![]() |
|
Sêgoed van Thomas Deacon “Ek skryf hierdie taal (Griekwa-Afrikaans) omdat ek die mense wat dit laat gebeur, oneindig liefhet. En omdat ek ’n gedig voor my wil sién gebeur. Dis wat hierdie mense se taal my gee. Dis raak, lewendig, ryk en gelaai met beeldspraak.” (Die Burger, 22 Junie 1993) “Ek wou die taal neerskryf vir die nageslag, want dis vinnig besig om uit te sterf. Vir die jonger mense het dit mos ’n skande geraak om die streektaal te praat. En dis jammer.” (Die Burger, 22 Junie 1993) Waar kom sy skryf vandaan? “Ek weet nie. Skryf soek jou op en jy moet hom gehoorsaam. As jy dit nie doen nie, is jy nie ’n gelukkige wese nie.” (Die Burger, 22 Junie 1993) “Ek skryf eerstens om van die spanning ontslae te raak. Skryf is ’n terapeutiese proses. Terwyl jy daar sit, vergeet jy van alles om jou. Dis asof ek binne die wêreld van die Griekwa instap. Asof ek by hulle is. Met elke versreël sien ek weer die verrimpelde gesigte, die stompietande, die oë, styf toe van die lag en ek hoor stemme wat babbel oor die verlede en die aarde en die mites van die Griekwa se wêreld.” (Die Burger, 22 Junie 1993) |
Gebore en getoë
Thomas Johannes Mathys Deacon is op 4 Februarie 1942 op die Noord-Kaapse dorp Upington gebore. Sy ma en pa was James en Aletta Deacon en hy was een van sewe kinders.
Hy het sy matriek in 1959 aan die Hoërskool Upington verwerf.
Verdere studie en werk
Ná matriek het Thomas, of Tommie soos hy homself aan Suzaan Steyn (Die Burger, 22 Junie 1993) voorgestel het, by die Kaapse Departement van Onderwys as ’n klerk begin werk. Hy is twee jaar later bevorder tot sekretaris van die skoolraad op Griekwastad en het dieselfde werk op etlike dorpe deur die destydse Kaapprovinsie beklee.
Hy het die skoolraaddiens op 1 Augustus 1974 verlaat nadat hy as hospitaalsekretaris op Burgersdorp – ’n pos wat hy beklee het tot 30 April 1976 toe hy aangestel is as klerk van die raad by Kenhardt se afdelingsraad.
In Julie 1978 het hy ’n pos in die kredietafdeling van die kettingwinkelgroep Edgars bekom en nadat hy intern sy kredietopleiding gedoen het, word hy aangestel as Edcon se kredietbestuurder van die destydse Noord-Kaap.
Thomas is intussen getroud met Stienie, en twee seuns, James en Stephen, is uit die huwelik gebore. Hulle het lank op Kuruman gewoon en na sy aftrede in 1997 het die gesin na Upington verhuis waar hy en James ’n wegneemeteplek bestuur het. Op Upington het hy weer heeltyds begin skryf. Hy was nie net lief vir skryf nie, maar ook vir musiek en het liedjies en gesange geskryf, vertel Johann Lodewyk Marais aan Laetitia Pople op Netwerk24. Hy kon net soos sy geliefkoosde Amerikaanse sanger Jim Reeves sing en het ook ’n paar CD’s met countrymusiek opgeneem.
Die jare toe Thomas so deur die Noord-Kaap gereis het vir sy werk, het hom in aanraking gebring met die Griekwas en hulle taal, Griekwa-Afrikaans. Hy het aan Suzaan Steyn vertel dat hy so tussen 6 000 en 7 000 km per maand afgelê het. “Ek draai by elke ouetehuis in om die ouer garde se stories te gaan haal. As jy daar tussen die laggende gesigte sit, gaan daar ’n nuwe wêreld oop. Aan die begin is hulle altyd effens wantrouig vir dié vreemdeling met sy bandopnemer, maar as hulle eers aan die praat raak, wil almal gelyk vertel.
“Die Griekwas is trotse mense. En waardig en baie gelowig. Hulle het ’n wonderlike, aardse humorsin. Net soos mense kan hê wat swaar gekry het, wat moes baklei teen die ongenaakbaarheid van die natuur., Maar hulle het elke keer opgestaan en aangegaan. In baie opsigte laat hulle my aan die Afrikaner van destyds dink.”
Dan met die terugreis na Kuruman deur die Noord-Kaapse vlaktes is dit weer die veld wat hom betower, het hy verder aan Suzaan Steyn vertel. “Ek is ’n groot veldman. In alles in die natuur sien ek lyf. Elke bossie, witgatboom en sandduin praat met my. Soos mense, maar met ’n ander taal en ’n ander storie.”
