Tien vrae: Annelie Ferreira oor Chuck Norris kan deel deur nul

  • 0

 

Skrywers oor hul nuwe boeke: Annelie Ferreira oor Chuck Norris kan deel deur nul.

Waarom het jy Chuck Norris kan deel deur nul geskryf – en was daar een idee/emosie/faktor waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Die karakters het by my opgekom, en ek wou weet wat hulle storie was. 

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

My lyf! Ek het 'n heupoperasie gehad drie maande voor die sperdatum, en die herstel was stadig. 'n Maand voor die sperdatum (toe daar nog báie werk was) het my stuitjie by die partytjie aangesluit. Die laaste twee weke kon ek glad nie meer sit nie, en het op my sy in die bed gelê en die grand finale met een hand op my laptop afgejaag. 

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Verskeie kere! Dan het ek besluit om die &^*% storie te los, want dit *%^&$ werk nie. Ná 'n tyd – weke of maande – sou die inspirasie my weer beetkry. Ek het ook 'n keer 'n slim vriend se mening gevra oor die eerste paar hoofstukke, en hy het my goeie raad gegee. 

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? (Of iets anders – en, indien wel, wat?)

Ek het begin by die karakters, en wat met hulle gebeur – maar veral ook wat hulle láát gebeur. 

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Nee. Ek waardeer altyd goeie raad, en hou in gedagte dat as die keurder/redigeerder iets nie snap nie, die leser dalk ook probleme daarmee gaan hê. Maar as ek werklik nie met iets saamstem nie, sal ek dit nie verander nie. 

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Ek beplan om die uitsondering te wees, ahem. 

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Altyd. 

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Sjoe. Ek het nie helde nie, maar daar is baie skrywers van wie ek hou, om professionele en persoonlike verskillende redes. Elke mens bring mos iets unieks na die wêreld, en dit maak my gelukkig om dit te waardeer. 

Volg jy die Poolshoogte-skrywerskongres op LitNet? Wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?

Ek moet bely dat ek nie Poolshoogte volg nie. Enige goeie storie het universele betekenis. Stories vermaak, genees, versterk, prikkel, skuif grense.

En vorentoe?

Die toekoms is ons s'n wat ons moet skryf.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top