Hierdie tragedie van Shakespeare word nou vir die eerste keer in dié byna legendariese Shakespeare-tuiste opgevoer.
Maar op 26 Augustus 1969 het Cobus Rossouw die hertog van Gloucester en latere koning Richard III vir die eerste keer Afrikaans laat praat in die Hofmeyr-teater in Kaapstad. Hy en spelers soos Jannie Gildenhuys, Johan Malherbe, Sandra Kotzé, Nerina Ferreira, Wena Naudé en Tine Balder het André P Brink se vertaling vertolk. Human & Rousseau het die vertaling in dieselfde jaar gepubliseer.
Ons ouer generasie onthou Cobus Rossouw nog as daardie donker, wanstaltige Gloucester wat van homself gesê het:
Verwronge, gans onklaar, en voor my tyd
In hierdie ademende wêreld ingedwing,
So kreupel en afsigtelik boonop
Dat honde by my koms begin te blaf ...
Gloucester is soos DJ Opperman se ou Skewe Koen in “Blom van die baaierd”:
As gebreklike het ek gelees of eens hoor sê
dat in die wêreld daar tog vrouens is
wat selfs ’n skewe liggaam lief kan hê,
maar ek het my in haar steeds misgis,
en wie kan leef as hy nie langs ’n maat kan lê?
Gloucester sorg met velerlei manipulasies en kriminaliteit dat hy wel uitstyg bo sy benarde lewe. Hy word die verpersoonliking van “Vice”. ‘n Biograaf van Shakespeare, Peter Ackroyd, toon aan hoe dié Middeleeuse toneelfiguur “a prototype” van “villains such as Iago and Richard III” is. “He is the showman of the medieval theatre, who feigns tears or sympathy and who persuades or cajoles the actors into sin.”
So ‘n vrolike karnallie onthou ek nie van die 1969-opvoering nie.
Met die deurlees van die teks het ek onder die indruk gekom van hoe sterk dit werk met kardinale drama-elemente. Al die dramatiese ironie, die kontraste, botsings, die beeldspraak ontleen aan die natuur, en die Bybelse verwysings wat die booshede juis uitwys. Gloucester praat dikwels oor homself. ‘n Mens wonder dan of hy oordryf, of hy homself onder- of oorskat. Wat is ons en die verhoogkarakters se siening van hom? Wat is skyn? Wat is bedrog? Hoe werk sy boosheid? Gaan jy gru daarvoor? Is daar sielkundige verklarings?
Toe is dit die openingsaand.
Ek let op dat die verhoogstel maar eintlik bloot funksioneel is. ‘n Gelykvlak. Daar’s ‘n enkele brug waarop byvoorbeeld die “vrome” Gloucester tussen die geestelikes uittroon bo ‘n skare en daar afwisseling in die speelvlak verkry word. Die moderne ligte wat in ’n stadium daaronder aangaan, verhinder soms dat jy met gemak na die spelers se gesigte kan kyk. Die inkleding van die twee tenttonele met die veldhere in die slotbedryf moes tog meer verskil het? Die gedoentes met stoele en tafels vroeër moet blykbaar bydra tot die gedeeltelik komiese aanslag van die opvoering.
Op die openingsaand was daar ‘n tegniese ramp. Faniswa Yisa het as koningin Margaret so wild te kere gegaan dat daar fout met haar lyfmikrofoon ontstaan het. Sy’t gewoon aanhou praat. Jammer, in ry P kon ek net hoor sy gorrel iets. Die verhoogbestuur het darem seker nou ‘n noodmaatreël bedink. Ligte uitdoof, musiek indoof, speler wat afgaan vir herstelwerk?
Die musiek, gekomponeer deur Braam du Toit (uitgevoer deur wie?), het gefunksioneer soos filmmusiek om byvoorbeeld stemming te skep. Soms was spelers se spraak nie maklik hoorbaar daaroor heen nie.