En wanneer hy dan by die huis aangekom het, het hy sy dagwerk gelos en begin dig. Hy het al van skooldae af geskryf, maar dit was toe hy in die 1980’s ’n ernstige hartaanval gehad het en daarvan herstel het dat hy besef het hy moet iets met sy skryfwerk doen.
Een van sy grootste inspirasies was Donald Riekert, sy groot vriend en dorpsgenoot en ook ’n digter. Thomas het aan Steyn vertel dat Riekert vir hom met sy growwe stem gesê het: “Skryf, kjêrel, skryf. Jy moet skryf.”
Hy het verder vertel oor sy verhouding met Riekert: “Ek en Donald reis gereeld saam. Hy sit en maak sy aantekeninge bedags en ek werk saans. Ons hou gereeld kajuitraad en bespreek mekaar se werk. As ek die slag ’n bietjie sukkel, gaan vra ek raad by hom en andersom. Dan wroeg ons saam oor ’n gedig, bespreek hom dié kant toe en daardie kant toe. En gaan werk hom dan self verder by die huis uit.”
En toe, ná al die rondry en kuier by die oumense en Riekert se inspirasie, is Thomas se eerste digbundel in 1989 by Tafelberg uitgegee onder die titel Sand uit die son.
Johann de Lange was die resensent in Transvaler (13 Februarie 1990). Vir De Lange is Deacon se verse net so oop en toeganklik en aards soos Riekert s’n: “Die gedigte stam uit die droogtewêreld van die Noordweste en die Boesmanland. Dis poësie van eenvoudige dinge – daarin lê die bekoring van die beste verse, maar ook ander soort skraalheid waaronder die bundel ly.
“Te veel gedigte is weinig meer as momentopnames, vlugtige indrukke en groei nie verby die anekdotiese nie. Miskien is die wêreld van die poësie se horisonne net te klein. Van die beste verse herskep woordakkuraat nie net die hardheid en verlatenheid van dié wêreld nie, maar bekoor ook deur die wyse waarop die taal van daardie wêreld poëties ingespan word. En daarin lê vir my die verdienste van dié eenvoudige debuut.”
In Insig (Julie 1990) het Tom Gouws sy bespreking van Sand uit die son só afgesluit: “As in “Jonkmansknoop” staan:
Langs die sandsloot
buk ek af en pluk
’n sneeuwit jonkmansknoop
ek swaai dit soos ’n towerstaf
en wit en pienk en pers en
geel en rankig gaan
Namakwaland se voortuin
vir my oop,
dan is dit ook van toepassing op die lees van die bundel: Hier kan voor jou ’n Namakwaland in taal oopblom, mits jy met klein bewegings stadig die inkantasies van Afrika probeer inleef en vóél beweeg, diep ontroer deur die ‘sagte, kloppende bloed’.”
Ook TT Cloete was heel beïndruk met Sand uit die son: “Sand uit die son is spontane, ongekunstelde poësie, wat meestal nie meer wil sê as wat daar staan nie, en miskien daarom is hulle almal kort gedigte. Tog reik sekere gedigte verder uit as die bekende realiteit waaroor gedig word. (…)
“Baie gedigte bly onafgerond en is te maklik afgemaak. Deacon maak gebruik van die rym, maar doen dit soms lukraak en ontplooi die moontlikhede van die rym nie genoeg nie. (…)
“In die beste gedigte loop die vers gemaklik, die taal is vlot, beeldend en sappig, en daar is baie aangenaams in hierdie natuurlike verse, al sou baie van hulle beter versorg kon gewees het.”
Thomas se tweede bundel, wat in 1993 gepubliseer is, is Die predikasies van Jacob Oerson.
“In hierdie pragtige bundel – wat inhoud én voorkoms betref – ontgin Thomas Deacon die uitsterwende Griekwa-taal as poëtiese medium,” skryf Daniel Hugo in Die Burger van 8 Junie 1993. “Voor in die boek staan die berymde woorde van Gert Maarman (gebore 1887):
soos an swiepvlerk wintersvoël
vir vértrek lugpad vat
had oense taal vir ewiglik
na nout-kom-t’rug laat spat.
“Inderwaarheid het die Griekwas twee keer hulle taal verloor. Eers die oer-oue Khoi-spraak, en deesdae hulle beeldryke, klankryke variant van Afrikaans. (…)
“Die predikasies van Jacob Oerson is die eerste bundel wat in sy geheel uit ’n Griekwa-keel praat. En daardie keel is afwisselend skor van droogte en armoede, hees van hartseer en verslaenheid, helder van insig en wysheid, skril van uitgelatenheid en pretmaak.”
