These are the things that sit with us: ’n medewerker se indrukke

  • 0

Fanele, die druknaam van Jacana wat hierdie boek uitgee, se logo is in ’n blokkie op die agterblad soos volg geskryf: "Fanele (Zul;Xho;Tso): necessary. This is a necessary book."

Dit is. Noodsaaklik. Veral in hierdie tyd waar dit soms voel asof ons interaksies met mekaar gebaseer is op wantroue, en ons verby mekaar lewe.

These are the things that sit with us is ’n mooi boek. Visueel mooi, bedoel ek. Koffietafelboekmooi. Die voorblad en die foto’s in die boek is geneem deur twee jong en talentvolle fotograwe, Noncedo Gxekwa en Botswele Mogotlane.

Studies in Historical Trauma and Transformation is ’n navorsingseenheid verbonde aan die Universiteit Stellenbosch wat, soos wat hul naam aandui, hulle besig hou met historiese trauma. (In die res van die rubriek verwys ek bloot na die eenheid as Historical Trauma.) En in die Suid-Afrikaanse konteks kan daar nie eintlik ’n gesprek oor historiese trauma wees sonder om apartheid daarby in te sluit nie. Hierdie eenheid het, in samewerking met die Institute for Justice and Reconciliation, ’n navorsingsprojek aangepak waar hulle onderhoude met ’n wye verskeidenheid mense gevoer het oor hul ondervinding van apartheid.

“The impetus for this book was the more than 60 stories that were documented in Bonteheuwel, Langa and Worcester as part of the 'Trauma, Memory and Representations of the Past' research project that examined, through interviews, the immediate and intergenerational repercussions of historical trauma and traumatic memory in the context of post-apartheid South Africa.” So word dit reeds in die erkennings reg aan die begin van die boek verduidelik.

Natuurlik kon nie al die stories gebruik word nie. Dis eenvoudig te omvangryk. Sommige mense het nie toegestem dat hul stories gepubliseer word nie.

Historical Trauma het drie navorsingsgebiede identifiseer: Bonteheuwel, Langa en Worcester. Hierdie drie was geografies en demografies verskillend genoeg dat  die navorsers nie nodig gehad het om hulle te bekommer oor resultate wat skeefgetrek word nie. Uiteraard, narratief as navorsingsmetodiek werk aansienlik anders as ander maniere van inligting insamel.

Onderhoudsubjekte het hul verhale in Engels, Afrikaans en Xhosa vertel aan opgeleide navorsers. In die boek word elke verhaal in al drie tale aangebied, maar heel eerste in die verteller se huistaal. Daar was opvolgonderhoude met almal gedoen, en voordat die verhaal geplaas is, was finale bevestiging en goedkeuring deur die navorsingsubjek verskaf.

Die boek voel egter nooit soos ’n navorsingsprojek wat gepubliseer word nie.  Dis aangebied in toeganklike taal, die leser word deel van die ervaring en kan saam deel in die gevolgtrekkings waartoe die projek kom.

Aan die einde van die projek, nadat al die individuele onderhoude en groepswerk voltooi was, het Historcial Trauma my genader om deur die onderhoude te werk en my refleksies neer te pen. Ek verklaar dan ook hiermee my belang. Ek is nie ’n onpartydige leser nie. Daarom is hierdie ook nie ’n resensie nie.

Dit was ontstellende leesstof. Dis aangrypende leesstof. Soos wat ek gelees het, kon ek die mense se stemme in my verbeelding hoor. Ek het geweet hulle almal lewe nog. Dis nie stemme wat uit ’n ander era roep nie. Ek het geweet ek lees die ervaringe van mense wat almal binne ’n radius van 60 kilometer van my lewe, op die presiese oomblik dat ek deur hulle woorde werk.

Ons dink ons weet van apartheid, ons dink ons weet wat destyds gebeur het, maar totdat ons mense in hul eie woorde hoor vertel wat hulle toe ervaar het, dan wéét ons nog nie. En ons besef nie altyd dat die trauma voortleef lank nadat die fisiese oorsaak van die trauma gestop is nie.

Vandaar die titel. These are the things that sit with us. In die teenswoordige tyd. Ons vergeet dat daar nagevolge is. Van die persone met wie onderhoude gevoer is, het eers grootgeword nadat apartheid as sisteem afgetakel is, maar ook hulle leef met die trauma saam.Hulle dra aan die historiese bagasie.

Dit was vir my ’n besonderse voorreg om as medewerker by hierdie boek betrek te word. Ek vermoed dat, wanneer ek aan die einde van my skryfloopbaan terugkyk, die seweduisend woorde wat ek hier gelewer het, van die belangrikste sal wees wat ek geskryf het.

Dis ’n boek wat elkeen wat ons land en sy mense wil verstaan, behoort te lees.Dit sal jou nie onaangeraak laat nie. Dis beslis nie die tipe boek wat jy op ’n Sondagmiddag as ontspanning lees nie.

Maar dit is ’n necessary boek. Dit dra by tot wat ons van apartheid verstaan. Dit dra by tot hoe ons ons medemense verstaan.

En hopelik dra dit by tot ’n gesprek wat ons almal se onverklaarde trauma, die dinge wat nog steeds aan ons kleef, na die oppervlak kan bring.

Ons het dit broodnodig.

Koop die boek. Lees dit. Bedink dit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top