Die eklektiese kostuumskeuse het my aandag dikwels afgetrek van die teksinhoude. Ek moes eers wonder oor die bedoeling van die gemengde style en in watter eeu mens jou bevind. Dalk in die toekoms. As ‘n jong prins in ‘n tragiese situasie ewe koeltjies ‘n donkerbril opsit, vermoed jy ‘n toegif aan die jeugdiges (vereenselwiging) of aan gehoorlede wat graag wil lag.
En nou oor die spel.
Toe Warrick Grier sy eerste woorde as Gloucester sê, begin mý “winter of … discontent”. Ek wanhoop. Gaan ons nou werklik die hele aand luister na en te doen hê met so ’n bejaarde, patetiese omie? ’n Vriend sê pouse dat Gloucester sukkel met sy kunstande. Ek het dadelik aan twee dramaturge se spraak op hulle oudag gedink, een reeds in saliger oorde.
In plaas van bogenoemde geskakeerde ervarings van sy krimineelheid klink dit asof die spraak as ‘n komiese effek bedoel is. Gelukkig het die openingsaandgehoor nie dawerend gelag nie. Net sulke vleugies hier en daar. In die oomblikke dat hy selfondersoek doen, klink hy so gemoedelik dat dit my koud laat; sommige ander lag hom goedig toe.
Die komiese hantering van die tragedie word byvoorbeeld voortgesit in die karikatuuragtige spraak van die moordenaars (Rob van Vuuren en Wessel Pretorius). Iets in die woordspelings tussen hulle en Clarence (Nicky Rebelo, na wie ‘n mens met genoegdoening kon luister), en die verwysing na die verskil in voorkoms en spraak, kon moontlik vir regisseur Lara Bye by hierdie aanslag uitgebring het. Wessel Pretorius laat die wreedaard Tyrrel ook stereotipies bulder.
Baie van die spelers praat amper eenselwig deklamatories. ‘n Mens besef egter dat Bye eenvoudig op so ‘n “genadelose” verhoog die spelers groot moet laat speel om tog oor te kom na die gehoor. Maar waarom het ons tog al in die verlede ontroerd geraak deur die magiese van Shakespeare, hier met die nagtelike hemel wyd bo ons, deurdat subtiliteite wel oorgedra is?
Was daar ‘n toneel dat ek emosioneel geraak is? Nee. Die naaste wat ek daaraan gekom het, was met die spel van Erica Rogers as die hertogin van York. By haar het ek gevind wat ek elders in ‘n mindere of meerdere mate gemis het. Sy praat Engels dat dit welgevallig op die oor is. Die uitspraak is Shakespeare se teks waardig. Jy voel aan sy bedoel wat sy sê. Daar’s ‘n erns tot die benadering van haar rol. Kate Liquorish (lady Anne) en Jennifer Steyn (koningin Elizabeth) toon ‘n aangename energiekheid en doelgerigtheid, en aan hulle spraak weet jy jy’s in Brittanje. Miskien was dit die bedoeling dat die dames se “beskaafder” spelbenadering met die “komiese” van die mans moes kontrasteer.
Op die openingsaand is die geselskap nie staande toegejuig nie.
Met Warrick Grier, Nicky Rebelo, Erica Rogers, Daniel Richards, Kate Liquorish, Faniswa Yisa, Wessel Pretorius en ander.
Regie: Lara Bye
‘n Aanbieding van Kunstekaap in die Maynardville-opelugteater vanaf 15 Januarie tot 22 Februarie 2014.
Bronne
Peter Ackroyd: Shakespeare. The Biography. Chatto & Windus, Londen, 2005, bl 98.
DJ Opperman: “Blom van die baaierd”, Versamelde poësie, Tafelberg, Human & Rousseau, Kaapstad, 1987, bl 218.
William Shakespeare; vertaal deur André P Brink: Richard III, Human & Rousseau, Kaapstad, 1969, bl 9.
Lees nog 'n resensie van dié toneelstuk.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