Deacon vertel in die eerste afdeling hoe Jacob Oerson, nes Moses van ouds, geroep is om sy volk uit hulle ellende na die Beloofde Land te neem – die land anderkant die Oranjerivier. In die tweede afdeling vind die leser vier preke van Jacob Oerson.
Hugo gaan voort: “Die komiese Griekwa-preek is sedert GR von Wielligh se Jacob Platjie ’n stereotipe in die Afrikaanse letterkunde. Dit is ook ’n bekende tema in die mondelinge verskuns. Deacon se Oerson-predikasies bly egter nie steek in die bloot komiese nie (hoewel dié element óók aanwesig is).
“Die Griekwa verskyn in hierdie bundel as ’n volwaardige mense met geskakeerde emosies. (…) Die enigste beswaar wat ’n mens sou kon opper, is dat die verse op die duur ’n sekere soort eenselwigheid het ten opsigte van sinswending en idioom. (…)
“Thomas Deacon se tweede is ’n stewige, boeiende, toeganklike, veelluimige bundel wat die poësieleser, die taalkundige en die volkskundige baie plesier sal verskaf.”
TT Cloete het tot die slotsom gekom dat hoewel nie alles in Die predikasies van Jacob Oerson goed is nie, die bestes van hierdie gedigte uitstekend is: “Vir ’n tweede bundel, wat ná die debuut ’n nuwe rigting inslaan, is dit ’n mooi, goeie versameling gedigte. Eintlik moet ’n mens die bundel sien as een groot gedig, met gemarkeerde onderafdelings, en met pieke van plek tot plek.”
Met sy volgende publikasie begewe Thomas Deacon hom op die gebied van die roman. Rooigrond word in 1995 by Tafelberg uitgegee en in hierdie roman is die “optekening van ’n geskiedenis in ’n ‘ander’ soort Afrikaans, nog omvattender” as in sy eerste twee publikasies, volgens Fanie Olivier in Beeld van 20 November 1995.
Rooigrond se hoofkarakter, Alfred Mokgotsi, is ’n alleenloper wat van Lesotho kom, in die Karoo gaan werk en via Gauteng op Kuruman beland, waar hy sterwe.
Olivier gaan voort: “Die verhaal is eintlik ’n kroniek van Alfred se lewe: idilliese kinderjare op die rooigrond tussen die berge, sy pa se tweede huwelik en die einde van die idille wat hieruit spruit en die verneukstorie van sy broer wat aanleiding daartoe gee dat hy sy fortuin en sin vir sy lewe gaan soek by die myne.
“Vir Afrikaanse lesers bied die roman ’n geleentheid om kennis te maak met die gebruike van ’n ander gemeenskap, en om iets te gewaar van ’n metafisika wat anders is as dit waaraan ons gewoond is. In hierdie opsig is die eerlikheid van die vertelling ’n groot bate. (…)
“Alfred se swerfjare is kleiner en minder betekenisvol as dié van byvoorbeeld Poppie (Nongena). Hoewel sekere dinge daarin minder of meer interessant mag wees, is dit beslis nie ’n vasvang of herskrywing van ’n omvangryke of besonder boeiende geskiedenis nie. Daarvoor is die balans te oneweredig, word daar te veel oor sekere tye gesê en ander word amper net as ’n terloopsheid of sonder verhaalmatige verduideliking ingevoer.
“Ek sou graag opgewonde wou gesels oor Rooigrond en sy Afrikaans, maar het ten opsigte van wat ek verwag het, maar bedroë daarvan afgekom. ’n Paar oulike frases en knap sê-goed is myns insiens nie genoeg regverdiging vir die boek om rondom sy gebruik van Afrikaans in die kollig te kom staan nie.”
Alexander Strachan (De Kat, Junie 1996) verduidelik dat dit in Rooigrond oor die grond gaan, “die rooigrond waaruit alles kom en waarin alle lewens later weer toegespit word”.
Strachan is van mening dat die storie wel soms boeiend is en dat dit veral die humoristiese stukke is wat geslaagd is. “Wat veral opval, is die taal. Die roman is deurgaans geskryf in Afrikaans uit die mond van ’n Sotho. Gevolglik lees ons van kereke, baeskopo, fenstere, toropo, en so meer. Met die eerste paar bladsye is die vorm van taalgebruik nogal heel funksioneel, aangesien dit ’n bepaalde landelike atmosfeer skep. Dit word egter deurgaans gehandhaaf, en soos die boek vorder, raak dit mettertyd ietwat hinderlik.
“Rooigrond is ontspannende leesstof en die skrywer wys dat hy heelwat navorsing gedoen het oor die milieu waaroor hy skryf.”
Ook Gunther Pakendorf (Sarie, 6 Desember 1995) is nie heeltemal seker oor Rooigrond nie: “Die bekoring van die verhaal lê in die feit dat dit deur Alfred self vertel word; die kaalvoetlewe in die veld word baie aanskoulik oorgedra. Die skrywer waag deur die verteller ’n soort Sesotho-Afrikaans te laat praat, maar deur die aardsheid en beeldrykheid van sy taal kry ’n mens ’n besondere gevoel vir die lewenservaring wat uitgebeeld word. Die kreatiewe en dikwels humoristiese gebruik van Afrikaans sal beslis baie lesers aanspreek, hoewel ’n mens dit tog ook kan bevraagteken.”
In 1999 is Thomas se eerste bundel kortverhale by Human & Rousseau uitgegee onder die titel Anderkant die Troe-troe. Die Troe-troe-rivier loop by Van Rhynsdorp in die Noord-Kaap verby en dit is anderkant hierdie rivier waar hierdie sestien verhale van Thomas Deacon afspeel, skryf Marina le Roux in Sarie (3 November 1999).
“Daar is deurlopende temas,” skryf Le Roux, “veral dié van stryd en spanning tussen mens en natuur, maar ook voldoende verfrissende variasies. Humoristiese vertellings word afgewissel met stories wat donker menslike emosies met deernis en eerlikheid ontbloot. Die stories getuig van fyn waarneming en die Oranjerivier-Afrikaans waarin Deacon skryf, is ritmies en beeldend, soms miskien selfs effens oordadig. Maar hy bly deurgaans in beheer van sy stof, ’n dinamiese verteller.”
Mariette van Manen is Die Burger (8 September 1999) se resensent van Anderkant die Troe-troe en skryf: “Lees ’n mens iets van Thomas Deacon, lees jy eerstens met die oor, want om volle waardering te hê vir sy vertellings moet die leser hom instel op die ritme en melodie van sy mense se manier van praat, op die aardse segswyse.
“Maar met daardie ligvoetwoorde word nie maar net kontreistorietjies oorvertel nie. Anderkant die Troe-troe is ook anderkant die grense van die bekende werklikheid, die oorsteek van ’n rivier na ’n ander soort waarheid. Dit is veelvlakkige vertellings waarin die onverklaarbare vir dié wat dit beleef en oorvertel, heel eenvoudig is, want dit is soos dit is.”
Johan Coetser (Beeld, 6 September 1999) kom tot die slotsom dat die verhale in Anderkant die Troe-troe wil sê dat die omgewing en omstandighede ’n invloed het op alle mense, of hulle nou sleg of goed is: “In Deacon se verhale word hul swakhede en hul swaarkry meestal gesublimeer. Soms, egter, is swakhede en swaarkry só groot dat ‘onse rillers veel dieper (sny) as daaitjies van Jaansberg en daai annerlike sodoms’.”
Maagmeisie: Griekwa-stemme is Thomas Deacon se volgende publikasie en is baie keurig in 2003 uitgegee deur Protea Boekhuis.
Nico Luwes (Volksblad. 2 Junie 2003) begin sy bespreking van Maagmeisie as volg: “Deacon se nuutste publikasie, Maagmeisie, word ingelei met ’n lofdig vir die Griekwas wat opgevolg word met ’n leesdrama in versvorm.
“Reeds met die lofdig ruik en proe die leser die warm sand van Griekoesvlakte en klink die musiek van Griekwas-Afrikaans tintelend in die ore op. (…) Deur ’n verteller, enkele karakters en sangers ontvou die verhaal van die inisiasie van ’n jong Griekwa-maagd wat afstand doen van haar kindertyd en die volwasse wêreld as vrou beklee.
“In die twee weke van afsondering in die ‘hok’ word sy as nóg lewend nóg dood beskou en die rooiklei, bokmis en boegoe wat aan haar gesmeer word, verteenwoordig die lewe, die dood en die goeie, terwyl laasgenoemde ook krag vir die toekoms bring. Aanvullend tot die teks bring voetnotas en ’n beskrywing van die interessante rituele aan die einde van die teks die leser spoedig op hoogte van die geheime van die inisiasieproses.
“Deacon se teks wil uitgespreek wees en sal by uitstek slaag as voordragprogram op die radio of as woordkuns by ’n kunstefees. (…)
“Met ’n pragomslag deur Daniël du Plessis en uiters keurig taalkundig versorg, lewer Protea Boekhuis hiermee ’n besondere bydrae tot Griekwa-Afrikaans. Dis ’n moet vir jou boekrak. Maagmeisie wil weer en weer gelees word.”
In Die Burger (16 Junie 2003) is George Weideman die resensent en hy sluit sy resensie as volg af: “Vir oningeligtes duik noodwendig leesprobleme op met so ’n teks. Dit is verwant aan die leesprobleme wat mense met Stijn Streuvels se Wes-Vlaams (…) kan ervaar. Tog probeer Deacon hier (soos Peter Snyders vir Kaaps) ruimte skep vir ’n klankgetroue Griekwa-ortografie.
“Die teks is uiteraard bedoel om opgevoer te word. Dit sal ’n kragtoer verg om die mate van eenselwigheid en gebrek aan ritmiese variasie wat die verskillende ‘stemme’ vertoon, te bowe te kom. Maar dit behóórt gedoen te word om reg te laat geskied aan hierdie boeiende gegewe. Die spelers sal egter die Griekwa-idioom en veral die intonasie van dié dialektiese Afrikaans moet ken om daarvan ’n oortuigende produksie te maak. ’n Mens hoop iemand sien dié uitdagings raak.”
Vir Fanie Olivier (Beeld, 26 Mei 2003) bly Maagmeisie ’n “teleurstelling: verstegnies en dramaties kom dit nie uit die verf nie en voel ’n mens dat ’n wonderlike gegewe hiermee verlore gegaan het”.
Met Deuskant die Groot Gariep wat in 2010 by LAPA verskyn het, het Deacon weer gebruik gemaak van sy bekende wêreld – daardie wêreld wat aan beide kante van die Garieprivier lê – Riemvasmaak se kant, asook die Richtersveld se kant.
Wium van Zyl (Die Burger, 10 Mei 2010) meen dat ’n boek deur Deacon hom gereeld bewus maak van ’n “talent met ’n baie spesiale sensitiwiteit: vir ’n streek, vir ’n besondere soort mens, vir ’n Afrikaans met die onpeilbare diep wortels van ’n woestynplant”.
En vir Van Zyl is dit nie die geografie wat die deurslag gee nie, want Anton Collen het jare terug gesê “dat dit slegs enkeles gegun is om ‘iets van die geheim’ van ’n streek aan lesers te openbaar.
“Die geheim glinster hier in die misterieuse figure en verskynsels wat in ’n hele aantal verhale hul opwagting maak. Sonder bevatlikes sou die reënroeper, sienvrou, waterslang, bergmannetjie, watermannetjie en die gesigte van diegene wat met die helm gebore is immers nie bestaansruimte hê nie. Deacon se karakters is deurgaans bedag op jaloerse magte rondom hulle en in hul aandstories hou hulle vol om waarskuwings en towerspreuke aan ’n volgende geslag deur te gee. (..)
“Die geheim van die streek is op sy blinkste, maar ook onbegrypbaarste in die taal van mense wat spontaan praat oor die groot kwessies van die lewe sonder om hulle te laat hinder deur standaardtaal uit woordeboeke en handleidings. (…)
“Deacon se vernaamste kunsgreep is om sy verhale deur dialoog uit te bou. Só word die eenvoudigste intrige iets besonders. (…) Taal word ook ingespan as spanningswekker. (…) Deuskant die Groot Gariep is ’n boek vir suinig peusel.”
In Weg van Junie 2009 vertel Erns Grundling meer oor Deuskant die Groot Gariep: “Thomas Deacon is ’n meesterstorieverteller in die hierdie unieke Boesmanlandse ’nama-Afrikaans’. Die meeste van die stuk of twintig verhale het vroeër in Rapport-Tydskrif verskyn terwyl ’n paar ook in Anderkant die Troe-troe opgeneem is.
“In sy verhale word die mistieke dikwels moeiteloos vervleg met die harde werklikheid van mense wat ‘móérsvêrs in die verlatenheid ingekrimp is’, soos ene oom Kallie dit stel. Kleurryke karakters soos die waterslang, bergmannetjie en onweersman bevolk die verhale en sorg dikwels vir onverklaarbare gebeure.
“Veral die onweersman ‘met sulke wildstaanhare op sy aangesig’ en ’n brandende begeerte om die droogte weg te jaag, is ’n onvergeetlike karakter.
“Hoewel humor volop is, gooi die dood pal sy lang skaduwee. Dit is waarom oom Kiepie Tol loop en ‘dink oor die anderlikheid van onse bestaan’. Want hy weet ‘die lewe is soos bokslag. Dink jy loop nog vasvoet, dan glip die mes.’
