There are more questions than answers: Joan Hambidge in gesprek met Madri Victor oor Palindroom

  • 0

Die woord palindroom verwys na ’n woord of sin wat dieselfde van voor of agter gelees kan word. Die leser dink dadelik dat mens hier te doen het met twee boeke, Palindroom en Koesnaatjies vir die proe, wat so van agter na voor en van voor na agter gelees word. Maar die titel lewer ook kommentaar op die roman self. Hoe skakel jou titel met die drieluik-verhoudings tussen die Mentor, die Mentee en die Geliefde?

Alles in die literatuurteorie het te make met die drieledige verhouding tussen skrywer/teks/leser. En by Freud is daar die spanning tussen Superego/Ego/Id. By Lacan is die betekenisvorming eweneens drievoudig – met die Ontglippende Reële wat alles determineer. Die spanning tussen die Verbeelde en die Simboliese word beheer of beperk deur die Reële. Alles het te make met Verlies of die ervaring van Verlies/Afwesigheid/Displacement.

Petra Müller beskryf Palindroom as ’n “denkende en skrywende teks”. Dit is inderdaad ’n teks wat nie net oor die skryfdaad besin nie, maar ook oor die verhouding tussen ’n mentor en mentee – wat albei skrywers is. Wou jy doelbewus kommentaar lewer op die skryfproses en veral daardie ingewikkelde verhouding tussen ’n mentor en mentee?

Absoluut. Die boek het ontstaan uit ’n werklike e-posverbintenis. Ons het verskillende munte van dieselfde psigiese proses ondersoek. Ons beide se private lewens is gekaap – nee, eerder gevampiriseer – deur die openbare dimensie wat die binnelewe gekaap het.Dit was ’n driftige en helende gesprek.

Jy is self mentor vir jong skrywers. Wat is die uitdagings van só ’n verhouding?

Die teks lewer kommentaar op hierdie komplekse proses. Ek doseer kreatiewe skryfwerk, ’n moeilike en ingewikkelde kursus waar jy self die bakens moet vaslê. Die mentor/mentee-rolle ruil ook hier voortdurend om. Ek leer net soveel van my studente as wat hulle van my leer. My bundel Vuurwiel, wat volgende jaar verskyn, is in hierdie kursus ingegooi saam met studente se werk. Studente kan my ook kritiseer. Dus ’n wedersydse kritiese gesprek. Ek breek die outoritêre posisie af van die leermeester. Lacan het hierdie proses met sy analisant uitgespeel.

Boonop leer ’n mens altyd van studente: musiekstudente wat my van jazz leer; ’n ballerina wat vir my verduidelik hoe die trompe l’oeil-beginsel in dans werk; ’n pianiste wat kan verduidelik watter oefening daar van ’n klavierstudent geleer word, en so meer. Of ’n skilder/pottebakker wat weer fabrieksgeheime uit ’n ander bedryf oordra.

Dis fassinerend hoe studente mekaar beïnvloed en hoe temas inspeel, uitspeel. Ons vergader Vrydae van drie tot ses. Met ’n gedig en ’n essay oor ’n digter.

Ek leer hulle om ’n villanelle te skryf, of ’n rondeel; soms ’n pantoem. Al die klassieke vorme word as vingeroefeninge ondersoek. Hoe jy in/uit jou self moet beweeg.

[Links: Escaping Criticism by Pere Borrell del Caso, 1874]

In Palindroom is daar ’n magdom intertekste: Jung, Sexton, Borges, Derrida, Sartre, Lacan, en tekste soos Ulysses, Madame Bovary, Lolita – om maar net ’n paar te noem. Hiermee verkry Palindroom as ‘t ware laag op laag betekenis. Lê jy doelbewus vir die leser só ’n spoor van kruisverwysings en intertekste?

Daar is ’n foto van Borges in die teks.

Die labirint is waarskynlik die sentrale metafoor.

Hoe jy die spore of aanwsyings kies, sal jou lesing bepaal. As jy fokus op Borges, sal jy by ’n ander lesing uitkom as die een wat fokus op Nabokof se Lolita.
Dit maak die lesing eiesoortig of uniek.

As jy eerste met die gedigte begin, sal dit eweneens jou ervaring van die leesaksie bepaal.

Die boek is waarskynlik ’n illustrasie van hóé ’n mentorsverhouding "gebeur". Die roman is ’n distillaat van ’n lang en werklike gesprek per e-pos (hoofsaaklik). Die mentee is op haar beurt besig met ’n kortverhaalbundel wat weer ’n ander blik op alles mag en sal gee.


Nabokof se Lolita staan veral uit as interteks in Palindroom. Wil jy iets daaroor verduidelik?

