Resensie: minjonet en bitterbos deur Thomas Deacon

  • 0

Titel: minjonet en bitterbos
Skrywer: Thomas Deacon
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928530916

Die digter Thomas Deacon is op 21 Januarie 2022 oorlede, en minjonet en bitterbos is die vyfde en laaste digbundel wat uit sy pen verskyn het. Deacon het baie gereis, en invloede van die landskappe en hulle mense het neerslag in sy oeuvre gevind. Baie van sy werk word só in die taal en idioom van die Griekwas weergegee. Sy debuutdigbundel, Sand uit die son (1989) is getint in streekstaal en berig oor die wêreld van die Noordweste. Deacon dig oorskouend oor die streek se liefde, boerdery, gesegdes en anekdotes. Sy tweede bundel, getitel Die predikasies van Jacob Oerson (1993), bied ’n ruim register van temas en sentreer onder meer rondom Ou-Testamentiese simboliek. Jacob Oerson is ’n prototipe van Moses wat geroep is om sy Griekwa-volk uit hulle ellende na die gebied oorkant die Oranjerivier te lei. ’n Viertal preke van Jacob Oerson word deur middel van die volksidioom gekommunikeer en Griekwa-plesiertjies vind uitdrukking in volksryme en -liedjies. Sy derde bundel, Maagmeisie (2003), is op sy beurt ’n epiese gedig in Griekwa-Afrikaans vir verskeie sprekers of stemme; dis ’n vers wat handel oor die belewenisse van ’n Griekwa-meisie ná haar inisiasie. Deacon se voortgesette laatwerk betrek voorts Duifiedorings (2019), ’n bundel kontreipoësie.

...
minjonet en bitterbos is ’n bundel wat wemel van heerlikhede en getuig van ’n vermoë tot raak segging, opwindende metaforisering, vars perspektief en knap verbandlegging.
...

Die Afrikaanse letterkunde het ’n ryk tradisie van taalvariëteite, streekstaal en die diversiteit van kontreikuns. Die stem van die volksdigter het in poësie nog altyd ’n belangrike plek ingeneem.

In 1963 het Van Wyk Louw, met verwysing na die vernuwing wat die Nederlandse Vyftigers gebring het, voorspel dat die Afrikaanse poësie naas vormvernuwing ook sal groei in “die vuurtjie op die werf, die oesland, die volk se dans, toor en godsvrees”. In die laaste meer as vyftig jaar het Afrikaans se poësiedokumentering die eiesoortige tongval van verskillende streke getoon – ’n mens dink byvoorbeeld aan Louw sélf in Klipwerk; Boerneef, Adam Small, George Weideman, Ronnie Belcher, Donald W Riekert of Nathan Trantraal, om enkeles te noem. Maar dit vorm meer as net kontreikuns: Die volkstem het met verloop van tyd ook ’n trotse ars poëtikale bewussyn uit eie reg geword.

Die toonaard van minjonet en bitterbos is nostalgies en berig oor ’n vertroude tipe kennis en ervaring van die streek en sy mense; die oproep van gedeelde en bekende intiemhede en ’n terughunkering na ’n vergange wêreld, amper anachronisties in die tydsgewrig waarin ons leef, én inderdaad vreemd aan stadsbewoners. Deacon se poësie voed op ouwêreldsheid, lokaal-gemoedelike realisme en heimwee.

Die digter se Griekwa-Afrikaans is ’n onderverdeling van Oranjerivierafrikaans – ’n dialek wat ontwikkel het met die invloed van Khoi-tale en -dialekte wat in die Namakwaland en Griekwalandwesstreke gepraat word.

Die bundel is in drie dele gerubriseer, naamlik “vlug”, “minjonet en bitterbos” en “troosbossies”.

Die eerste afdeling is opgedra aan “die ou nama-moeder, siena joseph van pella (1893–1988)”. Hierdie kort afdeling kan gelees word as ’n soort outobiografie van dié ou Nama-moeder en sy is ook die spreker in die gedigte. Die spreker vertel van swaarkry en verlies, byvoorbeeld op bl 13 in “die Duitse oorlog” wat die pynlike diaspora van die Tweede Wêreldoorlog bekendstel. Die verse getuig van patos:

gebed

elke nag as’ie maan dunlyf
innie swartlug sit
gaan’ie vrou met’ie baie tjenners
by’ie vyebos bid: Oubaas,
Oubaas weet mos lat ek ammelee
met hierdie diklyf sit
nou vra ek, Oubaas
gee lat ek soos u maan word
wat katnael deur’ie swart lug seil
samblief, my Oubaas
lat’ie boesmanland se lewe
dunskyf sny
deur hierie afgoilyf van my (16)

Die verse word gekenmerk deur klankverletterliking, fonetiese spelwyse en idiomatiese taal, soos dit tipies in die Namakwalandse streekstaal voorkom. 