“Afrikaans gaan nie in raadsale of briewekolomme ‘gered’ word nie. Dit is veel eerder goeie boeke soos dié wat die taal se voortbestaan en verskeidenheid bevestig.”
Thomas Deacon het ook ’n bydrae tot die skooltoneel gelewer. Hy was die skrywer van Die herontmoeting wat in die vorm van ’n tweespraak geskryf is. Dit is in 2015 deur sy kleindogter Lucinda Deacon van die Hoërskool Duineveld op Upington tydens Klawer se Kunstefees opgevoer. Dit het dubbelgoud verwerf en is gekies om by die Klawer Kunste-skouspel opgevoer te word.
Bykans tien jaar verloop voordat daar weer ’n boek uit Deacon se pen verskyn. In 2019 word sy volgende digbundel, Duifiedorings, by Minimal Press uitgegee.
Dewald Koen resenseer die bundel vir Versindaba, en dit was die eerste boek van Deacon wat hy gelees het: “Die meerderheid Afrikaanse bundels word in Standaardafrikaans geskryf met enkeles wat in Kaapse Afrikaans geskryf word. Dit is dus opvallend dat Deacon soos met sy vorige bundels weer Griekwa-Afrikaans (as subvariëteit van Noordwestelike Afrikaans) besig. Dit is ’n pragtige en klankryke variëteit kenmerkend aan die gebruik van palatalisasie, die dubbele meervouds- en verkleiningsvorme asook die besitskonstruksie met ‘se’. Hans du Plessis is naas Deacon veral bekend vir die gebruik van Griekwa-Afrikaans in sy digkuns soos in sy bundel Innie skylte vannie Jirre (2001).
“Die Noordweste (Namakwaland) kom sterk na vore in Duifiedorings. Die titel verwys na ’n wilde blom (Tribulus terrestris) wat in Namakwaland voorkom en na reënval in Desember en Januarie daarvoor bekend is om dikkopsiekte onder skape te veroorsaak. Die titel op sigself dien dus as simbool van die outentieke Namakwalandse landskap en daar sluit Deacon aan by digters soos Donald W Riekert en George Weideman wat oor die Noordweste gedig het. In Riekert se bundel Heuning uit die swarthaak (1986) en Weideman se Hondegaloppie (1966) en As die son kliplangs spring (1969) fokus beide digters op die Namakwalandse landskap wat sterk in hul verse resoneer. Hierdie ongenaakbare landskap wat vir die meeste Afrikaanssprekende poësielesers met uitermatige droogte en ’n amper woestynagtige verlatenheid geassosieer word, word deur digters soos Deacon, Riekert en Weideman verwoord tot unieke skoonheid waarop die fyn waarnemer bedag moet wees. In die programgedig word die mens se broosheid binne die Namakwalandse landskap bedeesd verwoord en word die prag en praal terselfdertyd gevoed deur die koor van musikale stemme.
duifiedorings
toe duifiedorings laatmiddag
die aarde geel-geel koggel
agterbank ek in die kerk op pella
piets die son ’n spatsel bloed
teen die witgekalkte muur
hang Christus naak
aan grootrivier se afgekapte hout
sing ’n koor van kinders hallelujah ave maria
word elke noot ’n doringprik.”
Koen sluit sy bespreking van Duifiedorings as volg af: “As geheel is Thomas Deacon se Duifiedorings ’n geslaagde bundel waarin die oorgrote meerderheid verse besonder knap daar uitsien. Deacon se deeglike kennis van die landskap waarvoor hy soveel liefde koester, word elegies beskryf. Die gedigte is toeganklik en onopgesmuk, dog (...) die duidelike hand van ’n ervare en bekwame digter (is) te bespeur. Die bundel sien pragtig daar uit ten spyte van enkele tikfoute wat deurgesluip het by ‘as’ie wind so waai’. Met Duifiedorings het Deacon weereens bewys watter vernuftige digtalent daar in hom steek.”
Op Versindaba lewer Breyten Breytenbach kommentaar op Duifiedorings en Thomas Deacon nadat hy Koen se resensie gelees het: “Dankie – besonder baie dankie – vir die aanstuur van die Thomas Deacon bundel. Die man se menslikheid, oopheid vir ander en vir die omgewing, die rykheid en tekstuur van sy woorde en daarom sekerlik van sy kennis – is wonderlik om in te neem. Hy raak vir my op werklik inspirerende maniere aan wat dit beteken om digter te wees in hierdie land. En met die voelers en die sap en die sintuie van die digter maak hy die land ’n wérklikheid, syne en daarom ons s’n, wat soveel verder gaan as grense en klimate.”
