindelike onlangse digbundel, vir jou?
Die muse is dood. Dit is ’n kwessie van waarneem, aantekeninge maak, dan werk aan ’n moontlike gedig, weggooi, weer begin. Na Rangeer het ek net op ’n dag die nuwe titel in my kop gehad – oor verganklikheid, kortstondigheid. Toe kom die gedigte met nie te veel droogtetyd tussenin nie; ek verloor die bundel, op my hande geskryf … los dit vir ’n maand of twee en begin weer oor, gelukkig van ’n uitgedrukte kopie wat ek gemaak het.
Wat is die moeilikste deel van die digproses vir jou?
Die herhaalde oorskryf – dit voel later die woorde peul by my ore uit; ek kry nagmerries oor voorblaaie wat verkeerd gedruk is, blanko bladsye in die boek. Ek ken later elke dekselse reël uit die hoof – dis uitputtend. In so ’n mate dat jy nie die energie het om die manuskrip, in sy uiteindelike boekvorm, te wil lees nie.
Kom jy as digter soms te staan voor die “Kalahari’s wit papier”? Indien wel, hoe oorkom jy hierdie struikelblok?
Dit gebeur nie gereeld nie, maar indien wel, dan los ek dit en lees, kyk iets sielloos vervelig op televisie of ry alleen in my motor met Springsteen se musiek. Of ek skryf rubrieke of artikels.
Sou jy sê dat jy in jou digkuns fyner ingestel is op klank of op beeld; of is klank en beeld vir jou intiem verweef?
Meer beeld, maar met die neiging deesdae, dat digters by plekke moet voorlees om boeke te bemark, moet ek tog ook klank in ag neem
Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?
Hierdie is ’n selfpublikasie, maar dit beteken nie dat ek nié wel dele geskrap of bygevoeg het en krities na die werk gekyk het nie.
Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?
Daar was ’n tyd toe ek geskryf het omdat ek verveeld was, toe weer omdat ek gatvol was. Nou skryf ek om te probeer onthou.
Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?
Jy voel, na elke voltooide boek, soos iemand wat na ’n motorongeluk skrikkerig is om weer agter die stuurwiel in te skuif. Maar daar is los aantekeninge op my rekenaar. Tans bloot geraamtes, beendere – ons kyk of daar lewe van kom
Watter digters lees jy graag?
John Ashbery, Charles Bukowski, Billy Collins, Breytenbach, Johan van Wyk, Philip Levine.
Volg jy Poolshoogte? En wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?
Ja, ek mis die energie van die verlede, die anargie van ’n Dan Roodt met sy oshart-insident, die stroomopgeid, die kom-ons-kak-op-die-regering-se-blink-voorstoep-bravade.
As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?
Die eertydse hekwagters sit in hul kamers, en die heining is geknip, die ruite is uitgegooi, en dit is koud daarbinne. Die “taal” is ’n bewerige ouman, bekommerd of daar iets sal oorbly om in sy testament te bemaak aan die nageslag wat nie kan lees nie.
Só lyk Clinton V du Plessis se werkspasie:
