Tien vrae: Anzil Kulsen oor 'n Hart vol sand

  • 0

Skrywers oor hul nuwe boeke: Anzil Kulsen oor 'n Hart vol sand

Waarom het jy ’n Hart vol sand geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Ek was op die uitkyk vir nog eg Noord-Kaapse stories. En hierdie storie het in my kop begin vorm aanneem toe my man vertel van die plekkie waar hy was waar absoluut niks aangaan nie. Ek wou graag meer van die uniekheid van die Noord-Kaap weergee, dus het ek letterlik gaan kyk wat in die plekkies waar niks aangaan nie, aangaan. En die resultaat was skokkend, en het baie materiaal vir hierdie boek gebied.

Wat was die moeilikste aspek van die skryf van hierdie boek, en hoekom?

Die moeilikste was om die kulturele kwessies en die storie mooi saam te weef. Om die maatskaplike probleme wat die gemeenskappe in die gesig staar, op so 'n wyse aan te bied dat dit empatie by die leser wek en tog ook 'n storie vertel wat hoop gee, met ‘n bietjie humor ook tussenin.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik, en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Op 'n stadium het ek gewonder is daar werklik 'n storie, is dit 'n verhaal wat vertel moet word, maar die karakters het begin leef in my hart en kop en ek kon hulle nie in die steek laat nie. Groepe wat met inligting moes help, was ook nie altyd ten gunste van die idee nie, so ek het nogal voor 'n groot uitdaging gestaan. Maar niemand, nie Freek, Richard, Cathy of Jenna nie, wou my toelaat om net tou op te gooi nie!

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? (Of iets anders – en, indien wel, wat?)

Ek dink my karakters en ruimte was die belangrikste punt. En hopelik het dit gehelp om atmosfeer te skep. Ek wou alles wat ek in my omswerwinge raakgeloop het, inwerk in die storie. Ek wou dat die leser die kameeldoring saam met Jenna sien, die doringkomkommer saam met haar proe. Ek was so vasgevang deur die karakters se lewens dat die teorie my heeltemal ontglip het. Die simboliek deur die duifvleis wat Jenna met die plaaslike kinders eet, die duif van vrede/versoening, is by die bekendstelling deur Christo van Rensburg aan my uitgewys. Nou ja ...

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Nee, dit was maar altyd 'n moeilike saak. Dis veral moeilik om 'n redigeerder te oortuig dat alles wel in een gemeenskap en met een karakter kan skeefloop. Maar ek was so ver moontlik gehoorsaam. 😉

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Die antwoord is eenvoudig: ek moet sin probeer maak van alles wat kwel, en alles wat ek sien en hoor. En as ek dit nie op 'n skrywende manier probeer doen nie, sal ek dalk mal raak.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ja, maar ek gaan niks daaroor praat nie. Ek hoop net dit vat nie hierdie keer so lank om die lig te sien nie. 🙂

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Internasionaal: Frank Peretti, John Maxwell, Jodi Picoult, Nora Roberts, ook haar JD Robb-boeke. Plaaslik inspireer skrywers soos Elana Bregin, Chanette Paul, Leon van Nierop, Gerda Taljaard, Alta Cloete en Deon Meyer my.

Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde op die oomblik – die boeke wat verskyn (en dalk ook in die onlangse verlede verskyn het)?

Afrikaanse letterkunde loop gelyk met internasionale werk. Dis jammer dat baie Afrikaanse lesers Engelse boeke verkies, want Afrikaanse skrywers is besig om 'n blywende merk te maak!

Wat is die lekkerste ding vir jou in die lewe – en die lekkerste ding vir jou storie se hoofkarakter? En die moeilikste (vir julle albei)?

Die lekkerste ding ... hmm ... As harde werk resultate oplewer, as geregtigheid seëvier, as mense wat agter die skerms hul bydrae maak, erkenning kry, en as ek met leerders gesels oor hul potensiaal en daar gaan 'n liggie aan! Vir my karakters: om as ware “mense” deur lesers ervaar te word!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top