Ook Joan Hambidge is op “Woorde wat weeg” positief oor nie net Duifiedorings nie, maar ook Deacon se werk in die algemeen: “Sy jongste bundel Duifiedorings is ’n voortsetting van sy unieke stem. Gesprekke met Louw is daar en met George Weideman aan wie hy ’n lykdig opdra. Daar is ook ’n durende gesprek met Donald W Riekert. Duifiedoring, Duwweltjie, Volstruisdubbeltjie, Driedoringdubbeltjie … alles name wat by my opkom.
“Deacon se bundel is aards, onpretensieus met die mens wat uitgelewer is aan die genadelose natuur. Die Noord-Kaap is die ruimte waarbinne die gedigte geplaas word: Pella, Boesmanland, die Kalahari, die Groot Gariep. Veral George Weideman het sy staning onder die sterre uitmuntend beskryf, en Donald W Riekert het die harde, genadelose landskap ontgin in swarthake. (...)
“Die verse is eenvoudig is aanbod, maar dit is oëverblindery. Die klankpatrone en die toespelings op veral Boerneef se fluitjiesriet lewer bewys van ’n digter wat sy vak ken. Die môres [wat] rol soos ‘goudgeel soetlemoene oor die rante’ praat weer met Rosa Nepgen se skitterende vertalings van Eugenio Montale se Die geel van suurlemoene skyn (Tafelberg, 1979). Die Bybel is eweneens hier aanwesig.
“Hierdie digter uit Upington se wêreld dig oor die Noordweste en Boesmanland in sy debuut en ontgin die gegewe verder in sy jongste bundel.”
Teen die einde van 2021 word Thomas se volgende digbundel, Minjonet en bitterbos, deur Naledi uitgegee. Die bundel draai om die tema van ouer word en die jeugdigheid en die energie wat daarmee gepaardgaan, wat al minder word. Volgens die uitgewers is dit ook ’n “herbesoek aan dit wat was en ’n skrynende begeerte daarna. Deacon slaag uitmuntend daarin om die oerbron van herinnering en nostalgie telkens deur ’n ander metafoor, ’n ander tyd en met ander woorde te laat spreek. Die bundel bevat ook ’n heuglike inslag van Boerneef se loslittige Afrikaans met ’n voorkeur vir die kontreiwoord en -uitdrukking.”
Die uitgewer en keurder Jeanette Ferreira se kommentaar op Minjonet is dat die leser “beloon word met van Deacon se heel bevredigendste verse, te meer omdat dit nie net die Griekwa-wêreld verken nie, maar wyer strek om bestek van ’n ganse lewe op te neem.” (Netwerk24, 24 Januarie 2022)
Op 21 Januarie 2022, enkele weke na die publikasie van Minjonet en bitterbos, is Thomas Deacon na ’n siekbed in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) oorlede. Hy het sy laaste lewensjare daar deurgebring. Hy word oorleef deur sy vrou, Stienie, en hul twee seuns, James en Stephen.
Huldeblyke
- Daniel Hugo: “Deacon, SJ Pretorius en ook Hans du Plessis het gesorg dat Griekwa-Afrikaans deel word van die hoofstroom van ons letterkunde. Deacon se Die predikasies van Jacob Oerson (1993) is ’n hoogtepunt op hierdie gebied.” (Netwerk24, 24 Januarie 2022)
- Johann Lodewyk Marais: “Deacon het tot die einde getrou gebly aan die mense en landskap van die streek waar hy grootgeword het. Hy het ’n hele streek tot spreke gebring. Daarmee het hy voortgegaan om iets van die leemte wat George Weideman se dood gelaat het, weer te vul en verder status aan ’n variant van Afrikaans te gee wat helder en klinkend deel van sy idiolek was. Hy was in staat om die landskappe en Griekwa-Afrikaans van die Noordweste in sy werk te betrek en het unieke, lewendige (storie)karakters geskep wat in sy werke voortleef. In Deacon se werk verwonder ’n mens jou aan sy soepel hantering van die woord, klank en ritme en is verheug dat soveel van sy werk in bloemlesings opgeneem is.” (Netwerk24, 24 Januarie 2022)
- Nini Bennett: “Deacon word onthou as ’n aardse en nimlike mens en mentor wat oraloor gewild was.” (Versindaba)
- Joan Hambidge: “Die skrywer Thomas Deacon is onlangs oorlede.So pas publiseer Naledi Minjonet en bitterbos. Die blou blommetjie teenoor die bitterbos, die ewige opposisie so bekend aan die digkuns. Die digter is bekend vir sy kontreiverse en ons lees hier van die ou Nama-moeder, Siena Joseph van Pella (1893–1988). En die wêreld van die Noord-Kaap is die gebied van George Weideman en Donald Riekert. En wat Griekwa-Afrikaans betref, het die digter Hans du Plessis waarskynlik geen gelyke in Afrikaans nie. Die kontreikuns is aardse kuns en uiteraard sterk verbind aan primordialiteit.
