Thys Nywerheid: "Ons het al bietjie moeilikheid gekry ..."

  • 0

Die satiriese kunstenaar Thys Nywerheid en sy getroue kameraad Draaitafel Jafel werk aan ’n nuwe album. Thys beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Thys. Hoe's dinge?

Lekker, man! Dis winter in Afrika, maar warm genoeg om te braai, so ons kla nie.

thys3web

Thys, dit wil voorkom of jy een van daardie anti-establishment tipes is. Hoe het jy betrokke geraak by hierdie aweregse manier van dinge doen? Die regering, gewilde Afrikaanse popkunstenaars, kultuurverskynsels ... niemand is veilig nie. Is jy al gedreig of in hegtenis geneem? Is daar ’n groot genoeg poel luisteraars/aanhangers wat smag na hierdie soort rebelse liedere vir Thys Nywerheid om ’n volhoubare loopbaan te skep?

Ek is van nature wederstrewig. Ek hou nog altyd van musiek met ’n sterk sosiopolitieke aanslag. Rage against the Machine, The Clash, Frank Zappa, sulke goed. Soos die boodskap op Woodie Guthrie se kitaar getuig het: “This Machine Kills Fascists.” Ek dink egter Thys Nywerheid is ge-conceive toe ek destyds die Voëlvry-album gekry en die ding heeltemal fucked up geluister het.

Ja, ons het al bietjie moeilikheid gekry oor wat ons doen. Die bestuurder van ’n bekende kuierplek in Centurion het ons eendag vriendelik vermaan om “op te hou kak praat op stage”. Ek is ook al in hegtenis geneem, maar dit was lank terug en dis ’n storie vir ’n ander dag. Ek dink nie baie mense verstaan Thys Nywerheid nie omdat dit baie tong-in-die-kies is, en met alle respek gesê, die deursnit-Afrikaner is satiries gestremd. Ons sou ’n volhoubare loopbaan met Thys Nywerheid kon aandurf as ons die biologiese lastigheid van eet/drink/slaap kon oorkom.

Benewens die satiriese skerpheid is daar ook beslis musikale aanleg te vind in dit wat julle doen. Wat is jou musikale geskiedenis? Hier is skynbaar ’n aanvoeling vir elektroniese elemente by musiek – hoe probeer jy dit ontgin teenoor die gebruik van fisiese instrumente? Dink jy daar's ’n mate van balans wat behou behoort te word as ’n mens ’n snit saamstel?

Ek was, is en sal altyd ’n kitaarspeler wees. Dis my primêre musikale agtergrond en my grootste passie in die lewe. Ek het klassieke, flamenco- en jazz-kitaar studeer en my tande geslyp deur vir baie uitlopende bands te speel: alles van Afrikaanse folk, jazz, blues tot industriële metal. Ek het ’n maniese obsessie met kitare. Daar is so baie wat jy met die instrument kan doen. Danksy Eskom se loadshedding het ek onlangs weer my akoestiese kitaar ontdek en daar is niks meer beautiful as ’n akoestiese kitaar nie. Draaitafel Jafel kom van ’n sterk elektroniese agtergrond en hy is ’n wizard op die turntables. Hy kan baie mooi sing ook. Mooier as ek. Ek grom net in my baard. Soos ’n slegte mens. Hy is dus ’n 2-turntables-and-a-microphone tipe dude.

Ons klank van elektroniese musiek en heavy kitaarrifs het maar natuurlik evolve omdat ons nie die budget het om ’n goeie konvensionele rhythm section te bekostig nie en ons maar begin improvise het in my studio wat bestaan uit ’n PC, ’n paar kitare, ’n Jimi Hendrix poster en ’n paar katte. Elektroniese musiek is baie involved, dit kan moerse tegnies raak en daar is baie puik musikante (soos Infected Mushroom) wat net so skilled is in elektroniese musiek as wat Steve Vai op kitaar is. Ek sal graag vir jou ’n tegniese antwoord wil gee van presies hoe ons ons musiek skep, maar die waarheid is eintlik al wat ons doen is ons draai die knoppies totdat dit vir ons nice klink.

So gepraat van snitte saamstel – dit verg seker ’n mate van dapperheid om die opperheersers (soos in "Please mister president") en kultuurelemente (soos in "sonskyn en wyn") handskoenloos aan te pak. Hoe werk die skep van ’n snit by jou – wag jy vir ’n nuusitem of ’n opmerking om ’n braaivleisvuur om vir jou inspirasie te bied? En wanneer jy skryf, gegewe die reeds genoemde vervaardigingstalente, hoe vinnig hoor jy in jou kop hoe ’n lied uiteindelik moet klink? Hoe verskil jou humoristiese aanslag van meer tradisionele kunstenaars in hierdie opsig, of is ’n lied maar ’n lied?

