
...
Die versugting dat geen mens die omvang van ’n ander se leegheid kan begryp nie só gepas
...
The Visigoths
Met: Nicholas Pauling en Daniel Newton
Teks en regie: Louis Viljoen
Produksie-ontwerp: Kieran McGregor
Masambe-teater, Baxter-sentrum, Rondebosch
8–24 Junie 2023 om 19:30
Kaartjies teen R170 deur Webtickets
Meer inligting by www.thevisigoths.co.za
Die toneelstuk open, versluier agter ’n gaasgordyn. Roth (Nicholas Pauling) is pas uit die tronk vrygelaat en keer terug om sy ma te kom begrawe. Hy staan agter ’n tweede gaasgordyn in die verste hoek van die verhoog by ’n klein, hoë tafeltjie met ’n waskom op. Hy is doenig met water en was, terwyl hy meer met homself as die gehoor praat. Hy sê dat verval op homself teer soos ’n parasiet. Dat sommige onkruid ander onkruid verteer en dit soms net een onkruid verg om die wêreld te laat donker word.
“Ek is ’n barbaar,” verklaar hy. Die stuk se naam dus heel gepas omdat die Visigoths die barbaarse militêre groep van die Romeinse Ryk tussen die 3de en 5de eeu was.
Hy worstel innerlik. Sy ma het hom steeds “seun” genoem – “ten spyte van wat ek gedoen het. Dit het my gebreek en ek lek nog steeds.”
Na afloop van die begrafnis wag Theo (Daniel Newton) hom by die huis in. Theo is die jong man wie se lewe hy jare tevore gered het. “Jy het my lewe gered, maar nie genoeg daarvan nie. Ek het meer nodig,” is ’n onheilspellende inleiding tot wat kom.
Roth het ’n ruwe rooibruin baard en sy hare is lank, agter sy ore ingekam. Hy lyk afgemat en uitgemergel deur 10 jaar in die tronk. Theo is jonk en voortvarend en sy deurmekaar hare en té kort broek maak dat jy hom vinnig jammer kry.
Die stel is eenvoudig, karig. Daar is ’n wit poeieragtige stof op die vloer, stoele en tafel. Dit kan jare se toestaan wees; dit kan jare se nie-omgee-omdat-my-seun-in-die-tronk-is wees. Hoe dit ook al sy, dit kleef aan alles; kleef onooglik af teen hul eenvoudige swart pakke.
Die muwwerige, effens klam ondergrondse teater dra by tot die versmorende inhoud van die teks. Die beperkte ruimte – beide op en van die verhoog – ’n kloustrofobiese hangkas waarin die lug stadig uit jou longe gedruk word soos die intensiteit van die dialoog toeneem.
Tesame met eenvoudige wit hemde bring alles die gevoel van ’n post-oorlog Noorse skerp strakheid na die verhoog. Of ’n gestrooptheid wat die kyker weerhou om die tyd en plek waarin dit afspeel te kan plaas, in ’n boks te sit.
Die onheil van wat met Theo gebeur het as jong seun – en dit waarvan Roth hom gered het – is universeel. Dit gebeur in elke uithoek van die wêreld, ongeag die jaartal op die vergeelde kalender teen die muur.
Theo se aanvanklike verduideliking oor sy teenwoordigheid is dat hy Roth wou ondersteun met sy ma se begrafnis, omdat niemand alleen deur só iets moet gaan nie, dié pad alleen moet stap nie. Roth sê egter dat hy haar alleen begrawe het, dat Theo verkies het om ’n getuie – op ’n afstand – te bly.
Aanvanklik is dit onduidelik of hulle kennisse of vriende was; dalk selfs geliefdes, want Theo se bewondering vir Roth is duidelik. Hy wonder of Roth wyser uit die tronk gekom het, waarop Roth antwoord: “Daar is nie iets soos tronkwysheid nie: Niemand kom wyser daar uit nie.”