Ek beskou dit as een van die grootste romans van die 20ste eeu. Dit is ’n boek wat ek elke jaar herlees en ek staan altyd verbyster voor al die verwysings en verswygings in die roman. Ek vind die filminterpretasie van Stanley Kubrick eweneens tersaaklik. Ek het elke Nabokof-roman verslind. Daar is iets in sy skryfwerk wat my aangryp – net soos in die werk van Saul Bellow, ’n skrywer wat ek eweneens herlees. Herzog met al sy verwysings was waarskynlik ’n verswygde stimulus vir hierdie roman.

Daar is ook baie verwysings na films en musiek. Beïnvloed die films wat jy sien en die musiek waarna jy luister, dít waaraan jy skryf op daardie oomblik?

Absoluut. Ek kyk tans ou klassieke rolprente vir my filmrubriek in Die Burger. Wanneer ek skryf, vermy ek oorweldigende musiek, maar ek luister na CD’s van ’n vreemde taal. Om my brein op ’n simboliese vlak besig te hou. Hoekom vra ons op Frans iets so en in Spaans bykans-bykans net so?

Die e-pos-verhouding in Palindroom fassineer my aangesien die leser nooit ’n fisiese beeld van die Mentee (of die Geliefde) voorgehou word nie en tog word ’n hele werklikheid deur die e-posse geskep binne die abstraksie van die kuberruim. Dit laat jou soms wonder wat presies werklikheid is en wat verbeel word. In watter mate word daar in Palindroom ook oor die skep van werklikheid en realiteit bespiegel en kommentaar gelewer?

Facebook, die internet, e-posse: dit wys hoe magtig die kuberruim geword het en dat ’n mens ’n intense verhouding met iemand kan bedryf sonder dat jy hulle in lewende lywe hoef te sien. Jy beleef ook die essensie; weg van die geklodder en gesleur wat verhoudings dikwels laat skipbreuk ly.

In Palindroom kry mens ’n ingewikkelde en interessante spel tussen skrywer en leser – op storievlak en in werklikheid. Net soos die leser dink hy/sy het die verhaal onder die knie, duik daardie slotte op waaruit die leser dan moet kies. Soos die Engelse sê: What’s up with that?

Ek waarsku jou: dis ’n post-postmodernistiese verhaal. Loop werklikheid en fiksie regtig enkelvoudig saam? Of kan ’n mens iets skryf wat die werklikheid kan verander?

Draai mens nou die boek soos ’n speelkaart om (net soos die hartensvrou op die omslag) kry jy Koesnaatjies vir die proe, “speelse, spulse en stukkende verse”. Voor ek by die verse kom, verduidelik gou net eers die titel.

Die dubbele omslag verwys na die Tarot. Na bo en na onder verander/verskuif betekenis. ’n Koesnaatjie is ’n vetplantjie.

Die titel wou met opset suggestief en dubbelsinnig wees.


Wil jy iets sê oor daai speelse, spulse, stukkende verse?

Hoe ouer ek word, des te meer is ek onder die indruk van hoe stukkend die lewe is. Ek wou met die onderskrif ook verskillende toonaarde van die verse uitwys: speels (grappig), spuls (jags) en stukkend (gebroke). Die verse is parodieë in die wydste sin van die woord: dit speel in op die tegnieke en tradisie van die lesbiese vers, wat in Afrikaans maar skraps is.

Na aanleiding van ’n gedigtitel vind ek Koesnaatjies nie net ’n “karnaval van die liefde” nie, maar ook ’n karnaval van die lyflike. En soos Dante word die leser deur al die sirkels van smagtings en “sondes”, van straight en gay, van foreplay en die hele show gelei. Hoe moet die leser sy/haar weg hierdeur baan? (Of anders gestel: Wat/wie is die leser se Beatrice?)


Jy moet maar self jou eie Beatrice kies of jou eie verbeelding gebruik.

Onder al die speelsheid en parodie vind ek dat daar ’n onderliggende broosheid in die verse van Koesnaatjies is. Sê dit nie ook iets van die posisie van digter nie, dat die maak van poësie soos ’n speelkaart maar altyd tweeledig is, of ’n onderliggendheid daaraan het?

Absoluut tweeledig. Twee kante van dieselfde munt of kaart. Die tweesnydende swaard van my menswees.

Laastens, so ’n speelse vraag: Is Joan, behalwe “kwajong, die breker, die raasbek, die grensoorskryder” (sien Petra Müller se resensie van 19/04 in Rapport) ná Koesnaatjies ook nou die “queen of hearts”?

Nóú?

Het jy gevra nóú?

NÓÚ?
Gister eet ek lunch saam met ’n vriendin en haar beste vriendin. Agterna sms my vriendin (kondisie straight) dat haar vriendin laat weet as ek ’n man was, sou sy vir my gegaan het.

Toe laat weet ek speels: maar ek ís mos ’n man!

Ons moet wegkom van ons eng, angsbevange, bibberende geykthede oor gender. Dis wat ek met Koesnaatjies wou regkry! En my roman Kladboek (Protea) is aans met ons …

[Bo: bron]

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top