Songwriting is definitief meer ’n dark art as ’n science. Dis soos alchemy. Mens moet die muse met ontsaglike respek en nederigheid benader, want sy is maar ’n misterieuse dame wat baie fickle is. Elke kunstenaar se metodiek is seker anders, maar vir my begin dit dikwels by ’n rif, groove of chord progression. Ek is ’n groot fan van rifs. Black Sabbath, Led Zeppelin, AC/DC en talle ander bands het al bewys dat mens met een kick-ass rif die wêreld kan verower. Goeie subject matter is orals om ons: nuusberigte, boeke, films, social media, gesprekke en selfs die teks agter op chipspakkies. Wat die skeppingsproses aanbetref: die cliché van 10% inspiration and 90% perspiration is nogals waar. Die meeste goeie songs skryf hulself in 5 minute en dan verg dit ure se werk om dit na iets te laat klink. En mens is nooit tevrede nie.

Die vermenging van musiek met woorde/stories of beelde kan interessante resultate oplewer. Musiek is by uitstek baie abstrak en woorde is weer meer logies van aard. As jy byvoorbeeld doelbewus opgewekte musiek gebruik en dit dan afspeel teenoor donker of siniese lirieke kan dit baie powerful wees. Martin Scorsese gebruik dikwels die tegniek in sy films. Sting doen dit ook gereeld. “Every breath you take” is nie ’n love song nie, dit gaan oor ’n fokken stalker! Ons gebruik gereeld humor in ons musiek, maar dis definitief nie die Leon Schuster-tipe humor nie. Ons gaan eerder vir die Frank Zappa-tipe vibe. ’n Lied is seker maar net ’n lied, want min mense luister regtig na die lyrics. Kyk net hoeveel mense wat nie ’n woord Duits verstaan nie, absoluut gaande oor Rammstein is. Ek wonder of hulle nog so baie van Rammstein sal hou as hulle agterkom die subject matter van baie van Rammstein se lyrics lees soos iets uit Game of Thrones.

Thys Nywerheid werk aan ’n nuwe album – jy het ’n paar rowwe vermengings vir my aangestuur, die tjoens is bedonnerd. Dit klink of daar ’n opsetlike en lekker terugbeweeg na die rock ’n roll van ouds is, ’n klank wat beide Chuck Berry en die Beach Boys instemmend sou laat knik. Waar kom hierdie benadering vandaan? Is dit bloot suiwer vir die pret, of is dit iets wat met optredes golwe kan maak, gegewe die gewildheid van groepe soos Mumford en die Lumineers wat soveel inspirasie put uit ouer musiekelemente?

Dankie, bra. Ek hoop mense geniet ons nuwe album net so baie soos wat ons dit geniet om dit te maak. Ja, ons gaan definitief terug na die rock ’n roll klank van ouds. Daar is ’n baie sterk Rockabilly vibe en ook ’n bietjie van ’n old-school punk-aanslag en ons probeer om die nuwe tunes so eenvoudig en catchy as moontlik hou. Ek was onlangs by die Ramones-museum in Berlyn en ek het besef watse ongelooflike songwriters hulle was en dat hulle meestal alles reggekry het met net drie chords. Myns insiens is hulle meer invloedryk as Nirvana. Alles wat ons doen, word bloot vir suiwer pret gedoen, maar as mense dit like is dit ’n baie welkome bonus. Daar is deesdae so baie sub-subgenres, goeters soos Norwegian Melodic Black Techno Death Metal en sulke kak, en nismarkte word al hoe kleiner. Deur terug te keer na die roots toe maak jy jou soniese palet bietjie groter en hopelik verower jy ’n paar nuwe fans in die proses. Daar is ook ’n eerlikheid in ouer rockmusiek wat ek bewonder. Dis definitief minder corporate.

Dit klink of daar ’n sterk skoot sinisme deurskemer op die nuwe snitte, veral op "Rock & roll was cooler toe dans nog sonde was", jeens die toestand van die plaaslike musiektoneel. Wat dink jy is die stand van die plaaslike en veral die Afrikaanse musiektoneel? Wat suig daaromtrent, en wat is lekker? Hoe sou jy dit graag sou wou sien ontwikkel in die volgende paar jaar?

