Thomas@ is om die draai

  • 0

Toe die skrywer Carina Diedericks-Hugo saam met haar vriendinne koffie gedrink het ná sy die eerste maal die stel van Thomas@ besoek het, het sy “letterlik ’n traan gestort”.

Só beskryf sy die begin van haar tog met die span agter die vervaardiging van dié nuwe kykNET-program, waarvan die eerste episode van die eerste reeks in April 2013 uitgesaai sal word.

Die program, waarvan die tweede reeks op die oomblik vervaardig word, is gebaseer op Diedericks-Hugo se gewilde reeks jeugboeke. Dié boeke, waarvan reeds agt gepubliseer is, het deurgaans Thomas@ in die titel met elke vrystelling. Diedericks-Hugo het die draaiboek vir die eerste reeks saam met Henriëtte Gryfenberg geskryf en die tweede saam met Kobus Geldenhuys. Jozua Malherbe was die regisseur van die eerste reeks. Vir die tweede reeks het Jaco Smit as regisseur oorgeneem.

Sy was aanvanklik bekommerd dat die kinders in die reeks “nie soos my kinders” sou lyk en optree nie. “Maar die rolverdeling is só goed!”


Diedericks-Hugo (regs) druk in gesprek met Jackie Hancke.

Vandag vind verfilming in die Hoërskool Stellenbosch se gebou plaas. Dis ’n warm Bolandse oggend. Diedericks-Hugo sit kalm in die skaduwee onder ’n gazebo, iPad in die hand.

“Dit is ’n baie ander soort proses,” sê sy oor die herskep van haar verhale vir televisie. “Maar dit is báie opwindend! Die moontlikhede is eindeloos. Mense in die filmbedryf is so vrygewig met hul kennis en ervaring … ek leer regtig baie.”

Van die perke wat begroting inhou, moes sy egter ook vinnig leer. “Ek sou voorstel: 'Kom ons doen ’n aerial shot met ’n helikopter', en hulle sou sê nee. 'Wat van ’n skare by Nuweland?' 'nee.'”

Sy lag. Die essensie van die verhale en karakters bly egter behoue.

“Toe ek vir Jozua leer ken het, het ek besef – he gets it. Ons het saam deur die video’s van die oudisies gegaan.”

Die regte kinders – onder meer Paul Loots, wat bekendheid verwerf het deur die film Roepman – is toe betrek. En sy ís beïndruk met hul toewyding en dissipline – “pligsgetrou” is die woord wat sy gebruik.

Loots self is ’n bondel energie waar die jong akteurs – almal ongeveer 14 jaar oud – ’n kort pouse neem. Oor sy skielike prominensie as jong Afrikaanse akteur ná die sukses van Roepman sê hy asof hy pas eers daarvan uitgevind het: “Woooaaaaah.”


Paul Loots (voor) en van sy mede-akteurs.

“As jy in die bedryf is, kan jy dit amper nie glo nie … maar jy kom gou agter dit is die realiteit. Dit is ’n klein bedryf, ’n super bedryf. Jy leer almal ken.”

Loots vertolk die rol van een van Thomas se boesemvriende. Verfilming het reeds in Oktober 2012 begin.

“My skool [Hoërskool Eldoraigne in Pretoria] is baie ondersteunend,” sê hy. “Die onderwysers stuur vir my werk aan en my ma e-mail vir my werk. Ek kom honderd persent reg.”

En ja, hy hoop om eendag “Harrleerrwooooord” toe te gaan.

“Ek beplan om ’n gap jaar te neem en Amerika toe te gaan. Ek wil baie graag daar werk!

“Ek act al vandat ek vier jaar oud is. Dis baie lekker … so lekker om jou emosies te kan uitdruk.”

In ’n mediaverklaring deur kykNET word die wortel só voor kykers se neus gehou:

Thomas is dapper, nuuskierig en impulsief. Hy hou van rugby, rekenaarspeletjies, musiek en PIZZA! Hy kom oor die algemeen goed oor die weg met sy klasmaats behalwe De Wet Roux, die Skoolhoof (Eric Nobbs) se seun, wat gedurig probeer om sy planne te saboteer. Dan is daar natuurlik ook die Marais-tweeling wat meer spiere as breinselle het en Alexandra (Alex) Louw; die mooiste meisie wat Thomas én Hannes nog ooit ontmoet het.


Jaco Smit, regisseur, in een van die klaskamers waar verfilming plaasvind.

Foto's deur Henry Cloete.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top