“In sy vorige bundel Duifiedorings (2019) word verskillende name verbind aan die duifiedoring: duwweltjie, volstruisdubbeltjie, driedoringdubbeltjie … alles name wat hierdie woord oproep. Die landskap van die klipwerk-vers (via Van Wyk Louw) en die verse van Boerneef, vind ons in hierdie bundel. Verskillende stemme is hier aanwesig: die digtende spreker wat praat in sowel Standaard-Afrikaans as die taal van die Boesmanlandse streek, verby die Bantamberge.” (Woorde wat weeg)
- Leana Lategan met Thomas Deacon se verjaardag op 4 Februarie 2021: “Dit lyk asof die stuk wêreld waardeur die Groot Gariep kronkel, ’n nimmereindigende skat aan oustories en verse bymekaarhou. Dán vra dit maar net die gewillige skrywersoor om te luister, verder te vis, blink te vryf, en dit staan te maak. Lesers is daar genoeg, mense wat erg het aan die spontane poësie en verhale wat uit hierdie stanings kom. Thomas Deacon is een van die skrywers wat oor veral die Griekwa kan skryf, in die idioom en met die hart van hierdie bewoners van ons land.” (Op Facebook)
- Breyten Breytenbach: “Vrede en voortgaande liefde toegewens aan hierdie bobaasdigter vir wie ek graag sou geken het. En plesier ook, daar aan die oorkant. Hou die woorde warm vir ons wat nog op pad is. Groetnis vir Adam … Met deernis en hoed afhaal. Breyten.” (Versindaba)
Publikasies
|
Publikasie |
Sand uit die son |
|
Publikasiedatum |
1989 |
|
ISBN |
0624028267 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Die predikasies van Jacob Oerson |
|
Publikasiedatum |
1993 |
|
ISBN |
9780624030607 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
|
Publikasie |
Rooigrond |
|
Publikasiedatum |
1995 |
|
ISBN |
0624033937 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Anderkant die Troe-troe |
|
Publikasiedatum |
1999 |
|
ISBN |
079813917X (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Kontreiverhale |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Maagmeisie: Griekwastemme |
|
Publikasiedatum |
2003 |
|
ISBN |
9781869190286 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
|
Literêre vorm |
Versdrama |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Deuskant die Groot Gariep |
|
Publikasiedatum |
2009 |
|
ISBN |
9780799344127 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Duifiedorings |
|
Publikasiedatum |
2019 |
|
ISBN |
9780639808868 (sb) |
|
Uitgewer |
Somerset-Wes: Minimal Press |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Swartslang |
|
Publikasiedatum |
2020 |
|
ISBN |
9781990957284 (sb |
|
Uitgewer |
Somerset-Wes: Minimal Press |
|
Literêre vorm |
Roman (Verwerking van Rooigrond in Sotho-Afrikaans) |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Minjonet en bitterbos |
|
Publikasiedatum |
2021 |
|
ISBN |
9781928530916 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Naledi |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
’n Keur van artikels oor en deur Thomas Deacon beskikbaar op die internet:
- Barnard, Helena: Digter verras na 16 j
- Bennett, Nini: In memoriam: Thomas Deacon (4 Februarie 1942 – 21 Januarie 2022)
- Burger, Anena: Deacon op 80ste verjaardag in Upington gegroet
- De Vos, Marius: Huldeblyk Thomas Deacon
- Deacon, Thomas: Bloukopkoggelmanner [gedig]
- Deacon, Thomas: Gedigte
- Deacon, Thomas: Skryfkompetisie: #politieklimeriek – Inskrywings week 6
- Hambidge, Joan: Huldeblyk. Thomas Deacon (1943–2022) 2022
- Lategan, Leana: Thomas Deacon – ’n velsak vol verhale
- Pople, Laetitia: Thomas Deacon dood enkele weke ná laaste digbundel verskyn
- Thomas Deacon
- Thomas Deacon
- Thomas Deacon
- Thomas Deacon in memoriam
Thomas Deacon se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2022-08-23 gepubliseer.
Bronne:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