Ek glo dat almal ’n plekkie in die son behoort te hê. Dis egter wanneer sekere mense die son probeer annekseer wat dit problematies raak. Ja, mainstream Afrikaanse musiek behoort meer aandag te geniet as alternatiewe Afrikaanse musiek. Ek meen dit hoort so per definisie. Waarmee ek wel ’n probleem het, is die ratio. Dis bietjie twisted. Omtrent net so twisted soos die ekonomiese wage gap in Suid-Afrika. Op die oomblik skat ek die ratio so 98:2. Ek sal kan leef met ’n 70:30-ratio. Ek ken soveel hoogs bekwame musikante wat op die broodlyn leef en dan is daar weer mense met die musikale vermoëns van hoërskool-atletiekdirigente wat platinumalbums het. Ek dink byvoorbeeld aan Victor Wolf aka Riku Lätti se nuwe Wasgoedlyn-projek. Daardie plaat is major nuus vir Afrikaanse musiek, maar dis asof dit net onder die radar deurglip. Dis jammer dat alternatiewe musikante nie die budgets het van mainstream musikante om sodoende goeie musiekvideo's, production en bemarking te kan bekostig nie. Mens kan seker argumenteer dat dit alles maar supply and demand is, maar daar is ’n duidelike toename in mense wat gatvol is vir al die bubblegum bullshit daar buite. Helaas is die mense nie altyd bewus dat daar wel baie, baie goeie Afrikaanse musiek beskikbaar is nie. Dis ook nie net ’n plaaslike verskynsel nie. Ek meen, kyk na Kanye West. What a joke!

Thys Nywerheid maak musiek in beide Afrikaans en Engels. Wat kom vir jou meer natuurlik, en in watter taal dink jy het Thys Nywerheid die groter kans om golwe te maak? Wat kom vir jou gemakliker en in watter taal geniet jy dit meer om op te tree? Wie is beter, Afrikaanse mense of Engelse mense? Ek hoop jy kan hierdie laaste kwelpunt uiteindelik vir ons oplos.

Alhoewel ek ewe gemaklik in beide Afrikaans en Engels skryf, vind ek dat Afrikaans die mees natuurlike is. Seker omdat dit my moedertaal is. Engels is egter ook lekker because it is the original language of rock and roll, you know. Veral met so ’n lekker Yankee twang. As Britse bands soos Led Zeppelin en Cream kan uitrock op Mississippi blues kan ’n Afrikaner ook seker maar. Dis die hele global village ding. Ek bly in Afrika, eet Indiese kos, drink Tjeggiese bier, Skotse whisky en speel Chinese kitare wat deur Amerikaners gepatenteer is. Afrikaanse mense en Engelse mense is ewe cool oor die algemeen, maar Afrikaanse meisies is die beste!

Jy is nou al ’n hele paar jaar aktief wat musiek en anargie betref. Watter hoogtepunte, reaksies, optredes of agter-die-skerms-staaltjies staan vir jou tot dusver uit as hoogtepunte? Watter gebeure sou jy eerder wou vergeet?

Een van die lekkerste dinge wat ons ooit gedoen het, was om ’n musiekvideo te skiet vir ons weergawe van die legendariese Bernoldus Niemand se “Snorcity“. Ons het die video geskiet in die legendariese Steak and Ale Pub en dit was awesome om die video te maak met daardie beautiful painting van James Phillips in die agtergrond. Ek hoop James is te vinde vir die video en ons weergawe van die song, waar ook al in die kosmos hy homself tans bevind. Ons tjommie, die komediant Hannes Brummer, het ook ’n briljante vertolking gelewer in die video. Ons het ’n paar bottels brandewyn gehad wat as props sou dien, maar niemand mag van dit gedrink het terwyl die shoot aan was nie, in streng opdrag van die director. Nietemin het die bottels al hoe leër geword en almal het dronker en dronker geraak soos die shoot aangegaan het. Jy weet, method acting.

Die dinge wat ek eerder sou wil vergeet is al die kere wat ons kak gigs gehad het. Waar daar nie ’n lekker crowd was nie en in die ergste gevalle glad nie ’n crowd nie. Maar nietemin, soos hulle altyd sê: “Never let a good gig go to your head and never let a bad gig go to your heart.”

Buiten die uitreiking van die nuwe album, wat hou die nabye en verre toekoms in vir Thys Nywerheid, in so verre jy dit kan beheer?

Ons wil graag weer begin gig. Ander projekte waarby beide ek en Draaitafel Jafel betrokke was het Thys Nywerheid vir ’n hele ruk lank laat stilstaan. Ons wil definitief ook ’n nuwe video maak, heel moontlik vir ’n tune genaamd “Brakpan Boogie”, en ons wil dit in Brakpan gaan skiet, mits ons permitte kan kry om in daardie wildernisgebied in te kan gaan. Verder dink ons nie te ver vooruit nie. Om musiek te kan maak met totale kreatiewe vryheid is die grootste beloning in sigself en die res is net cherries op die koek. Ons sal ook graag wil collaborate/gig saam met die ouens wat ons geïnspireer het. Ouens soos Koos Kombuis, Valiant Swart en David Kramer. Miskien selfs Bob Dylan, wie weet?

Wat is die sin van die lewe?

42.

marcia1web

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top