Die meedoënloosheid van die siklusse van die lewe en onafwendbare dood word met dankbaarheid verbeeld. Dalk is die enigste metaforiese “weelde” wat hierdie arm werkers het, hulle dankbaarheid en verknogtheid aan die landskap waarin hulle tongval beslag vind.  

In die tweede afdeling, “minjonet en bitterbos”, vind die verse uitdrukking in Standaardafrikaans. In die titelgedig, “minjonet en bitterbos” (21), word die welriekende blom, die minjonet, gejukstaponeer met ’n bitterbos – die vers berig oor die dood van ’n kind, “’n papgedrukte soetlemoen / bloeiend in die sand” (21). Die voorstelling van vitaliteit as soet of welriekend teenoor die bitter en geharde aard van die bitterbossie word aangebid as analoog van die lewe. Soos met die vorige gedigte dien die kontrei met sy fauna, flora en dierelewe as metaforiese inkleding in die verstaan van lewensprosesse. Herinneringsverse oor die Boesmanland kom voor, ’n soort nostalgie wat met die sangerigheid van rym in die hand gewerk word. In “afskeid” (39) verras die spreker met ’n intertekstuele verwysing na Marais se “Diep rivier”:

afskeid

vandag wil ek by jou kom nagmaal vier
met woorde op my wit papier
ek lig my glasie hoog bokant ou grootrivier
waar vredesduiwe stippelwit
kantel uit die blou saffier
wegbreek oor die groen waar prieska
klip en sand en witgatbome soen
’n eenstaankerkie kraakvloer op ons wag
om nagmaalsbroodjies te kom breek
luister na die wind wat om die hoeke huil
as ons in mekaar se arms skuil
rooiwynwoord ’n laaste maal
voordat dieprivier ons twee kom haal.   

Die laaste afdeling, “troosbossies”, bevat kort gedigte wat aan volksliedjies herinner en sluit aan by die werk van Boerneef, George Weideman en Hans du Plessis. Hierdie volksliedjies word gekenmerk deur hul melodiese aard en strenger voorkeur vir metrum, klank en herhaling wat so eie aan dié liedjies is. Sulke kort verse bekoor in hul aardse eenvoud, maar op die lange duur word hierdie stylaard té voorspelbaar en vervaag die verse in eenselwigheid. Die heel laaste vers in dié afdeling en in die bundel sinspeel ironies op die digter-spreker se eie afsterwe:

winkvinger

ek wil kom kuier, pa
maar ek struikel oor die sterre
verby die oog van die maan
waar jy winkvinger staan (74)

minjonet en bitterbos is ’n bundel wat wemel van heerlikhede en getuig van ’n vermoë tot raak segging, opwindende metaforisering, vars perspektief en knap verbandlegging. Die aanbod verse is geklee in outentieke streeksvariasies, en soos dit meermale die geval met kontreikuns is, is daar raakvat- poëtiese segginge en taaljuwele uit hierdie bundel te lys, byvoorbeeld: “tot honger virre stukkie kos / jakkalstjankies uit jou maag laat los” (11); “waar oë nie meer kan opkyk na die berge / en mis soos witwol oor die boggels stort?” (24); “met uitgestrekte hande / ’n reënwolk uit die blou kombers / oop kon bid” (52); “die maan hang skrefie soos ’n pouveer / aan die rand van namakwaland / se hoed” (54).

Op die agterflap verneem die leser: “Die bundel sentreer om ouer word, die jeugdige energie wat daarmee afneem, ’n herbesoek aan dit wat was en ’n skrynende begeerte daarna.” Inderdaad – en in hierdie bundel is daar geen onnodige verliteratuurdheid nie; die digter laat die kontrei en sy mense in hul ongekunstelde toonaard spreek (of sing). Herinneringsverse word gedryf deur nostalgie, maar die spreker vermy betyds die slaggate van selfkoestering deur van verskillende “stemme” gebruik te maak (Siena Joseph van Pella; die Standaardafrikaans-spreker, en die geestige volksliedjies). Die digter sluit aan by ’n lang tradisie van digters: ’n verwysing na die minjonet kom byvoorbeeld allereers voor in AG Visser se “Rosa Rosarum”:

Kom in die aand en geniet van haar geure:
Foelie, jasmyn, angelier, minjonet;
Kom in die môre en kies van haar kleure:
Rooi, wit en goud, groen en blou, violet!

Dit is jammer dat Thomas Deacon se stem stil geword het – maar hierdie swanesang laat reg geskied aan die oeuvre van ’n digter wat nog lank in die hartsaal van menige leser sal bly sing.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top