Richard III vir die eerste keer by Maynardville

  • 0

Shakespeare se Richard III, wat gebaseer is op die koningskap van Richard III in Engeland, sorg nie vir ’n aand van ligte vermaak nie. Die teks self is ’n tour de force en ’n mens kan dus nie bekostig om ’n oomblik te dagdroom of fokus te verloor nie. Dit word sterk aanbeveel om voor die tyd ‘n bietjie te lees oor die toneel of om die program te koop, waarin ’n omvattende opsomming en behulpsame karakteruitleg voorkom. Dit is die eerste keer dat Richard III by Maynardville opgevoer word en nog daarby Lara Bye se debuut-Shakespeare-produksie waarvoor sy die regie doen.

Ten spyte van ‘n teleurstellende en redelik vervelige stelontwerp het die akteurs dit reggekry om die verhoog met hulle spel te vul. Die verskillende metafore teenwoordig in die produksie was teenstellend, met visuele verwysings na Japan, sterk Suid-Afrikaanse verwysings in aksent en karakter, en nog daarby “steam punk”-kostuumverwysings. Te midde van die 52 karakters wat uitgebeeld word, was dit baie oorweldigend om die uiteenlopende kultuurverwysings ook nog te moes probeer inneem en plaas.

Dit was beslis ’n uitdaging vir die 14 akteurs om 52 karakters te speel, maar dit was nie te alle tye suksesvol uitgevoer nie. Ongelukkig kon akteurs nie deurentyd ’n gedefinieerde verskil in verbale en fisiese karakterisering en verskillende energieplasings van karakters bemeester nie. Sommige akteurs het dit egter beter as ander reggekry.

Warrick Grier, as Richard III, lewer noemenswaardige spel en voer die gehoor van die begin af mee met die bose en aaklige karakter. Jennifer Steyn, wat koningin Elizabeth speel, het ’n baie kragtige uitbeelding van die karakter en al die onrus wat sy moet meemaak, gelewer. Ek wil ook graag erkenning gee aan die pasgegradueerde Daniel Richards, wat ten einde ’n vars en energieke lewering van Richmond gee.

Die toneel sluit op ’n hoogtepunt af en die burgeroorlog as grand finale is ook ’n visuele klimaks. Die produksie getuig van harde werk en in die geheel spreek Shakespeare se universele stem steeds oor die aard van mensdom wat oor eeue heen onveranderd bly.

Shakespeare III is tans te sien by Maynardville Open Air Theatre tot 22 Februarie. Kaartjies wissel tussen R110 en R160 en is beskikbaar by Computicket.

Lees nog 'n resensie van Richard III.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top