Maar dan rig Theo ’n onmoontlike versoek en Roth weeg die gevolge as hy die versoek sou uitvoer. Sy teenversoek plaas Theo in dieselfde onmoontlikheid as waaraan hy Roth aanvanklik onderwerp het.
Wat volg is ’n ontstellende gesprek oor die dieptes wat ’n mens se wraakgedagtes kan neem, die onwaarskynlike oomblikke van genade in ’n wrede wêreld en die besluite wat ’n mens se siel in gevaar stel.
Die selftwyfel en gepaardgaande veragting van die slagoffer in die verhaal dryf die begrip oor hoekom baie nie praat oor hul misbruik nie diep in jou siel in. Die beskrywing van ’n wit leegheid wat as ontsnapping kon dien, ’n vuishou in die maag.
Die versugting dat geen mens die omvang van ’n ander se leegheid kan begryp nie só gepas.
Dis geweldig moeilik om van die ongelooflike digte teks weer te gee sonder om te veel van die inhoud te verklap. Weet net dit, die 18 jaar-ouderdomsbeperking is daar vir ’n rede. Die temas van geslagsgeweld, kinders as prooi vir ryk mans, moord en vergelding word in Louis Viljoen se kenmerkende oopgekloofde eerlikheid vertel.
Kyk, die persvrystelling het gewaarsku: Hierdie stuk is nie vir sensitiewe siele nie. So ook die kennisgewings by elke deur en venster in die klein teater. Die uitmergelende dialoog tussen die twee mans laat jou ore suis. Mense het uitgeloop by die eerste geleentheid wat daar was.
Viljoen se skryfwerk, wat onlangs deur die radio-omroeper John Maytham beskryf is as “een van Suid-Afrika se opwindendste dramaturge” wat bekend is vir sy skrikwekkende intimiteit in sy tekste, sleur jou mee. Dit laat jou voel of jy in ’n reuse-wasmasjien beland het en net sodra jy dink jy kan opkom vir asem, is die verstikkende gemaal weer daar.
Marianne Thamm loof Viljoen vir sy “skalpel-swaaiende skryfwerk” wat “vervelige Engels in vorm skop”. Sy snydend-eerlike teaterstyl het al na vore gekom in stukke soos Champ, The Pervert Laura, The Kingmakers, The Hucksters, The Outlaw Muckridge en The Grass Widow.
Pauling (A Steady Rain, Champ, The Frontiersmen, The Hucksters, Dinner With The 42’s, The Rangers) het al verskeie male saam met Viljoen gewerk. Hieronder is Champ, The Frontiersmen, The Pervert Laura en The Hucksters.
Ek moet saamstem met die resensent Beverley Brommert dat Pauling een van die min akteurs is wat die geartikuleerde dialoog van ’n Viljoen-teks goed bemeester.
Tog, hoewel Newton (Delela, Shadow Boxing) ’n nuweling is as akteur, onder regie van Louis Viljoen is die vonk daar. En Newton is ’n teaterkrag in eie reg: Sy eerste teks – waarvan hy ook die regie behartig het – The Rangers het goeie resensies gekry vroeër vanjaar. Hy het ook die Fleur Du Cap-teatertoekenning ontvang vir sy spel in die eenmanvertoning, Shadow Boxing.
Viljoen werk vir die derde maal saam met die ontwerper Kieran McGregor vir die treffende stel. Hulle het voorheen met The Grass Widow en The Eulogists saamgewerk.
Die toneelstuk se sukses lê in hierdie samewerking en wedersydse respek: ’n Uitstekende teks (ja, dis erger as wat jy kan voorstel en dis dig, moeilik en intens, maar dis uitstekend); uitstekende spel, stel- en venue-keuse. Die akteurs gee hulself met volle vertroue oor aan die regisseurshand waar hulle soos sagte klei gevorm word.
- Foto: Claude Barnardo, plakkaat: Barbara Loots

