This is not a burial, it is a resurrection: ’n filmresensie

  • 0

This is not a burial, it is a resurrection
Met Mary Twala en Jerry Mofokeng
Regisseur en skrywer: Lemohang Jeremiah Mosese 

Trek jy sekere Hollywood-rolprente uit die hoed, hoe goed sommiges ook al, sien jy hulle eksperimenteer soms met stilte, of word stilte, soos in die vervolg op A quiet place, as ’n blote foefie gebruik. (Hitchcock was hier die meester.) Dis soos om na ’n kulkunstenaar te kyk en dwarsdeur sy kunsies te sien. Daarom is hierdie plaaslike rolprent uit Lesotho so ’n klein belewenis wat sielsverrykend is asof jy water uit ’n skoon Lesotho-fontein drink en die oorblywende druppels op die kroontjie van jou kop drup.

Stilte (in film) word gebore uit respek vir die hoofkarakter(s) se tragedie, innerlike landskap, siel, menswees en dilemma, en weerspieël die anderwêreldse, byna goddelike stilte wat deel is van Afrika se fluisterstem. Is dit êrens so suiwer ingetoë stil en merkwaardig heilig mooi soos in die Lesotho-berge? Hier vertel mense se woordelose gesigte iewers (Buster Keaton se films kon dit ook doen) meer as in hierdie Lesotho-verhaal. Die stilte is die storie. Dis nie ’n grafstilte nie, dis ’n stilte van mededoë en respek.

Dit gaan oor ’n dapper 80-jarige moeder en vrou (die onvergelyklike Mary Twala is meesterlik) wat ná ’n tragedie ook nog moet toesien hoe haar geliefde geboortegrond, ook waar haar voorvaders begrawe is, eersdaags onder ’n dam  gaan verdwyn. Want die prys vir vooruitgang, veral vir die aangrensende korrupte Suid-Afrika, is dikwels die moeitelose wegvee van tradisie en die menslike element vir die grypende hande vir dertig silwerlinge sonder die soen.

Filmplakkaat: Ster-Kinekor

Hierdie rolprent beeld aanvanklik Mantoa (Twala) se stom verbystering uit wanneer sy die nuus ontvang, en daarna haar inkubasieperiode, nogal soos ons nou in die Covid-tyd ervaar – gedwonge afsondering.  Sy sluit haar in haar eenvoudige hut toe en rou na binne sonder om ’n traan te stort. Die trane loop hier binne. Sy rou nie net oor die dood van die mense naby aan haar nie, maar oor die disrespek teenoor die gestorwenes wie se beendere verskuif sal moet word voordat die water dit insluk.

Die kinematograaf, Pierre de Villilers, se kamera interpreteer nie namens ons nie, dit neem waar en belig subteks subtiel met die gebruik van kleur, spanning tussen voorwerpe in ’n raampie met hul betekenis (mise-en-scène) en komposisie.

Een van die mees onvergeetlike tonele (en daar is meer as een) is dié van die hoofsaaklik stom ou dame wat teen ’n blou agtergrond voor haar uitstaar die ewigheid in asof sy na die hemel kyk. Stoïsyns, hartseer, vermoeid op 80, maar vasberade. Sy kan nie die stootskrapers en kragdrade met haar kaal hande beveg nie, maar wanneer haar tong herlewe, kan sy met die hoofmanne en vriende praat om ’n ander soort stryd te voer. Weerbarstig, dapper, lewendig. In plaas van gaan lê, is dit die stil vervreemding wat begin intree met die landskap en die tragedie, en die aanvaarding van die onafwendbare wat nié ’n siel of gees kan knak nie, wat tot ’n heropstanding lei. Dis herinneringe, geskiedenis, die bydrae van hierdie mense tot haar kultuur, wat besig is om in haar te herlewe.

Fellini het altyd gewaarsku (en Katinka Heyns het dit ook genoem) dat ’n kinematograaf en regisseur/skrywer nooit sodanig op ’n landskap verlief moet raak dat dit ’n blote gespog word met “kyk hoe slim is my kamera” nie. Mooi prentjies, behalwe in Terrence Malick se films, is dikwels ’n storie se grootste vyand, want dit raak self-bewus. Vergelyk dit met die verlate doodse landskap in Nomadland wat dieselfde doen. Die natuur fluister onder die beelde.

Die natuur moet integraal deel wees van die siel van die mens en die rolprent. Dit is in hul are, hul derms, hul liggame, en dit is hierdie element wat Pierre de Villiers so uitstekend oordra in This is not a burial, it’s a resurrection.

Maar alle lof moet natuurlik gaan aan die hoogs rolprent-literêre Lemohang Jeremiah Mosese wat bedaard en met groot respek regisseer. Hy neem waar, maar oordeel nie. Lig net die tragiek op stil, gedempte wyse uit die situasie, streel met genade daaroor, en beklemtoon op filmiese wyse, met die minimum dialoog of selfs klank, dat hierdie mense lewend begrawe word, maar dat ’n opstanding van herinneringe en die bydrae van die dooies tot die gemeenskap wag.

Interessant, die 89-jarige Mary Twala is feitlik daagliks deur verskeie spanne die berg op geneem om haar tonele daar bo, waar geen infrastruktuur of paaie is nie, te verfilm deur haar om die beurt teen berge op te abba en dan weer af te abba, wat dikwels ’n hele dag geneem het. Dit is toewyding. Dit wys Afrika-film op sy eenvoudigste, sy eerlikste, sy mees respekvolle, en met ’n heilige ontsag vir sy onderwerp.

So ’n kort resensie kan nie reg aan die fynere besonderhede van hierdie meesterlike rolprent laat geskied nie. Elke rolprentganger sal op ’n ander manier daardeur verryk word. Dit gee ’n mens weer moed in ’n bedryf waar Stoute Boudjies en Kaalgat-manewales deel vorm van die titels van die oorgrote meerderheid films wat alreeds gemaak is of nog in aantog is. Waar is Katinka Heyns wanneer ’n mens haar nodig het?

Bravo. Hierdie ragfyn streel oor die siel is ’n meesterstuk van eenvoud, aanklagte, liefde en dapperheid. Briljant.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top